Sy’t hom ’n oomblik vasgehou en saggies oor sy gesig gestreel. Toe trek sy self die sneller . . . Dít was die voorbladnuus-bewerings in die opspraakwekkende hofsaak waarin Najwa Petersen saam met drie mans aangekla word van die huurmoord op haar talentvolle man, die musieklegende Taliep Petersen.

Aan bespiegelings oor wat haar tot so ’n skokkende daad sou dryf, is geen tekort nie. Wraak en woede omdat sy verwerp is, meen baie. Taliep wou glo van haar skei en Najwa, ’n vermoënde vrou met ondernemings, eiendom en geld, was nie bereid om die helfte vir hom te gee nie.

Net so kon die mooie Dina Rodrigues dit nie verwerk dat haar geliefde, Neil Wilson, ’n baba by ’n ander vrou het nie. Sy het vier mans gehuur om klein Jordan Leigh Norton met ’n mes dood te steek. Nou sit sy lewenslank agter tralies.

Verwerping is altyd seer, sê Jeanette Blom-Prinsloo, sielkundige van Pretoria. Maar vroue voel makliker verwerp as mans en beleef dit oor die algemeen swaarder. Darem nie alle vroue raak moorddadig nie. Sommige gaan sit in ’n hopie as hulle verwerp word. Ander krap hul man se motor, knip sy ontwerperdasse se punte af of breek sy gholfstokke.

Pasop!

  • As jy jou wraak uitleef deur jou eks te verpes, kan hy ’n interdik teen jou kry. Dit kan jou bv. verhinder om binne ’n sekere afstand van hom te kom, hom te kontak of sy eiendom te betree.
  • As jy sy besittings beskadig, kan hy ’n skadevergoedings- eis teen jou instel. Jy sal dan vir die skade moet betaal. Hy kan terselfdertyd ’n klag van saakbeskadiging aanhangig maak. Die polisie sal dit ondersoek. Jy kan óf ’n boete opgelê óf opgesluit word.
 

Verwerping laat vroue kwesbaar en hulpeloos voel. Terwyl dit sommige as ’t ware laat wegkwyn, kry ander wraakgedagtes om hulself te beskerm en te laat geld. Hulle wil hul eks “vernietig” omdat hy hulle “vernietig het”. Of hulle haal hul woede op die “ander  vrou” uit, soos Lisa Nowak, ’n gewese ruimtevaarder van Nasa, glo gedoen het toe sy 1 500 km reg oor Amerika met ’n doek aan gery het om die nuwe vrou in haar geliefde se lewe te gaan “konfronteer”. Nou word sy daarvan aangekla dat sy Colleen Shipman probeer ontvoer het omdat dié ’n verhouding het met William Oefelein, ook ’n ruimtevaarder op wie Lisa verlief is.

Volgens die polisieverslag het sy ’n doek gedra sodat sy nie by toilette hoef te stop nie, maar haar prokureur ontken dit. Toe Colleen haar motorruit oopdraai, het Lisa haar met pepersproei gespuit. Colleen het weggejaag. Die polisie het Lisa later voorgekeer, en ook ’n windbuks, jagmes en plastiekhandskoene by haar gekry . . .

Sandy Ngema, aanbieder van die TV-reeks Strictly Come Dancing, glo weer jy moenie die minnares konfronteer nie. "Wanneer ons mans ons verkul, wil ons altyd met die ander vrou gaan baklei - maar dis die man wat besluit om ontrou te wees.” Sandy het onlangs in Drum vertel hoe sy al haar man se klere aan die brand gesteek het nadat hy haar vertel het hy het ’n minnares wat boonop swanger is met sy kind. (Sandy was toe self swanger.)  “Hy het net die klere aan sy lyf oorgehad,” sê sy. En dit was net die begin: Die volgende dag het sy al 200 CD’s in sy waardevolle versameling middeldeur gesny.

Met tegnologie kan jy ’n rondloper-man deesdae lelik seermaak: DontDateHimGirl.com is ’n webwerf wat ’n verwerpte vrou van Amerika geskep het, waarop vroue inligting, selfs foto’s, van hul ontroue ekse plaas. En hulle waarsku: Bly weg van hom! Volgens www.canada.com kry dié webwerf gemiddeld 200 000 besoeke per dag.

Só het ons wraak geneem

’n Paar Gautengse en Kaapse vroue vertel hoe hulle wraak geneem het ná verhoudingsprobleme:

  • Ek was woedend en het met sy eie pik ’n gat in een van sy nuwe motorbande gekap.
  • Ek het ’n apparaatjie wat muskiete doodmaak naby sy vistenkie gesit. Ná drie dae het die visse, pense na bo, op die water gedryf.
  • Ek het foto’s van kommin, semi-naakte vroue van sy rekenaar af na sy minnares gestuur en daarby geskryf: “Ek sien uit na ons volgende ontmoeting.” Ongelukkig is hulle steeds bymekaar.
  • Ek het ’n werkstuk waaraan hy ’n week lank baie hard gewerk het, van sy skootrekenaar afgevee.
  • My vriend het bykans 3 500 CD’s. Net nadat hy my per SMS gelos het, het ek die CD’s almal uit hul omslae gehaal en hulle deurmekaar op ’n hoop gegooi.
  • Ek het sy telefoonnommer in ’n telefoonhokkie gaan neerskryf met die boodskap: “Mans en vroue kan my bel vir ’n opwindende aand.”
 

Sofia de Waal*, ’n Kaapse rekenmeester, sê haar man wou nie uit die huis trek nadat hy haar verkul het en hulle geskei is nie. “Ek het dinge vir hom onaangenaam gemaak. Eers het ek ’n smaaklose purgeermiddel in sy kos gesit. Toe rissies bo-op sy gekleurde onderbroeke gestryk. Hy het toe jy-weet-waar gebrand. Later het ek twee toonnaels opsigtelik in sy kos gegooi. Sy beste vriend sê toe vir hom hy dink ek wil hom vermoor. Ek sal nooit moor nie, maar my plan het gewerk: Hy het getrek.”

Ook in die letterkunde neem verwerpte vroue wraak. In Roald Dahl se gewilde kortverhaal “Lamb to the Slaughter” sê Mary Maloney se man uit die bloute hy wil skei. Sy slaan hom met ’n gevriesde skaapboud dood - en vernietig die bewyse deur die skaapvleis aan niksvermoedende polisiemanne op te dis.

In Reinet Nagtegaal se jongste boek, Abra K’Dabra, verwys die karakter Bart Kasper na hoe sy ma sy pa “gesaboteer het” ná hul egskeiding. Sy het 300 bottels uitsoekwyn met wynrak en al van die muur af laat tuimel en sy koedoe-biltong met paraffien besmet.

Hoekom reageer vroue dan so heftig op verwerping - of dit hulle nou niks werd laat voel of tot wraak dryf? 

Daar is biologiese en sosiale redes, sê Elise Beeby, sielkundige van Rondebosch, Kaapstad. Vroue was nog altyd die “voortplanters”. Onbewustelik glo jy dus jy móét 'n man kry (en kinders hê). “Dis gelukkig nou aan die verander, maar vroue is boonop deur die eeue heen geïndoktrineer om te glo ’n man gee jou waarde. Wanneer hy jou verwerp, glo jy onbewustelik jy het as vrou gefaal, en dat jy nie mooi of maer genoeg is om ’n man se aandag te trek en te behou nie.” Selfs vroue wat suksesvol is in hul werk, voel dikwels soos ’n mislukking as hulle nie iemand in hul lewe het nie. Mans, daarenteen, se waarde is nog altyd aan veel meer gemeet as hul vermoë om ’n vrou te kry.

Vroue is boonop van nature “gaarders”. Mans is “jagters” en vind dit makliker om van “teiken tot teiken” te beweeg. ’n Vrou gaar as ’t ware haar gesin en besittings op en as dit bedreig word, vrees sy eensaamheid en dat sy nie op haar eie sal kan oorleef nie. Gay vroue reageer net so heftig op verwerping as heteroseksuele vroue, sê Elise, veral as hulle ’n afhanklike en ondergeskikte rol in die verhouding speel, of ’n swak selfbeeld het. ’n Gay vrou wil ook behoort in ’n verhouding, en sy kan voel haar veiligheid word bedreig. “Dan wil sy ook seermaak omdat sy seergemaak is.”

Vroue wat hulself as ’n slagoffer sien of ’n swak selfbeeld het, is in die algemeen meer geneig tot wraakgedagtes. Omdat so ’n vrou minderwaardig voel, het sy heel moontlik oorafhanklik geword van haar maat se aanvaarding en liefde, verduidelik Elise. ’n Vrou met ’n gesonde selfbeeld sal haar emosies beter hanteer, want sy’s selfversekerd en meer onafhanklik. Erkenning en aanvaarding kom dan van binne af. Sy het ook die innerlike krag en vermoë om die verhouding wat skeefgeloop het te kan verwerk.

Dan is daar die rol van kinderjare. Verwerping as kind, veral deur jou pa, het jou dalk laat voel jy kan nie sonder die liefdevolle versorging van jou ouer klaarkom nie. Dié gevoelens kom nou weer na vore wanneer jy as vrou deur jou maat verwerp word. Jou binnekind neem as ’t ware oor, sê Jeanette.

Aan die ander kant van die skaal is jy dalk as kind oorbeskerm en wil vandag nog beskerm word en jou behoeftes onmiddellik bevredig hê (wat jy nie kry wanneer jy verwerp is nie). Omdat ’n mens jou “bagasie”, vrese, gedragspatrone en ontwikkelingstraumas by ’n liefdesverhouding indra, is die emosie betrokke ook meer intens, ekstreem en kinderlik as in ander verhoudinge, sê Jeanette. “Op ’n kinderlike vlak is wraakgedagtes dus natuurlik. Jy dink: “As jy my seermaak, doen ek dieselfde aan jou.” Maar bitterheid en wraakgedagtes kan jou lewe oorneem en jou eks juis te veel mag oor jou gee. Dit kan keer dat jy aanbeweeg en weer geluk vind.

Verwerk dit eerder só

Elise Beeby, sielkundige, gee die volgende raad:

  • Besoek ’n hipnoterapeut, wat deur hipnose kan vasstel hoekom jy die verwerping op jou manier ervaar en jou help om dit te verwerk. Jy sal dan met nuwe oë daarna kyk en nie meer toelaat dat dit jou lewe omverwerp nie.
  • Jy kan jou gevoel verander deur anders na die situasie te kyk. Dink aan iemand vir wie jy respek het en wat jou nog altyd ondersteun het, soos ’n ouma of oupa. As jy nie kan nie, skep vir jou ’n wyse persoon of mentor, by wie jy gelukkig en veilig kan voel. Praat met jou mentor. Vra jouself af wat hy of sy sou gesê het as jy reageer soos jy nou reageer.
  • Bestee daagliks tussen vyf  tot tien minute om negatiewe energie te ontlaai. Skryf jou gedagtes neer. Begin met: “Ek voel . . .” Skeur die papier op en sê aanhoudend vir jouself dis verby. Huil of oefen (bv. draf of gim) die emosie uit.
  • Lê klem op jou positiewe eienskappe en waardeer hulle. Gee aan elkeen ’n kleur en omring jou met ornamente in dié kleure om jou daaraan te herinner.
  • Vra jou terapeut oor moontlike ondersteuningsgroepe.
  • Vra jouself wie anders as jou eks belangrik is in jou lewe. Fokus op dié mense. Omring jouself met positiewe mense en energie. Negatiewe emosies is aansteeklik.
  • Besef dat jy jouself op grond van jou eie stel waardes moet goedkeur, nie jou eks s’n nie, sê dr. Gretchen Erwee, opvoedkundige sielkundige.
  • Waak daarteen dat jou lewe gevoed word deur wraak. Dit sal jou lewe net met donker energie vul en jou lewensgehalte laat afneem, waarsku Gretchen.

 

Die eerste stap tot “genesing” is om hom te vergewe, sê dr. Gretchen Erwee, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Jy het ontoereikende liefde ervaar, ja, maar jy kan nie kwaad bly omdat hy nie aan jou behoeftes kon voldoen nie.”

Jeanette voeg by: “Sê ook vir jouself dit gebeur selde dat een party die ander doelbewus wil seermaak.” Besef dat jy nie net goed en jou eks net sleg is nie. Alle mense is goed en “sleg”. Kyk anders na die situasie. Om verwerp te voel is ’n keuse, verduidelik Gretchen. Jy is
nie verantwoordelik vir jou eks se gedrag nie.

Moet dit dus nie persoonlik opneem nie. Vra jouself eerder af: Gaan hy nie dalk deur ’n fase nie? Of miskien vrees hy intimiteit en betrokkenheid weens onverwerkte probleme uit sý kinderjare.

Gaan vir terapie. Jy sal leer om jou vrese (vir bv. alleenwees) met ’n volwasse, eerder as ’n kinderlike begrip te hanteer. Dit sal ook keer dat jy onbewustelik negatiewe emosies wegbêre en dit jou toekomstige verhoudings beïnvloed.

Gun jouself tot twee jaar om die verlies te verwerk en besef jy gaan soms verbitterd, haatdraend, depressief of selfs obsessief raak en daarom wraakgedagtes koester.

Maar Gretchen stel voor jy verklaar wraak eerder as immoreel en distansieer jou heeltemal daarvan. “Onthou, jy kan nie ander mense nader aan jou baklei nie.”

*Skuilname