Die gru-verhaal van ’n man wat sy gesin vir 16 jaar lank gevange gehou het, het vandag (28 Mei 2014) se hoofopskrifte gehaal. Wat presies binne dié huis in Spings aan die Oos-Rand gebeur het, is nog nie heeltemal duidelik nie, maar dis ’n storie van marteling, mishandeling en dalk selfs verkragting, berig Beeld.

Ons gesels met Joelene Conradie, n kliniese sielkundige, en Grete Becker, ’n Imago-terapeut, oor wat moontlik nou vir dié 5 kinders voorlê. Imago-terapie is ’n tegniek wat spesifiek op verhoudings en die kommunikasie in ’n verhouding fokus.

Die storie

Die man, wie se naam weerhou word om die kinders te beskerm, is ’n 36-jarige pa en ryk sakeman. Hy het vermoedelik sy vrou en die 5 kinders  in die huis gevange gehou. Die 5 kinders, 3 dogters en 2 seuns, se ouderdomme wissel van 2 tot 16 jaar.

Die man se dade het op die lappe gekom ná een van sy kinders, ’n 11-jarige seun, ontsnap het om hulp te soek nadat sy pa hom met die dood gedreig het. Die bure, by wie die seun om hulp gaan aanklop het, was verbaas om te sien dat die man kinders het, want hulle het nog nooit kinders by die huis gesien nie.

5384a2bbaf9bb8a226000010 Die huis van gruwels - FOTO: Denzil Maragele (BEELD)

Nadat die seun aan sy pa terugbesorg is, is hy aangerand, in die plafon van ’n buitekamer versteek en later na ’n familielid in Noordwes geneem. Dis hier waar die polisie hom gekry het nadat hulle op die huis toegesak het. Lees die volledige storie in Beeld hier.

Kyk ook HIER na ’n video van hoe dié huis lyk

Wat sê die kenners oor die kinders?

SARIE.com het by kliniese sielkundige Joelene Conradie van Brackenfell gaan aanklop om te hoor hoe die herstelpad vir dié kinders lyk:

Watter terapie sal hulle ontvang en waar sal dit begin?

Trauma-ontlonting sal ’n groot rol speel om mee te begin. Hoewel dit lyk asof die pa die kwaaddoener is, bly hy steeds die primêre attachment figure - dit beteken hulle is bang vir hom, maar hy was die voorsiener én ouer: die persoon wat (veronderstel) is om hulle te versorg. In die sielkunde praat ons van disorganised attachment. ’n Deel van die terapie sal dus moet wees dat die kinders gehelp word om hul pa anders te sien. Gesinsterapie volgens die Imago-beginsels (lees hieroor onder dié berig) sal ook baie goed werk.

Na watter aspekte sal ’n sielkundige eerste kyk om emosionele trauma te bepaal?

As terapeut moet jy eers na die voor die hand liggende funksionering van elke kind kyk. Hoe is sy/haar interaksie met mense? Maak hy/sy oogkontak? Wat is sy/haar taalvermoë? Kan die kind skryf? Was hy/sy aan enige vorm van skool blootgestel? Dan is daar die dieperliggende sielkundige ontwikkelingsfases en hoe elke kind dít ervaar het en daardeur beïnvloed is.

Wat gebeur met ’n kind wat vir 16 jaar nooit in die samelewing funksioneer het nie? Elke ontwikkelingstadium wat nie afgehandel is nie, gaan ’n impak op die kinders se integrasie en optrede in die samelewing hê. Ons kan verwag dat daar geen sosiale vaardighede gaan wees nie; geen duidelike identiteit nie; hulle kan probleme met mag hê; hulle sal nie hulself kan handhaaf nie; of dalk sal baie woede manifesteer. Hulle beskou dalk die samelewing met groot wantroue - "waar was julle al die jare? Waarom het niemand ons ooit kom red nie?"

Is dit vir enige kind moontlik om te herstel ná so ’n ervaring?

Ja, daar is altyd hoop op herstel. Die jonger kinders se kanse tot herstel is beter. Wat baie belangrik is, is dat daar genoeg geleentheid tot veilige, voorspelbare, warm en altyd-beskikbare kontak met iemand moet wees wat hulle versorg. Die omgewing waarin hulle geplaas gaan word, móét veilig en voorspelbaar wees.

Daar sal altyd wonde wees. Volgens die Imago-teorie oor verhoudings verwag mens dat hierdie wonde weer in volwasse verhoudings, soos die huwelik, gaan manifesteer.

Hoe sou die kinders stelselmatig aan ‘normaliteit’ blootgestel word?

Baie stadig en geleidelik. Berading oor hul ouers is veral belangrik.

Hoe sou terapie tussen ma en kinders werk – word hulle saam of apart behandel? Dalk eers individueel, en later saam met die gesin.

FOTO: Phyllis Green FOTO: Phyllis Green

Wat sê die Imago-terapeut?

Grete Becker, ’n Imago-terapeut van Durbanville, sê dat traumatiese ervarings vanaf geboorte tot op 11 jaar toekomstige verhoudings beïnvloed.

Sy verduidelik:

"Die afgelope 10 jaar se neurologiese navorsing dui daarop dat interpersoonlike verhoudings die brein vorm. ’n Baba word nie met ’n 100% funksionerende brein gebore nie. Wat wel 100% funksioneer, is die oorlewingsentrum van die brein - die veg-of-vlug-instink van die amigdala, wat sowat 10% van die fisieke grootte van die brein is. Die ander 90% van die brein, die 'bedrading' of neurone, lê in plek en wag vir ervarings om die konneksies te begin maak. Hierdie konneksies (wiring) van die brein bepaal hoe elkeen die wêreld sien en ervaar.

"’n Kind wat altyd in die donker gehou word, sal nie sig ontwikkel nie, want die brein word nie aan lig blootgestel nie. So ook met spraak: as ’n baba nie taal hoor nie, sal die setel waar spraak ontwikkel ongestimuleer bly en nooit spraak-'konneksies' vorm nie.

"Presies dieselfde beginsel geld emosionele ontwikkeling. ’n Kind wat nie empaties, sagkens en met liefde en aanraking grootword nie, gaan nie daardie sentrum van die brein ontwikkel nie. Hulle gaan die wêreld sien as gevaarlik, onbetroubaar, hard.

"Hierdie 'siening' van die wêreld - swart of wit, hard of sag - dra ons vir ewig met ons saam, en speel ’n uiters groot rol in hoe individue daagliks optree.

"Een aanname binne die Imago-tradisie is dat ons in verhoudings gebore word, emosionele wonde in verhoudings kry, en dat heling dus slegs ook in verhoudings kan plaasvind. Terapie gaan dus fokus op die herkonneksie (rewiring) van hierdie kinders se breinpatrone: van onveilig, onvoorspelbaar en lewensgevaarlik na veilig, voorspelbaar en veilig."

________________

Kontak