MNS is ’n ernstige groep afwykings wat jou brein en rugmurg aantas. Dit vernietig motorneurone, die senuweeselle wat die spiere beheer noodsaaklik vir loop, praat, asemhaling en sluk. Stephen Hawking, die briljante Britse fisikus, ly ook daaraan.

Hoe beïnvloed dit jou lyf?

Boodskappe van senuweeselle in die brein (bekend as boonste motorneurone), word gestuur na die rugmurg (onderste motorneurone). En daarvandaan na spesifieke spiere om bewegings uit te voer (soos om te loop en te sluk). Die onderste motorneurone beheer beweging in jou arms, bene, bors, gesig, keel en tong.

MNS ontwrig die seine van die motorneurone na die spiere. Dit kan jou spiere geleidelik laat verswak en wegteer en onbeheerbaar laat ruk. Wanneer die boonste motorneurone betrokke is, kan jou ledemate styf en spasties raak. En ooraktiewe sening-reflekse veroorsaak, wat jou knieë en enkels laat ruk. Jy kan uiteindelik die vermoë verloor om willekeurig te beweeg, asem te haal, te praat en te sluk.

Algemene vorme van MNS sluit in amiotrofiese laterale sklerose (ALS), progressiewe spieratrofie en progressiewe bulbêre verlamming.

Kan dit behandel word?

Daar is geen kuur of standaard-behandeling nie. Behandeling is simptomaties en ondersteunend om pasiënte se lewensgehalte te verbeter. Só kan spierverslappers vir spastisiteit en nie-steroïede anti-inflammatoriese middels vir pyn gebruik word. Sommige pasiënte het sterker medikasie soos morfien nodig as die toestand in ’n gevorderde stadium is.

Wat is die prognose?

Dit kan dodelik wees. Daar kan ’n “plato”-fase wees waartydens die toestand vir ’n rukkie stabiliseer, maar die aftakeling sal uiteindelik voortgaan. Jou lewensverwagting kan tussen 1 tot 5 jaar wees (soms langer), afhangende van onder meer die spesifieke spiere wat aangetas is, volgens die nasionale instituut vir neurologiese afwykings en beroerte.

Wie kry dit?

Dit kan by kinders en grootmense voorkom en is meer algemeen by mans. By volwassenes verskyn die simptome dikwels eers na 40. By kinders, veral as dit oorgeërf is, kan daar reeds simptome by geboorte wees of binne hul eerste jaar verskyn.

Wat veroorsaak dit?

Dit kan in families “loop”, maar dis raar. Andersins is dit nie bekend wat dit veroorsaak nie. Gifstowwe in die omgewing, trauma, ’n virus en genetiese faktore kan dalk ‘n rol speel.

Bron: www.health24.com

*Kontak: Die nasionale instituut vir neurologiese afwykings en beroerte: 021 5316130; mndaofsa@global.co.za; www.mnda.org