Die jaar kom stadig tot ’n einde en binnekort is dit Kersfees. Tot dan sal paartjies op hul hoede moet wees, want in November en die eerste twee weke van Desember word die meeste verhoudings beëindig. 

En voor jy dink dis ’n wolhaarstorie ... daar is data van Facebook wat dit steun. 

Wat op aarde is die rede?

Volgens Refinery29 is van die redes:

- Dis die einde van die jaar en jy wil die laaste twee maande sonder enige verhoudingsdrama deurbring.

- 'n Nuwe jaar is op pad, en jy wil die jaar op 'n skoon bladsy begin. 

- Jy is moeg vir jou langafstandverhouding.

Of dit nou November is of nie, soms is dit noodsaaklik om belangrike vrae oor jul verhouding te vra. 

Die klink nie juis romanties nie. Maar Britse kenners reken elke paartjie behoort mekaar ’n paar belangrike vrae te vra voor die verhouding té ernstig raak. Die 10 vrae, saamgestel deur ’n paneel van egskeidingskenners, sluit in of julle goeie vriende is. En of julle uiteindelik dieselfde dinge in die lewe soek. Die lys is die uitvloeisel van ’n studie aan die Universiteit van Exeter in suidwes-Engeland en saamgestel deur twee regters en 10 egskeidingsprokureurs en -bemiddelaars. Dit sluit in barones Fiona Shackleton, wat as Brittanje se voorste egskeidingprokureur bestempel word. Prins Charles en Paul McCartney tel onder haar kliënte. Die lys is saamgestel uit inligting uit gesprekke met kenners, gelukkig getroudes en geskeides. Dit het 43 pare ingesluit wat reeds tien jaar getroud is en steeds saam is of intussen uitmekaar is en nog 10 pare wat reeds 15 jaar in ’n verhouding is.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

10 VRAE WAT ELKE PAARTJIE MOET BEANTWOORD

1. Pas ek en my maat goed by mekaar?

2. Is ons goeie vriende?

3. Sien ons die beste in mekaar?

4. Is ons verwagtinge realisties?

5. Wil ons dieselfde dinge in ons verhouding en in ons lewe hê?

6. Kan ons dinge wat krap met mekaar bespreek?

7. Hou ons ons verhouding energiek en lewendig?

8. Is ons albei bereid om in moeilike tye aan ons verhouding te werk?

9. Sal ons saamstaan in stresvolle situasies?

10. Het ons albei mense naby aan ons wat ons ondersteun?

Bron: Universiteit van Exeter