Afrikaans is onmisbaar in die mond van sy mense. Haar krag lê in álmal wat dit praat – ongeag dialek of variëteit. Vroeër jare was dit ‘n emosiebelaaide debat, toe sommige sprekers gemeen het Standaardafrikaans staan in ‘n hoër sosiaal-maatskaplike klas as die res.

Adam Small het hom sterk uitgespreek teen stigmatisering van Kaaps, maar dit geld vir alle variante en dialekte van Afrikaans – en dit is juis hierdie persepsie wat Afrikaans.com deur ons jongste veldtog – Afrikaans is #onmisbaar – dink na oor die waarde van JOU taal –  wil belig. Die egtheid en eiesoortigheid van almal wat Afrikaans praat. Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy behoort.

BRON: Afrikaans.com (www.afrikaans.com/afrikaans-vandag/reeks-afrikaans-is-onmisbaar-in-die-mond-van-sy-mense-griekwa-afrikaans/

In die vroegste jare in die Kaap het drie variëteite van Afrikaans ontstaan, waaruit ander mettertyd gegroei het. Die slawe het Kaapse Afrikaans gepraat, die Khoi – wat uitgewyk het na die noorde – het Oranjerivierafrikaans gepraat en die Vryburgers wat Oosgrens toe is, het Oosgrensafrikaans gevestig.

BRON: Afrikaans.com (www.afrikaans.com/afrikaans-vandag/oostelike-afrikaans-oosgrensafrikaans/)

Oranjerivierafrikaans:

Griekwa-Afrikaans

Khoi-Afrikaans staan in die Noord-Kaap as Griekwa-Afrikaans bekend en het sy ontstaan in die gelyknamige Griekwastad in die Noord-Kaap gehad.

Taalkenmerke van Griekwa-Afrikaans

  • Die gebruik van die meervoudsvorm “-goed” bv. “Ma-goed” en “Pa-goed”
  • Palatalisasie, of ‘n verplatte klank gevorm teen die harde verhemelte, kom voor, soos “kjerk” en “gjeld”
  • “Se” dui besit aan, soos “ons se ma” en ontronding is algemeen, byvoorbeeld “deer” pleks van “deur”
  • Werkwoorde kry dikwels hulp van ander werkwoorde, soos “wa lê loop jy nou?”

Lees die artikel: Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense - Griekwa-Afrikaans deur Johanna van Eden.

Namakwalands

Een van die kleurvolste subvariëteite van Afrikaans is Namakwalands, met sy wortels in Oranjerivierafrikaans. Namakwalands het sy ontstaan in die gelyknamige distrik in die Noord-Kaap, waarvan die vernaamste dorpe Springbok, Garies, Port Nolloth, Kamieskroon, Alexanderbaai, Steinkopf, Hondeklipbaai en Leliefontein is.

Taalkenmerke van Namakwalands-Afrikaans

  • Die oorronding van klanke kom voor bv. “speel” word as “speul” uitgespreek en “sewe” as “seuwe”
  • Die voorvoegsel “on” word soms selfstandig gebruik bv. “die weer is on” pleks van “dis onweer”
  • Eiename word saam met “-goed” gebruik, soos “Elias-goed”
  • “Ge-” word by feitlik enige werkwoord gebruik, soos “geonthou” en “geverbrand”
  • Die gebruik van die besitlike voornaamwoord kom voor, bv. waar “sy ryding” as “hom se ryding” beskryf word of “sy donkies” as “hom se donkies”
  • Besonderse beeldryke gesegdes, bv. gaan jy dood “gaan jy sandkooi toe” of as jy honger gaan slaap, “gaan jy plankpens lê”

Lees die artikel:  Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense - Namakwalands deur Johanna van Eden.

Kaapse Afrikaans:

Kaapse Vlakte-Afrikaans

Kaaps is uiteindelik die somtotaal van die impak van Engels, Maleis, Arabies en Indonesies op Afrikaans.

Taalkenmerke van Kaapse Vlakte-Afrikaans:

  • Die post-vokaliese R-weglating (vi’ pleks van vir)
  • Die ontvorming van die j-klank (djy pleks van jy)
  • Die verhoging van die e- en o-klanke (wies vir wees en soes vir soos)
  • Die verkorting van die a-klank (byvoorbeeld gan vir gaan)
  • Die Islam-invloed is duidelik in woorde wat verband hou met geloof en kos, bv. boeber (tradisionele Maleise melkkos) en boerka (tradisionele gewaad van Moslem-vroue)
  • Uit hierdie variëteit kom ook nuwe uitdrukkings, bv. “ek gooi ‘n lange” (gee vinnig pad), “aan jou kerrie werk” (jou irriteer), “ek hang nie slange nie” (iets sonder verwyl doen) en “papgeld” (onderhoud)
  • Saam met die vernuwing is daar verouderde vorme van Nederlandse woorde wat voorkom, soos “krant” vir “koerant”

Lees die artikel: Kaapse vlakte: Kaaps-Afrikaans deur Johanna van Eden

Kaapse Afrikaans (Bo-Kaaps):

Bo-Kaaps staan knus langs haar suster, Kaaps, as variëteit van Afrikaans. Waar Kaaps beskou word as die loslitsussie met die jive, is Bo-Kaaps die intellektuele, spirituele ousus – die oerbron van Afrikaans as geskrewe taal, skryf Johanna van Eeden.

Taalkenmerke van Bo-Kaaps-Afrikaans:

As variëteit het Bo-Kaaps kenmerke wat ooreenstem met Kaaps, soos vokaalverhoging en die post-vokaliese r-weglating.

‘n Ryker ontlening uit die slawe se moedertale en weens die Moslem-invloed word dit soms ook beskryf as “Arabiese Afrikaans”. 

Woorde uit Maleis wat opgeneem is in Afrikaans sluit in baie, baklei, piering en piesang. Uit Portugees is kiepersol, mielie, kraal, tamaai en sambreel ontleen.

Lees die artikel: Reeks: Kaapse Afrikaans: Bo-Kaaps deur Johanna van Eden

Oosgrensafrikaans: 

Die Oostelike Afrikaanse variëteit staan ook bekend as Oosgrensafrikaans en Transvaalse Afrikaans. Oosgrensafrikaans is hoofsaaklik gepraat deur die Europese trekboere wat sedert 1836 na die oosgrens van die kolonie getrek het en later na die binneland om die Boererepublieke te stig.  Oosgrensafrikaans word hoofsaaklik in die volgende gebiede gepraat: Gauteng, Vrystaat, Natal, Oos-Kaap, Kaapse binneland en Karoo. Uit hierdie noordelike variëteit het Standaardafrikaans ontwikkel.

Die standaardvorm, ook die standaardvariëteit genoem, is ten opsigte van streekskenmerke die neutraalste vorm van die taal wat as oorkoepelende vorm gebruik word. Aan ’n teks wat in die standaardvariëteit geskryf is, is gewoonlik moeilik af te lei uit watter deel van die land die skrywer kom, of uit watter sosiale groep.

Lees die artikel: Oostelike Afrikaans (Oosgrensafrikaans)

Lees meer oor Afrikaans se kleurryke geskiedenis, variëteite en lewendige toekoms op Afrikaans.com.

Vertel ons wat maak Afrikaans vir jou onmisbaar deur vir Afrikaans.com 'n WhatsApp te stuur na: 064 652 6873

Loer hier onder na ons bronne en skakels:

Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense - Griekwa-Afrikaans

Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense - Namakwalands

Kaapse vlakte: Kaaps-Afrikaans

Reeks: Kaapse Afrikaans: Bo-Kaaps