Pasop, Ma, Pa, oumas en oupas! Hutsmerke op sosiale media kan pedofiele toegang gee tot foto's van jou kosbare kind. David Angelo, voorsitter van die organisasie Child Rescue Coalition, waarsku dat pedofiele aktief in die kuberruim hutsmerke soek om hul hande op kinderfoto's te kry. Ouers dink dalk hutsmerke soos #bathtime, #pottytraining, #toddlerbikini, #babypeeing, #nakedkids, #cantkeepclothesonhim is oulik en onskuldig, maar in werklikheid kan dit gevaarlik wees, berig NZ Herald

Dit geld ook die Afrikaanse weergawes van die hutsmerke.

Volgens die Child Rescue Coalition plaas sommige ouers tot 1 500 foto's van hul kind op sosiale media teen die tyd dat hy of sy vyf jaar is. Dié foto's bly vir ewig in die kuberruim. 

Hier is 'n video van watter hutsmerke jy nooit moet gebruik nie:

Nog gevaarlike hutsmerke sluit in #lovebeingnude, #kidsshowerangel, #toddlerbathtime, #pottytraining101, #potty en #pottytrainingsucks

Die meeste sosialemedia-gebruikers het net 'n klein groepie intieme vriende en familie wat hulle volg, maar daar is ook diegene wat miljoene volgelinge lok - soms met foto’s en video’s van hul kinders. Die verskynsel het selfs 'n naam: “sharenting” (’n mengsel tussen “parenting” en “share”).

Verlede jaar is in ’n studie in die VSA bevind dat 63% van Amerikaanse ma’s Facebook-gebruikers is. Van hulle deel 97% foto’s van hul kinders, 89% plaas statusboodskappe (“status updates”) oor hulle, en 46% deel video’s. Al hoe meer ouers raak egter bewus van die gevare van “sharenting”, en in ’n Britse peiling verlede maand het 57% van ouers aangedui dat hulle nooit foto’s of inligting van hul kinders deel nie.

FOTO Getty Images / Gallo Images

HIER’S DIE VERNAAMSTE REDES WAAROM MENSE DINK VOOR HULLE DEEL:

1. Aanlyn = vir ewig.

Op sosiale media en die internet voel dit asof alles tydelik en van korte duur is. Wanneer jy egter iets deel en dit versprei, kan hierdie materiaal vir ewig op die web wees. Dit is soos om ’n sak vere uit te skud. As daar ’n foto van jou kind op die internet is wat hom in die verleentheid kan stel, watter impak kan dit op sy toekomstige beeld, werksgeleenthede en verhoudings hê? Sal jou kinders gelukkig wees met dit wat jy nou vryelik van hulle deel? Vier jaar gelede het klein Chloe se ma ’n video van haar op YouTube geplaas. Die video is nou al meer as 17 miljoen keer gekyk. Derduisende meme’s word steeds daarvan versprei en Chloe is ’n YouTube-ster – teen wil en dank.

2. Reg op privaatheid en keuse.

Party mense deel om etiese redes nie foto’s van hul kinders nie. Kinders word onwillig betrek by ’n aanlyn kultuur waar hulle deur vreemdelinge vergelyk en beoordeel of deur “likes” gekomplimenteer word. Ouers kan kinders in die proses gebruik om hul eie beeld op sosiale media aan te blaas. Ashton Kutcher en Mila Kunis het besluit om geen foto’s van hul kinders op sosiale media te deel nie. Die bekende ouerpaar voel hul kinders moet eendag self kan besluit watter foto’s van hulle aanlyn gedeel word. “My kinders het ’n reg op privaatheid en ’n private lewe; dit is groter as my reg om foto’s van hulle te deel. Skep jou eie sosialemedia-profiel eerder as om een vir ’n onwillige kind te skep,” het Ashton gesê.

3. Onregmatige gebruik en veiligheid.

Wanneer jy foto’s van jou kinders plaas en die stelling is “public”, dan raak die foto die publiek se eiendom. Die foto’s mag nie vir kommersiële doeleindes soos advertensies gebruik word nie, maar dit kan maklik in ’n artikel geplaas of op ander platforms gedupliseer word. Plaaslike bekendes soos Karlien en Bobby van Jaarsveld en die voormalige Mej. Suid-Afrika Rolene Strauss deel selde foto’s van hul kinders op sosiale media. Wanneer hulle wel ’n foto deel, is dit van agter geneem. Bekendes se foto’s kan veral maklik deur die media of aanhangers gebruik word. Buiten onregmatige gebruik moet veiligheidsaspekte ook in ag geneem word. Kan iemand toegang kry tot jou kind se persoonlike inligting soos foto’s, ligging, kleuterskool of dagmoeder, ouderdom of gewig? Hierdie besonderhede klink privaat, maar dit is maklik om te kry op ’n Instagram-plasing met die baba se geboorte of deur te kyk na die ouers se “check-ins” op sosiale media of watter skole en dagsorgsentrums se blaaie die ouers op Facebook “like”. Hierdie inligting kan gebruik word vir afpersing, ontvoering en identiteitsdiefstal.

FOTO Getty Images / Gallo Images

DAAR IS ’N OPLOSSING:

1. Gaan jou privaatheidstellings na op Facebook. Maak seker jy deel foto’s slegs met vriende op Facebook – en kyk dat jy die mense op jou vriendelys vertrou. Jy kan ook foto’s en inligting slegs met “close friends” (klein groepe uitgesoekte vriende en familie) deel. Onthou: Jou profiel- en "cover"-foto is nie privaat nie en die publiek kan dit vir enigiets gebruik.

2. Analiseer die inligting wat jy plaas, soos jou kind se verjaardagpartytjies, ligging, dagmoeder, ens. Dit kan maklik deur misdadigers gebruik word vir bedrog of nog erger – ontvoering of afpersing.

3. Maak seker jou Instagram-profiel is privaat. Vreemdelinge kan maklik ’n skermgreep van jou foto’s neem en dit dan versprei.

4. Moet nooit foto’s van jou kind of baba deel wat jy nie van jouself sou deel nie. Is die kind in ’n bad? Skree hy bloumoord? Kan die video of foto later ’n vernedering vir jou kind wees? Al is dit ’n private foto, kan dit permanent ’n foto in openbare besit op die web raak.

5. Wanneer jy foto’s of video’s met vriende of familie deel wat ook aktiewe Facebook-gebruikers is, moet jy duidelik kommunikeer as hulle nie die foto of video mag aanstuur of oplaai nie.

6. Oorweeg dit om glad nie foto’s of inligting van jou kinders te plaas nie.

Bronne: Child Rescue Coalition, News.com.au, Adweek, Nz Herald