Daar is tye dat saamleef onder dieselfde dak selfs die geduldigste onder ons kan beproef. As gunsteling-stoele opgeëis word en kos geheimsinnig verdwyn, is dit geen wonder dat geduld dun geskaaf word nie – en dis net die troeteldiere.

In ’n ongewone studie het navorsers besluit om die verhouding tussen honde en katte onder een dak te ondersoek. Hulle het bevind dat ja, katte is meer geneig om senuweeagtig te wees. Maar hulle sukkel ook nie juis om hulself te handhaaf nie. In die aanlyn peiling het meer as 80 persent van die 748 troeteldiereienaars in Brittanje, Amerika, Australië, Kanada en Europa wat deelgeneem het, aangedui hul troeteldiere is gemaklik met mekaar. Net sowat 3 persent het laat blyk Kiets en Woef kan mekaar nie verdra nie.

Ten spyte van die algemene prentjie van harmonie het die studie aan die lig gebring katte is by verre meer vyandig. Die eienaars het laat blyk katte is drie keer meer geneig om aggressief teenoor hul hond-huismaat te wees as omgekeer. En tien keer meer geneig om hom in ’n geveg te beseer. Nie dat honde te veel gepla is nie. Meer as ’n vyfde sal speelgoed optel en dit vir die kat wys. Terwyl net 6 persent van katte dit doen. 

Navorsers aan die Universiteit van Lincoln het die studie gedoen om uit te vind wat lei tot vreedsame hond-kat-verhoudinge. Dit sal die risiko verminder dat troeteldiere in skuilings beland wat vir hul ander huise moet soek. “Ons wou graag weet wat veroorsaak dat kat en hond in harmonie saamleef,” sê dr. Sophie Hall, mede-outeur van die studie wat in die Journal of Veterinary Behaviour gepubliseer is. “Hulle word dikwels as vyande uitgebeeld maar dis nie altyd die geval nie.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die navorsers het bevind honde en katte baklei selde soos, wel, hond en kat. Sowat 57 persent van eienaars sê hul kat blaas, spoeg en klap die hond en 18 persent sê hul hond bedreig die kat. Maar minder as 10 persent van katte en net 1% van honde beseer ooit die ander een. Dr. Hall glo die rede daarvoor is dat honde veel langer saam met mense woon en makliker opgelei word as katte. En dus meer in staat is om hul gedrag te beheer. Aangesien katte meestal die verloorder is as hulle aanmekaarspring, het dié dier uiteraard meer versekering nodig dat hulle veilig onder dieselfde dak is. “Dis vir honde makliker om gelukkig saam met katte te leef, as omgekeerd,” sê dr. Hall.

Nog waarnemings: Kos, speelgoed en beddens word nie gereeld gedeel nie; en hoewel honde en katte mekaar soms was, gebeur dit ook nie baie nie.

Die beste voorspeller vir gelukkige hond-kat-samesyn is die kater se ouderdom wanneer hulle begin saamwoon. Maak seker Kiets is nog jonk (verkieslik jonger as ’n jaar). Katte is ook gemakliker as hulle eerste in die huishouding was. Geslag en of hulle gesteriliseer is, maak nie juis saak nie. “Eienaars moenie bang wees om ’n hond en kat te hê nie. Oor die algemeen is albei diere gemakliker met mekaar in die omgewing as wat ons sou dink. Ons moenie dink hulle kan nie in harmonie saamleef nie,” volgens dr. Hall.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Wenke as jy hulle aan mekaar bekendstel, volgens Small Dog Place.

* Doen dit nadat hulle geëet het en albei ontspanne is

* Hou die hond aan ’n leiband en die kat aan die ander kant van die vertrek

* Laat hulle toe om eers aan mekaar te ruik. Reuk is vir sowel honde as katte belangrik

* Gee albei ’n lekkerny – jy wil hê dat hulle mekaar daarmee assosieer

* Hou albei dop vir waarskuwingstekens dat iets nie reg is nie

* Los hulle in ’n klein vertrek, maar bly naby genoeg om tussenbeide te tree as dit nodig is

* Moenie die kat toelaat om weg te hol nie. Die hond gaan dit as ’n teken sien dat hy haar moet jaag

* Moenie een van hulle straf vir tekens van aggressie nie.

* Sorg vir ’n hoë krappaal/toring met baie landingsplekke waar die kat die hond vanuit die hoogte kan betrag

 Bronne: The Guardian, Psychology Today