Wie ook al gesê het dat geld nie geluk kan koop nie, het net nie geweet waar om te koop nie, het die aktrise Bo Derek by geleentheid gesê. En as dit kom by waar en selfs hoe is daar vandag groot veranderings in die wêreld.

Verbruikers is kieskeurig en die ervaring gaan vir hulle oor veel meer as net koop. Dis ’n volronde 360°-ervaring – van ’n vrou wat laataand, ná ’n besige dag, aanlyn kies en bestel, of op haar dag af by ’n tradisionele winkelsentrum inloer en terselfdertyd sosiaal met vriende verkeer.

Dit wil al hoe meer lyk asof suksesvolle ondernemings deesdae ’n kombinasie bied van aanlyn en tradisionele verkope. Dis nie meer ’n geval van óf die een óf die ander nie. Ondernemings wat voorheen eksklusief aanlyn sake gedoen het, soos Yuppiechef waar jy toebehore vir die kombuis en buitelug koop, boekereus Amazon en modeverkoper Net-a-Porter, betrek nou toenemend tradisionele winkels. Hulle besef verbruikers hou van ’n sensoriese ervaring.

Nadat Yuppiechef verlede jaar hul eerste winkel in die Willowbridge-sentrum naby Tygervallei in die Kaap geopen het, het Andrew Smith, medestigter en uitvoerende hoof, aan Netwerk24 gesê hul klante het nou die vryheid om te kies of hulle aanlyn of in die winkel wil sake doen.

“Ons het besef hulle verwag méér as die aanlyn ervaring: hulle wil ook produkte in winkels sien, met verkoops-personeel gesels, en gebruiksartikels aanraak voordat hulle dit koop of as geskenk by iemand laat aflewer.”

Johann Rabie, eienaar van Bike Addict, ’n fietswinkel op Malmesbury, meen 30% tot 40% van sy klante verkies die 360°-ervaring. Tog is daar nog baie wat net aanlyn of net in die winkel koop. Volgens tendensvoorspeller Dion Chang is daar in meer ontwikkelde ekonomieë ’n behoefte aan stories, ervarings en die skep van herinneringe wat ’n rol speel in hoekom kooppatrone verander.

Hy reken Generasie Z (gebore tussen 1995 en 2014) gaan bepaal hoe inkopie-ervarings in die toekoms gaan lyk. “Hulle sien geen verskil in aanlyn of tradisionele aankope nie, en hulle soek outentieke, bewustelike ervarings. Dit is belangriker as die produk. Hulle doen dikwels die navorsing vir hul ouers voor nuwe toerusting gekoop word of voor gesinne met vakansie gaan en beïnvloed dus gesinne se kooppatrone.”

Die herlewing van die Middeleeuse markplek – eens die sosiale middelpunt waar alles gebeur het – is reeds in moderne megawinkelsentrums sigbaar. Maar nou raak winkels self multi-funksioneel en verskuif die markplek as’t ware daarheen. “Twee jaar gelede het Apple se nuwe vlagskipwinkel in San Francisco oopgemaak met regte bome aan die binnekant, asook ’n 47 jaar oue gerestoureerde fontein van die befaamde Amerikaanse beeldhouer Ruth Asawa.”

Volgens Dion sal winkelsentrums voortaan ook toenemend opvoeding- en gesondheidsdienste bied. In Kaapstad is daar reeds ’n tak van Binnelandse Sake in die Maynard Mall in Wynberg. Ons drink ook jare lank al koffie in afdelingswinkels en trendy boekwinkels. Alles hier genoem, het natuurlik reeds hul eie aanlyn tuistes!

Dion verwys voorts in ’n artikel in die Sunday Times na die aanlyn dienste wat gebied word deur die Chinese maatskappy Alibaba (wat sowat R3,6 miljard werd is en sowat 450 miljoen klante het) as ’n voorbeeld van wat die toekoms inhou. “Alibaba help handelsmerke en kleiner winkels om verbruikers te lok met speletjies, nuus, video’s, geleenthede met bekendes en die ontwikkeling van aanlyn gemeenskappe.”

Dit is ’n voldonge feit dat mega-winkelsentrums wat dit wil máák, sal moet aanpas. Volgens ’n artikel in die Delaware Business Times is tot 90% van winkelkomplekse in dele van Noord-Amerika besig om radikaal te verander. Daar is groter oop, daklose ruimtes en sagte leunstoele pleks van harde banke.

Kitskosaanbiedings word aangevul deur gesofistikeerde restaurante en daar is joga-ateljees, teaters met skynwerklikheid-ervarings (virtual reality) en IMAX-teaters wat klante lok. Gesinsareas, soos die wetenskapsentrum vir kinders by die Canal Walk-sentrum in Kaapstad, word ook ál gewilder. Mense se sielkundige en fisieke behoeftes affekteer hul kooppatrone, verduidelik die Stellenbosse sielkundige Marelise Botha.

“Vir die ouer generasie is aanlyn aankope soms meer stresvol, want hulle is dikwels minder vertroud met die tegnologie en vertrou ook nie die pos- of koerierstelsels nie. Die winkelkoop-ervaring gaan ook gepaard met sosialisering en bied emosionele veiligheid.

“Werkendes het weer die behoefte aan aanlyn én winkelaankope. Aanlyn is prakties, gerieflik, spaar tyd en om pryse te vergelyk is maklik. Maar om winkel toe te gaan is ontspannend en gee jou ’n gevoel van konneksie,” sê Marelise.

Die verbruikerskenner Ina Opperman sê navorsing wys veral plattelanders besoek graag régte winkels, hoewel mens sou dink hulle sou die gerief van aanlyn aankope verkies. Hulle beskou inkopies as ’n uitstappie, en boonop neem die aflewering van aanlyn aankope in die platteland dikwels langer.

“Veral vroue hou daarvan om klere en bykomstighede te bekyk, aan te raak en aan te pas. Jonger mense hou ook van die kitsbevrediging van ’n winkelaankoop,” sê Ina.

Navorsing toon inderdaad mense van álle ouderdomme gaan steeds winkel toe – om verskillende redes. ’n Studie in 2014 deur A.T. Kearney, ’n toonaangewende Amerikaanse raad-gewende maatskappy, het byvoorbeeld bevind mense hou daarvan om uit te gaan, sáám met ander inkopies te doen en om aan produkte te raak. ’n Klompie jare terug het doemprofete verkondig dat die dae van boekwinkels (en regte boeke) getel is. Maar sedert 2012 het die verkope van e-boeke aansienlik gedaal.

“Die verkope van regte boeke het veral gestyg in die Verenigde Koninkryk en in Amerika, hoewel die powere wisselkoers nog nie soortgelyke groei plaaslik weerspieël nie,” sê Benjamin Trisk, uitvoerende hoof van Exclusive Books in Suid-Afrika.

Hy voeg by dat die atmosfeer in boekwinkels baie verbeter het met beter beligting, leesareas, koffiewinkels en boeke wat keurig uitgestal is. “Dit dra alles by tot kopers se herontdekking van die regte boek.” Hy glo welbelese personeel staan kopers goed by en dit dra als by tot die koopervaring in winkels.

Louna Pretorius, hoofbestuurder van Spree, voorste Suid-Afrikaanse e-handel-modewinkel vir die hele gesin, reken die tasbare aspek van die fisieke wêreld gekombineer met die gerief van die digitale wêreld klink soos die beste van albei. “Fisiese winkels bring al hoe meer elemente van die digitale wêreld na hul klante – TV-skerms of iPads – met produkinligting. Aanlyn winkels eksperimenteer ook met opskietwinkels.” Spree oorweeg egter nog nie ’n fisiese winkel nie, maar hou innoverende raakpunte met kliënte altyd as ’n opsie, sê sy.

Een voordeel van aanlyn winkels, volgens haar is dat dit die voordeel het om ’n groot verskeidenheid produkte aan te hou, wat nie beperk word tot fisiese spasie in ’n winkel nie. Dion sê ons praat deesdae van “noline”, pleks van “online” of “offline” – dus, die volle koopervaring.

Dawie Roodt, hoof-ekonoom van die Efficient-groep, ’n maatskappy wat finansiële dienste verskaf, reken egter die 360°-neiging in kooppatrone is tans nog ’n mini-tendens binne die groter prentjie in Suid-Afrika. Die migrasie na aanlyn verkope neem wêreldwyd toe, en is nog nie naastenby verby nie, sê hy.

En in sekere groot winkelsentrums kan jy dit nie miskyk nie . . . In Johannesburg se Rosebank Mall staan Stuttafords leeg. Mango en Nine West is landuit en hul winkels is gesluit. En selfs Edgars het ’n kleiner spasie betrek. Hoewel dit lyk asof H&M uitbrei en gedy. Dion meen “dit lyk dalk vir baie mense asof hierdie oop gate dui op ekonomiese agteruitgang, maar dit ontstaan organies as gevolg van die digitale era”.

Hy reken wel kleiner middel-slagsentrums, soos die Whale Coast Mall buite Hermanus en die Weskus Mall buite Vredenburg, wat meer as 100 km van ’n groot stad soos Kaapstad is, tel weer spoed op. Aanlyn winkels kan dit nie altyd bekostig om klein aankope so ver af te lewer nie. “Alles gaan oor gerief. Dié winkelsentrums voorsien in al die behoeftes van kopers. Parkering is boonop nader aan die sentrums as by die megasentrums met hul yslike parkeerterreine.”

Verbruikers se toenemende vaardig-heid met digitale tegnologie dui nie op die ondergang van baksteen-en-sement-instellings nie – maar slegs op die evolusie van kooppatrone. Die Amerikaanse aanlyn publikasie TechCrunch stel dit so: “Daar word toenemend erken dat aanlyn platforms en selfone bydra tot tradisionele winkelverkope eerder as wat dit tot hul ondergang lei.”

Dion verduidelik ook dat verbruikers toenemend hul navorsing vir inkopies en prysvergelykings aanlyn doen. Dit het gelei tot die ontwikkeling van wat hy die “stealth-bomb shopper” (oftewel koper op ’n missie) noem. “Sy doen aanlyn navorsing oor ’n produk, vergelyk pryse landwyd, maak ’n keuse en besoek die winkel. Wanneer sy daar is, parkeer sy so naby as moontlik aan die spesifieke winkel, pyl daarop af, koop die produk en vertrek.”

Dit pas winkelsentrums natuurlik nie altyd nie. ’n Studie in 2014 deur Cisco, ’n internasionaal toonaangewende maatskappy vir inligtings- en netwerk- tegnologie, wys dat 80% van Amerikaners die internet gebruik om navorsing te doen voor hulle produkte aankoop.

Handelaars moet dus soveel harder werk om klante na hul winkels te lok en in hul behoeftes te voldoen. Handelaars werk ook daaraan om die sinergie tussen elke moontlike aanlyn platform te benut: Pinterest, Facebook, Instagram en hul eie webwerf.

Verder moet daar ’n duidelike ooreenkoms wees in die ontwerp van nie net aanlyn platforms nie, maar ook van die werklike winkelgebou se uitleg, soos die vloerplan en temas. Die indruk wat digitaal geskep word, moet herhaal word in die fisiese winkel en daarby aansluit. En bemarkers moet behoorlik bontstaan om kopers se emosionele en sosiale behoeftes te verstaan en daaraan te voldoen.

Die kenners meen die toekoms van inkopies lê in iets wat handel deur meervuldige kanale (omni-channel retail) genoem word. Bill Davis, direkteur van die MB&G-konsultasiemaatskappy in Amerika, beskryf hierdie verskynsel só: verkope deur elke soort kanaal wat vir ’n handelaar bestaan.

Dit is die winkel, sy katalogus, aanlyn platforms, oproepsentrum, die klant se selfoon – met die koper wat self kies watter kanaal sy wil gebruik. Dit terwyl sy vir een en dieselfde transaksie ook méér as een kanaal kan gebruik. In die verlede het die koper nét een van hierdie beskikbare kanale gebruik om besigheid te doen.

Ina verduidelik dit met ’n praktiese voorbeeld: “Gestel jy wil ’n mikrogolf-oond koop. Jy doen jou navorsing aanlyn, dan bestel jy die toestel en gaan haal dit af by die tradisionele winkel. Wanneer jy by die huis kom en uitvind iets is fout, skakel jy die winkel se oproepsentrum om die saak te besleg. Of jy kan winkel toe gaan en na ’n ander mikrogolfoond kyk. Terwyl jy daar is, gebruik jy jou selfoon om die produkte wat jy daar sien te vergelyk met ander winkels se produkte. Dan maak jy jou keuse net daar – of later aanlyn.”

Die volronde ervaring bied die wêreld se moontlikhede – besluit self hoe en waar jy wil koop. Daar is immers genoeg keuse

SARIE, jou 360°-ervaring

Ook SARIE bied die 360°-ervaring
Dit het begin as ’n tydskrif wat almal ken en gegroei tot talle handelsmerkuitbreidings soos SARIE KOS en SARIE WOON, asook drie SARIE-TV-reekse. Lesers is ook deel van ’n digitale gemeenskap van by die 2 miljoen wat daagliks deur SARIE.com en Netwerk24 bereik word, hulle ontvang twee keer ’n week ’n nuusbrief, met uurlikse interaksie op Facebook, Twitter en Instagram. Boonop kan lesers deel in verskeie SARIE-ervarings, soos die jaarlikse Voorbladgesigwedstryd, SARIE Modeskool en die SARIE Fees.