Die millenniërgenerasie word dikwels as egosentries uitgekryt. Tog is hul hart oop vir dinge waaraan hulle glo. Méér nog. Hulle dóén iets daaraan.

Matt Little wou akteur word. Maar sy tydjie in die rolprent- en TV-bedryf het ’n slegte nasmaak by hom gelaat.

Veral die gedrag van sy tydgenote in die bedryf het hom ontmoedig. Hulle is materialisties, obsessief oor hul eie beeld, stel net belang in hul sosialemediaprofiel, vertel hy aan die webtuiste businessinsider.com.

Toe, in 2010, tref ’n aardbewing Haïti. Matt het met die reddingsoperasie op die eiland gaan help. En oral om hom was daar millenniërs, besig om lewens te probeer red. “Ek was net nie in die regte groep in LA nie.”

Hy en ’n vriend, Ari Anderson, het mettertyd ’n teenstrydigheid besef: tussen die jonges wat hulle in die regte lewe ken en die narsistiese individue wat op die internet uitgebeeld word. 

Google “millennials” en jy kry outo-suggesties soos “lazy” en “dumb”. Etikette soos “narsisties”, “eiegeregtig” en “obsessief oor eie self ”.

Dus bevat Matt en Ari se potgooi (podcast) “Millennials Don’t Suck” (www.millennialsdontsuck.com) onderhoude met jonges van agtien tot in hul mid-dertigs – om dié stereotiepe nek om te draai.

Die nuustydskrif TIME se voorblad van 20 Mei 2013 sê dit als: ’n Foto van ’n meisie wat ’n selfie neem. Die voorbladprikkel: “Millennials are lazy, entitled narcissists who still live with their parents.” En dan: “Why they’ll save us all.”

Hulle is nie perfek nie. As individue en as groep het hulle hul sterk en swak punte, soos ons almal maar. Maar kom ons laat die skaal meer na die positiewe kant toe swaai. Want net dalk laat die ouer generasie oor die algemeen dié groep (rofweg gebore tussen 1980 en 2000) té harde bene kou.

Daar word soms van sy generasie gepraat as die “me-lennials”, sê Walton Kruger, ’n jong sakeman van George. En ja, sy ouderdomsgroep ís baie bewus van die “ek”, reken hy. Maar tog ...

Neem hom nou maar as voorbeeld. Sy maatskappy, Amiici Global, het vroeër vanjaar skenkings vir slagoffers van dieverwoestende brande in en om Knysna ingesamel.

Hy is betrokke by ’n handvol liefdadigheidsprojekte, waarvan Liefde Wen (liefdewen.co.za) hom naaste aan die hart lê. (Dis ’n organisasie sonder winsmotief wat die opbrengs uit die  verkope van hul produkte stort in projekte waarin hulle glo.)

 

OOP HANDE

Die millenniërs, nou die grootste lewende generasie, se hart is oop vir kwessies waarin hulle glo. Hulle skenk geld en tyd daarvoor – selfs al rol hulle nie in die pitte nie. Sowat 75% sê hulle stres dikwels oor geld en 39% chronies, volgens die webtuiste quantumrun.com 

Hulle het dikwels baie studieskuld, werk is skaars weens die sukkelende ekonomie en hulle moet dalk daarom terugtrek huis toe.

Daar is ’n interessante parallel tussen protesterende plaaslike en Amerikaanse jonges, volgens Dion Chang, tendenskenner en stigter van Flux Trends (fluxtrends.com).

In Amerika word gepraat van die nuwe stedelike armes (urban poor), jong mense wat met ’n swaar studieskuldlas sit. Plaaslik was daar verlede jaar die Fees Must Fallprotes. “Hulle baklei vir dieselfde ding,” sê Dion.

Teen dié agtergrond gesien, is hul vrygewigheid indrukwekkend. “Ja, alle generasies is op dié ouderdom idealisties. Die verskil is dat hulle die daad by die woord voeg,” volgens Jean Case van die Case Foundation wat die Amerikaanse Millennial Impact-verslag finansier. (www.themillennialimpact.com)

“Pragmatiese idealiste,” noem David D. Burstein hulle in sy boek Fast Forward: How the Millennial Generation is Shaping Our World (Beacon Press, 2013). Hoewel hulle idealisties is oor verandering in die samelewing, verstaan hulle ook ’n plan is nodig om dit te laat realiseer.

Hul voorliefde vir protes herinner aan die Baby Boomer-generasie (hul ouers/grootouers) se wêreldbeskouing. Die verskil: Die Boomers het radikale aktivisme verkies (onthou die konfrontasies tussen aktiviste en die polisie in die sestigs). 

Die millenniërs, daarenteen, sien verandering as iets evolusionêr. “Ons glo ons moet binne en buite die samelewing se groot instellings werk,” skryf Burstein, self ’n millenniër. “Buite” beteken hulle kan wel oproerig die strate invaar, soos plaaslik met die “Fees Must Fall”-protes.

 

DÍT VORM HULLE

Hulle is die eerste generasie wat grootgeword het met 24/7-nuus, jaarin en jaaruit (CNN is in 1980 gestig). In hul tienerjare (grootliks die 90’s) is hulle midde-in ’n tegnologiese revolusie, die internet.

Nuwe sakemodelle word ontwikkel, bv. die deel- (share) ekonomie soos Airbnb en Uber. En met nuwe toestelle, veral die slimfoon, lê die wêreld se toekoms in hul hande, volgens ’n artikel, “How millennials will change the world”, op www.quantumrun.com.

Maar ’n wêreld wat teen die draai van die millennium donkerder raak. Die 9/11-aanval op die World TradeCenter in New York word opgevolg deur die Afghanistan- (2001) en Irak-oorlog (2003), wat lank voortsleep. 

Daar is ’n bewuswording van die mens se kollektiewe impak op klimaatsverandering, met dokkies soos Al Gore se An Inconvenient Truth (2006). Die finansiële ineenstorting in 2008/9 lui ’n uitgerekte resessie in. In die Midde-Ooste is daar die Arabiese Lente (2011), wat regerings laat sneuwel, maar uiteindelik tot min verandering lei.

Hul vormingsjare is dus gevul met gebeurtenisse wat mense verbind soos nooit vantevore nie. Maar daarmee saam kom die besef dat ons kollektiewe besluite en leefstyl ernstige gevolge vir die wêreld kan inhou, volgens die artikel. 

“In teenstelling met ons ouers leef ons nie rustig saam met ons bure in voorstedelike cul-de-sacs nie. Ons gebruik tegnologie om deel te neem aan die chaotiese, uiteenlopende wêreld om ons. Ons beleef een ná die ander groot burgerregte- en humanitêre krisis.

Tegnologie het ons bewapen met kennis en begrip van hoe mense in ander samelewings, sosiaal-ekonomiese klasse en lande reg oor die wêreld leef. Ons is meer bewus as ooit vantevore van ander se lot – vriend én vreemdeling. Dit vorm ons waardestelsels en beïnvloed ons keuses op ongekende maniere,” skryf Ashley Stahl, ’n millenniër, op forbes.com.

 

NIE NET LIPPETAAL

Kortom: Millenniërs is meer omgewings- en sosiaal bewus as vorige geslagte. En maatskappye wat hul geld wil hê, of dat jong, talentvolle werknemers by hulle moet bly, moet dit besef, het kundiges verlede jaar by die Sustainable Brands-konferensie in Sydney, Australië, gesê. (Lees meer: www.sb16sydney.com) Anders loop hulle die risiko om dié groep as kliënte én werknemers te vervreem.

Millenniërs sal uit hul pad gaan om vir ’n maatskappy te werk wat werklik verbind is tot korporatiewe sosiale verantwoordelikheid, omgewingsvriendelikheid, deursigtigheid en volhoubaarheid, volgens sprekers by die konferensie.

Voorts omhels hulle handelsmerke wat hul waardes deel, bevestig die plaaslike CosmoMillennials-peiling, waarby 3 400 respondente betrek is. En hulle beïnvloed boonop die koopgewoontes van hul gesin. (cosmomillennials.com)

In ’n Australiese peiling het 62% bvan millenniër-ouers gesê hul kinders bespreek gereeld omgewingsvraagstukke tuis. Sowat 40% het al ’n (gesonder/ omgewingsvriendeliker) produk gekoop op aanbeveling van hul kinders. (www.eco-business.com)

Ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat is sowat drie uit vier bereid om ekstra vir volhoubare produkte te betaal, volgens Nielsen se aanlyn Global Health and Wellnesspeilingonder 30 000 verbruikers in 60 lande (ook Suid-Afrika).

Behalwe maatskappye wat omgewingsvriendelik en sosiaal betrokke is, was produkte met vars, natuurlike en/of organiese bestanddele ook hoog op hul voorkeurlys. Dit was belangriker as voordele soos koste of gerief. (nielsen.com)

Maatskappye buig agteroor om dié groot groep se koppe en harte te wen. Dit is hoofsaaklik vanweë navorsing onder hulle dat skoonheidshuise nou produkte se formules en verpakking meer omgewingsvriendelik maak, sê Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur.

Só is die verpakking van Dior se nuwe velsorgreeks, Hydra Life, eenvoudiger en die bestanddele natuurliker. Die bestanddele in Kiehl’s se nuwe skoonheidsroom, Pure Vitality Skin Renewal Cream, klink lekker genoeg om te eet: manuka-heuning en rooi ginseng-wortel.

H&M laat die kollig op volhoubare mode val met hul motto: Look good, do good, feel good. Op hul webblad, about.hm.com, wys hulle ook dis nie sommer praatjies nie. (Die web is die natuurlike habitat van die millenniërs. Maatskappye moet ook hiér met hulle skouer skuur.)

 

ALMAL BROERS (EN SUSTERS)

Danksy die internet en hul toenemende blootstelling aan verskillende leefstyle, rasse en kulture is hulle meer verdraagsaam en liberaal oor sosiale kwessies.

Só sal pres. Donald Trump van Amerika se verbod op transgender-mense in die weermag die generasiegaping rek.

Want millenniërs is baie meer “oop” vir ’n wye reeks van geslagsidentiteite, volgens TIME.

 

ONS BROSE AARDE

Studies toon ’n groot meerderheid, meer as die Boomers (gebore 1945 tot 1960) of Generasie X (1960 tot 1980), sien klimaatsverandering as ’n wesenlike probleem, volgens forbes.com

Belangriker is dat hulle hand uit die mou steek. Met die stig van organisasies soos NextGen Climate, wat die impak van weghol-klimaatsverandering kwantifiseer en politieke aksie dryf om dit te bekamp; die kies van omgewingsvriendelike produkte; en die verandering van hul gedrag, soos herwinning en die gebruik van openbare vervoer.

 “As millenniërs voortgaan om omgewingsvriendelike sake- en maatskaplike praktyke te eis en te ondersteun, kan hulle só die wêreld letterlik red,” sê Erika Andersen, skrywer van Be Bad First: Get Good at Things Fast to Stay Ready for the Future (Routledge, 2016) op forbes.com.

 

LEEF GESOND

Ons is almal oor die algemeen meer pro-aktief om met gedragsveranderinge siektes te prober voorkom – veral die jonges, volgens Nielsen se peiling.

Millenniërs is voor in die koor met gesonder leefstyl- en dieetvoorkeure. Hulle deel graag foto’s van gesonde kos op Instagram met #eatrealfood en #growyourown. Dit kan ’n omwenteling in die gesondheidsbedryf meebring.

Nes met die motorbedryf in ontwikkelde lande met ’n goeie openbare vervoerstelsel, sê Dion. Die generasie besit nie motors nie. Volgens bronne soos www.quantumrun.com het hulle eenvoudig nie geld daarvoor nie. Soos hulle ook verplig is om eerder woonplekke te huur as koop.

 

SELFONE DIE NUWE ROOK

Volgens forbes.com het selfone by hulle rook vervang as iets om te doen as jy ledig is of “eksistensiële angs jou wil  oorval”.

 

KWEEK HUL EIE KOS

Daar is ’n renaissance van stedelike tuine. Selfs op piepklein balkonne blom kruietuine. Hulle kweek veral kos om redes soos volhoubaarheid en gesondheid. Hulle wil wéét waar hul kos vandaan kom, sê die webtuiste Quartz (https://qz.com). 

Hulle is ook twee keer meer geneig as nie-millenniërs om (dikwels duurder) organiese kos te koop – terwyl hulle nie in die geld rol nie.

Dít gesê, hulle is net so oorgewig/vetsugtig, selfs méér, as ouer generasies,  volgens die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention (www.cdc.gov). Wat hul risiko aansienlik verhoog vir leefstylsiektes soos diabetes later in hul lewe. Kry dié kloutjie by die oortjie!

Dís die millenniërs. Soos Walton Kruger hul generasie vasvat: “Ons is oukei met onsekerhede – dis waarom baie nuwe maatskappye opskiet waaraan niemand vantevore gedink het nie.

Ons is oukei met grys gebiede, hoewel ons nog hunker na swart en wit, want dis veilig. Ons vra onverbiddelik vrae, dis waarom politici so ’n moeilike tyd met die ‘jeug’ het.

Maar ons is doodeerlik met ons emosies en gedagtes en ons het ’n platform daarvoor: sosiale media, blogs, YouTube, koerante, optogte . . . enigiets waar ons stem gehoor kan word.”

I live in my little world but it’s ok, they know me here ? #??

A post shared by ∞ Nesrine Fakih ∞ (@nes.laura) on