In jou twintigs is die wêreld glo jou oester. Waarom sukkel jý dan so om jou voete te vind?

In jou dertigs moet jy keuses maak wat die res van jou lewe gaan raak. Werk of gesin? Sekerheid of jou drome najaag?

Jou veertigs en vyftigs bring ook hul eie uitdagings. Só het elke dekade sy dinge. Daar is nou eenmaal nie 'n tyd in jou lewe waar alles perfek soos 'n legkaart inmekaar pas nie. Maar as jy jouself reg instel, kan jy uit die lekker en sleg van elke ouderdomsfase iets leer en die lewe in al sy fasette ervaar.

JOU 20's

Jy worstel met drie vrae: Wie is ek? Wat wil ek hê? Hoe gaan ek dit kry.

Hoe jong mense van dié ouderdom se omstandighede ook al verskil, almal is onseker - oor net mooi alles in hul lewe. Só skryf Christine Hassler in 20-Something, 20-Everything: A Quarterlife Woman's Guide to Balance and Direction (New World Library, 2005).

Mense wat in hul vroeë twintigs die regte loopbaankeuse maak, is dun gesaai, sê Rinette van Rensburg, 'n sportverslaggewer by die SAUK in Johannesburg.

 "Ná my studie aan die Universiteit Stellenbosch het ek die eerste die beste werk aanvaar, want geleenthede is mos skaars! Maar dit het jare geneem om dié verkeerde skuif reg te stel. Ek was onvervul, gefrustreerd en het gevoel ek gebruik nie my talente nie. Nou, sowat nege jaar en vier probeerslae later, doen ek uiteindelik wat ek geniet.

"Dit het opoffering geverg om die sneeubal van swak keuses te stop. Ek het in Mosselbaai in die Suid-Kaap grootgeword en ná universiteit in Kaapstad gaan woon. Maar ek moes Johannesburg toe trek agter die regte werk aan. Dis 'n groot stap vir 'n kleindorpse, familievaste meisie.

"'n Mens moenie in jou vroeë twintigs te hard aan jou gemaksone vasklou nie. Ek wou naby my vriende en familie wees. Dit was ten koste van my loopbaan, wat net nie op dreef wou kom nie. My werk-selfvertroue het onnodig 'n knou gekry.

"Ek is ook 'n alleenloper en my vriende wat trou en kinders kry, is 'n taai emosionele uitdaging. Ek het vrede met my enkelloper-status en is dolgelukkig. Ek weet ek sal op die regte tyd my maat ontmoet. Mense vra egter alewig hoekom ek nog op my eie is. Dis frustrerend om dit heeltyd te probeer regverdig en aanmekaar te verduidelik dat ek gelukkig is só."

Johan Erasmus, kliniese sielkundige, en Karlien Erasmus, voorligtingsielkundige van Pretoria, sê:

 

Die samelewing verwag van jong mense om 'n werk te kry, 'n lewensmaat te ontmoet en 'n positiewe bydrae te maak. Kortom: Jy moet deel van die status quo word. Dít terwyl jy dalk nog kort vantevore in jou tienerjare in opstand was teen alles wat die samelewing verteenwoordig. Lg. is 'n natuurlike proses in die soeke na jou identiteit.

As jy probeer om aan al die verwagtinge te voldoen is jy dikwels gespanne oor of jy suksesvol gaan wees. Of jy kan daarteen skop en sukkel omdat jy nie inpas nie.

Dalk is jy gelukkig en kies jy van die begin af die regte werk. Maar dikwels beïnvloed jou ouers (of ander belangrike volwassenes in jou lewe) dié besluit. Of jy is oorhaastig, soos Rinette. Jy kan vasgevang raak en soos 'n mislukking voel. Dit kan jou gespanne en selfs depressief maak. Vra jouself af wat jý regtig op lang termyn wil hê. Jy moet onafhanklik word en verantwoordelikheid vir jouself begin aanvaar. Omlyn jou waardes en leer m vir jou menings en oortuigings op te staan. Neem aan groepsaktiwiteite deel en brei jou sosiale netwerk uit. Raak by die gemeenskap betrokke en voel só jy lewer 'n bydrae.

JOU 30's

Hoekom voel vroue in dié tyd dikwels so misrabel? Jou lewe moet tog nou al op koers wees. Dis die vraag wat Lia Macko en Kerry Rubin ondersoek in hul boek Midlife Crisis at 30: How the Stakes Have Changed for a New Generation - And What to do About it (Rodale Books, 2004). Hulle het gevind vroue worstel nou met dinge soos loopbaan-eise, wanneer om te trou en met 'n gesin te begin en werksbevrediging teenoor 'n groot salaris.

Toe Jolana Gericke van Kaapstad op dertig met 'n gesin begin het, was sy nie voorbereid op die omwenteling wat dit in haar lewe sou meebring nie.

"In jou twintigs is jy onbesorg. Kinders vra baie aanpassings en opofferings. Met Zea (nou in graad 10) se geboorte het ek gedink ek gaan pop speel. Toe is sy 'n koliekbaba en slaap ek drie maande lank nooit!

"'n Mens verwag nie dat dit só 'n groot verantwoordelikheid gaan wees nie. Babas kom nou eenmaal nie met 'n handleiding nie. Jy was gevestig in jou werk en huwelik. Toe is daar skielik dié nuwe onsekerheid. Nooit weer gaan jy eerste aan jouself dink nie. Jou kind kom nou altyd eerste. Die verantwoordelikhede hou nie op nie, al is Zea en Arn (nou in graad 7) tieners.

"Ek is 'n onderwyseres en het ná hul geboorte aanhou werk. Hulle was by 'n oulike dagmoeder, maar die skuldgevoelens het my gery. Dis 'n groot besluit: Moet jy 'n au pair kry en jou beroep voluit najaag? Of moet jy heeltyds ma wees?

"Ek het bedank toe Zea 5 en Arn 2½ was en met 'n speelgroepie tuis begin. Maar ek het my eie geld en die stimulasie van 'n beroep gemis. Ek het gevoel ek groei nie meer nie. Toe Arn pre-primêre skool toe gaan, het ek weer begin skoolhou. Ek is nou 'n lektor by Northlink College in Kaapstad. Om my gesin en beroep te balanseer het vir mý gewerk."

Johan en Karlien sê:
 

Mense in hul dertigs is die sg. movers and shakers van die werksmag. Jy is lang ure op kantoor en dit kan tot krisisse in jou verhoudings lei. (Jou vriende voel bv. afgeskeep.) Dit veroorsaak ook stres en jy kan gesondheidsprobleme ontwikkel.

Die samelewing verwag jy moet met 'n gesin begin, suksesvol wees (gewoonlik gemeet aan jou inkomste) en 'n huis, hond en 'n luukse motor in die  dubbelmotorhuis hê. Jy "moet" teen dié tyd al "uitgesorteer" wees en voortbou op wat jy in jou twintigs gevestig het.

Sommige mense sukkel om in te pas by dié "tradisionele" siening. Ons kom agter mense trou later en twyfel meer oor of hulle in die regte beroep is. Op soek na vervulling verander hulle dikwels so teen 35 van werk. Vir mans is dit dikwels 'n krisis as hulle nog nie bereik het wat hulle wou nie. Vroue worstel daarmee of hulle die beroep waaraan hulle hard gebou het vir kinders moet afskaal of selfs prysgee. Die werkolis, wat jare later besef hy of sy het die lewe se belangrikste dinge gemis, se patroon word waarskynlik nóú gevestig. Maak doelbewus tyd vir jou vriende en gesin en pasop dat jou werk nie jou lewe oorneem nie.

JOU 40's

Die sogenaamde middeljare-krisis kan voorafgegaan word deur dinge wat 'n mens tipies in dié tyd beleef. Dit kan insluit die dood van 'n ouer, kinders wat meer onafhanklik raak en die besef dat jy nie meer kan droom oor alles wat jy "eendag" wil doen nie. Eendag is hier - dis nou of nooit! Jy kan die behoefte ontwikkel om kerndinge in jou daaglikse lewe te verander, bv. jou loopbaan en huwelik.

 

Vir Rensché Bougas van Kaapstad het die leënes-sindroom voortydig begin. Sy is die ma van Anthonie, 17, 'n Supersterre-finalis in 2007, en John, 18.

"Op nege het Anthonie lid van die Tygerbergse Kinderkoor in Kaapstad geword. Omdat ons op Saldanha gewoon het, moes hy koshuis toe. Die Laerskool Durbanville het hom 'n beurs aangebied. John (toe 10) het ook 'n sportbeurs by dié skool gekry.

"Ek het langer as 'n jaar elke dag gehuil as ek verby hul kamers loop. Ek is 'n tuisbly-ma en my lewe draai om hul bedrywighede. Ek het geëet om van my hartseer ontslae te raak en 22 kg aangesit. (Ek het intussen weer 8 kg verloor.) Daar het soms weke verbygegaan dat ek glad nie uit die huis gegaan het nie. As hulle Sondae moes teruggaan koshuis toe, wou ek stérf. Dis nie my aard nie, ek is van nature 'n jollie mens.

"Toe ek en my man, Anton, twee jaar daarna Kaap toe trek, het my depressie sommer verdwyn. Anthonie volg nou 'n tuisonderrig-program en tree landwyd by skole op. Hy het verlede jaar die rol van 'n begaafde musikant in Villa Rosa op kykNET gespeel. John het verlede jaar matriek geskryf en wil professioneel gholf speel.

"Die leë nes wink weer. Maar dié keer gaan dit anders wees. Ek gaan nie weer so baie eet nie. En ek gaan sorg dat ek besig bly. Ek is lief vir kinders, dalk sal ek by jeug-liefdadigheidswerk betrokke raak.''

Johan en Karlien sê:

 

Egskeidings is algemeen in dié stadium - jy kan voel jy wil 'n nuwe begin maak. Jy kan ook van werk verander, of jou eie sakeonderneming begin.

Die klem val nou ál meer op jou kinders se suksesse. Vir iemand wat nie kinders het nie, is dit op sigself 'n krisis.

Jou lyf verander ook in jou veertigs - die ouderdom begin daaraan vat. Dít alles laat jou ernstige vrae vra oor wie jy is en waarheen jy op pad is. Watter dinge in jou lewe het ewigheidswaarde of het 'n verskil in jou lewe gemaak? Wat laat jy na?

Jy ondersteun jou kinders, help hulle om te groei en onafhanklik te word. Jy moet aanpas by jou bejaarde ouers en leer om meer verantwoordelikheid vir hulle te neem.

Kinders verlaat die "nes" en dit kan jou depressief maak. Jy en jou man kan skielik besef julle het niks meer gemeen nie.

Herontdek jou drome. Dit raak dikwels verlore in die stryd om kinders groot te maak en jou brood te verdien. Omskryf weer jou identiteit, waardes en lewensfilosofie duideliker. Ontdek opnuut wat jy in die lewe wil hê en wat belangrik is. Oefen, leef gesond en wees deel van groepsaktiwiteite. Sorg dat jy en jou man minstens een van dié dinge saam doen. Kies iets wat julle albei interesseer. Doen dinge wat jou uitdaag, goed laat voel en jou selfvertroue opbou.

JOU 50's

Jy besef daar is meer jare agter as voor jou. Jy heroorweeg die rigting wat jou lewe ingeslaan het, én jou prioriteite. En bowenal: Hoe om die beste te maak van die jare wat voorlê.

 

Heleen*, 'n onderwyseres van Johannesburg, voel in haar middelvyftigs ál meer geïsoleerd van haar gesin.

"Herman*, my 55-jarige man, was verlede jaar in 'n diep gat: lusteloos en ongemotiveerd. Hy het ure voor die TV gesit en sport gekyk. Of Sudoku gespeel. Weens die ekonomie het dit sleg met sy sakeonderneming gegaan. Hy het homself gekasty dat hy nie in die lewe bereik het wat hy wóú nie.

"Hy het nou pas in 'n nuwe werk begin en is weer geesdriftig en lus vir die lewe. Maar ek is afsydig: Ek het my so lank doelbewus van hom afgesny, al hoe harder gewerk in 'n poging om my gedagtes af te lei. Ons het intussen uitmekaar gegroei.

Boonop sien ek my 21-jarige dogter byna nooit nie: Sy het so te sê by haar vriend en sy gesin ingetrek. En my ma, my steunpilaar, word so óúd. Wat gaan ek doen as sy doodgaan?

Ek worstel boonop met my eie vrae. Het ék alles uit die lewe gehaal wat ek kon? Het ek in my kinders geploeg wat ek wou? My kerk en vriendinne is nou 'n groot troos." (*Skuilname)

Johan en Karlien sê:

 

In jou vyftigs is jou gesondheid toenemend in die kollig en jy raak meer bewus van 'n gesonde leefwyse. Jy bekommer jou oor jou aftrede en of daar genoeg geld is vir jou oudag. By die werk moet jy soms plek maak vir jonges met minder ervaring.

Ná die dood van 'n geliefde kan jy alleen raak. Dit maak jou meer weerloos vir depressie. Jy raak afhankliker van jou kinders vir emosionele én praktiese ondersteuning. Dis moeiliker om besluite te neem en jou kinders moet daarmee help. (Byvoorbeeld: Moet ek aftree?) Jy wonder of jy nog enigsins nuttig kan wees in die samelewing.

Dieselfde wenke as vir die veertigjariges geld vir jou. Stof dalk ou stokperdjies af. Dis belangrik om iets saam met jou portuurgroep te doen, anders kan jy vereensaam.

*Kontak Johan en Karlien by ERASMUS THERAPY, 012 362 7380, of www.erasmustherapy.com.