Is jy die volgende Ingrid Winterbach of André P. Brink? Brand jy om jou naam op die omslag van ’n boek te sien? Dalk is dié net jou kans ...

Dit is weer tyd vir NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Dié wedstryd bied aan skrywers die geleentheid om by die land se grootste en suksesvolste uitgewery te publiseer. Dit is boonop die omvangrykste romanwedstryd in die land met die grootste beloning vir skrywers. Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel en sluit ’n stewige debuutprys in:

  • Wenner R200 000
  • Naaswenner R70 000
  • Derde prys R40 000
  • Debuutprys R40 000

Skrywers kan hul manuskripte aan enige van NB-Uitgewers se fiksie-drukname voorlê: Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela Boeke. NB-Uitgewers gaan die wenmanuskrip(te) publiseer en het eerste opsie op alle manuskripte wat ingeskryf word. Met die debuutprys wil NB-Uitgewers aan nuwe Afrikaanse skrywers erkenning gee en hulle aanmoedig om met volgehoue dissipline, uitstekende navorsing en deursettingsvermoë ’n trefferroman te skep en af te rond.

Ingrid Winterbach 2012_fotograaf Andries Gouws Foto: Ingrid Winterbach, die wenner van die 2012 Groot Afrikaanse Romanwedstryd

“Skryf in! Dis ’n waagstuk en ’n bietjie angswekkend. Maar dit is ook opwindend, en ’n aansporing, en wie weet – mevrou Fortuin is jou dalk ewe goedgesind!” sê Ingrid Winterbach wie se roman, Die aanspraak van lewende wesens (Human & Rousseau), in 2012 as die wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd aangewys is. Hierdie roman het ook in 2013 die Hertzogprys vir Afrikaanse Prosa en die M-Net Literêre Toekenning in die kategorie Afrikaans ontvang, en is boonop aangewys as die wenner van die W.A. Hofmeyr-prys vir die beste Afrikaanse literêre werk in alle genres en die Universiteit van Johannesburg-prys in die kategorie kreatiewe skryfwerk in Afrikaans.

Chris Karsten, wat in 2012 as die naaswenner aangewys is vir sy roman ’n Man van min belang (Human & Rousseau), sê: “Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is die plek waar jy jou eie storie kan vertel in die geselskap van ander storievertellers, almal aangesteek deur die lekker gees van die Afrikaanse woord - boonop beloon met aansien, erkenning en ’n goeie gawe vir jou harde werk.”

Volgens die uitvoerende hoofbestuurder van Media24 Boeke, Eloise Wessels, gee hierdie wedstryd erkenning aan ervare én amateurskrywers. “Dit is ook ’n uitstekende platform vir die ondersteuning, ontwikkeling en moontlike publikasie van nuwe werk in Afrikaans,” sê sy.

Die Groot Romanwedstryd, voorheen onder meer bekend as die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd en daarna die Sanlam-romanwedstryd, werf reeds sedert 1990 nuwe talent onder aspirantskrywers en moedig ook ervare skrywers aan om nuwe manuskripte te voltooi. Vorige wenners van hierdie wedstryd sluit in Alexander Strachan, Erika Murray-Theron en Dan Sleigh.

Manuskripte vir die Groot Romanwedstryd 2015 word vanaf 1 Januarie 2014 aanvaar en die sluitingsdatum is 1 September 2014. Die wedstrydreëls en inskrywingsvorm kan hier afgelaai word. Skrywers kan ook NB-Uitgewers se webwerf by www.nb.co.za besoek vir meer inligting oor die drukname.

Alle manuskripte moet gepos word na:

Vir aandag: Danita van Romburgh, NB-Uitgewers, Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015 (voorkeurdruknaam), Posbus 879, Kaapstad 8000

Vir meer inligting kontak 021 406 3412 of romanwedstryd@nb.co.za.

NB-uitgewers