Die oujaar lê behoorlik op sy rug en die nuwe jaar, met al sy uitdagings, is hier! En dít beteken net één ding: Jou lysie Nuwejaarsvoorneme is gemaak. Nou net om daarby te hou. Hier's raad.

Helene Vermaak, kliniese sielkundige van The Human Edge, sê Nuwejaarsvoorneme fokus gewoonlik op jou gewig, verslawings, verhoudings, loopbaan en geld. Maar om daarby te hou is makliker gesê as gedaan! Volgens haar trap ons in 2 slaggate en daarom kan ons nie by ons voorneme hou nie.

1. Wilskrag: Die meeste van ons sukkel om van ou gewoontes ontslae te raak, omdat ons nie genoeg wilskrag het vir die hele proses nie. Vir die eerste paar weke oefen ons, eet gesond, spaar. Maar te vinnig swig ons onder die versoeking en gee dan moed op.

2. Towerstaf: Ons gryp eerder na kitsoplossings as om die harde werk te doen. Kitsdiëte, pille, noem maar op. Dít hou net ’n paar maande, maar langdurige verandering verg harde werk en wilskrag.

Wenke om by jou Nuwejaarsvoorneme te hou

1. Kies jou eie normaal

Besluit wat vir jóú normaal is en hou daarby. Skud die 'maar wat sal die mense sê'-houding af.

 2.  Kies ’n lyfwag

Kies ’n vriendin wat jou moontlik negatief kan beïnvloed en stel haar aan as jou "lyfwag". Deel jou doelwit met haar en sê vir haar presies wat sy moet doen om jou te help. Dit keer ook dat sy jou planne in die wiele ry.

3. Maak nuwe vriende

Maak nuwe vriende en vriendinne wat in jou én jou doelwit belangstel. Twee koppe is beter as een!

4. Bly weg van vrot appels

Sy beveel aan om vir jou ’n goeie ondersteuningsraamwerk te kry. Dié mense moet jou aanmoedig én jou oor die vingers tik wanneer dit nodig is. Vermy eerder vriende en familie wat jou nie ondersteun nie.

"Navorsing wys dat vriende en familie die grootste invloed op jou sukses het - ten goede of kwade," sê Helene. "Die groot geheim lê daarin om te weet rondom wie jy kan wees en wie jy eerder moet vermy."

Vir meer inligting, besoek The Human Edge of skakel hulle op 012 345 6281.