Selfone is lankal nie meer nét ’n hulpmiddel vir bel en boodskappe stuur nie. Jy kan foto’s neem, video’s redigeer, boeke lees, jou geldsake bestuur, kos bestel, e-posse stuur en selfs jou gesondheid monitor. Daar lê ’n wêreld van inligting tot jou beskikking op jou selfoon. Maar, waarsku kenners, in die hande van ’n kind kan hierdie toestelle verskeie gevare inhou. In ’n japtrap het hy toegang tot pornografie en kletskamers waar ongure karakters in donker hoeke wag.

In 2017 het ’n Amerikaanse pa, Brad Summers, skermgrepe van ’n aanlyn gesprek tussen sy sewejarige dogter en ’n negejarige meisie gedeel. Klink heel onskuldig, maar gou het die “meisie” vir kaalfoto’s gevra, berig Independent. Die gesprek het plaasgevind op musical.ly, ’n musiek-app waar jy video’s van 15 sekondes kan deel. Brad, ’n polisieman, het betyds ingetree en die oortreder se profiel is verwyder.

Volgens Daleen Luyt, forensiese maatskaplike werker van Pretoria, is dit kommerwekkend tot hoeveel forensiese ondersoeke die wanbestuur van selfone onder kinders deesdae lei. “Veral van ’n seksuele aard. Jy vertrou jou kind, maar ’n pornografiese video of foto kan selfs op ’n WhatsApp-groepie versprei word. Jou onskuldige kind kan maklik aan iets blootgestel word.” 

Daagliks verskyn nuwe apps en platforms waarop jong kinders en tieners boer. Instagram, Snapchat en Facebook is byna ou nuus. Jy kan geheime ontmoetings reël op Whisper. Op Wishbone kan jy twee mense met mekaar vergelyk. Jy kan anoniem met vreemdelinge gesels op Omegle. En op Burn Book kan jy leuens en gerugte versprei.

GRAFIEK April Requard

Volgens Carla de Beer, ’n sosialemedia-regskenner van The Digital Law Co, behoort alle ouers ingelig te wees oor die apps wat die kuberruim oplewer. “As ’n reël hou ons nie van apps waar jy naamloos kan wees nie, waar inhoud verwyder kan word nie.”

Ouers moet veral op hul hoede wees vir Qooh.me, ’n webtuiste waar jy ’n anonieme profiel kan registreer, sê Carla. “Sodra jy geregistreer is, kan enigiemand jou iets vra. Die webtuiste word gebruik om ander te boelie en is definitief een waarop jou kind nie moet wees nie.”

Sy raai ouers aan om die webtuiste commonsensemedia.org te gebruik om enige app na te gaan. “Weet watter apps jou kind gebruik en weet hoe hulle werk voordat jy hom toelaat om dit te gebruik. Google is jou beste maat!” 

FOTO Unsplash

Hoe oud moet my kind wees? 

Nicola van Zyl, ’n verhouding- en gesinsterapeut van Kaapstad, stel voor dat kinders eers van 13 ’n selfoon kry. “Vanaf dié ouderdom kan hulle selfdissipline in terme van hul selfoongebruik toepas. Hulle verstaan ook beter die waarde en belangrikheid van gesig-tot-gesig-kommunikasie. Ons leef ongelukkig in ’n tyd dat kinders meer as ooit tevore aan goed blootgestel word.”

Indien jy ’n selfoon vir jou kind oorweeg, moet jy jouself die volgende vrae afvra om te bepaal of jou kind volwasse genoeg is, volgens Nicola.

1.     Moet jou kind met jou kan kontak maak om sosiale redes, buitemuurse aktiwiteite of veiligheidsredes?

2.     Kan hulle die konsep verstaan dat jy hul tyd op die selfoon sal beperk en hul aktiwiteite sowel as datagebruik monitor?

3.     Kan jy hulle vertrou om nie in klastyd op die selfoon te wees of vreemde foto’s of boodskappe te stuur wat hulle in die moeilikheid kan laat beland nie?

4.     Kan hulle ’n finansiële bydrae maak tot die selfoon en/of data? Kan hulle ’n deel van hul sakgeld daarvoor gebruik?

Volgens Carla het die meeste apps ’n ouderdomsbeperking van 13. “Kinders behoort nie voor dit ’n persoonlike foon te hê nie. Deur vir jou kind op ’n jong ouderdom ’n slimfoon te gee maak jy deure oop waarvoor hulle nie gereed is nie. Pedofiele, pornografie en internet-verslawing is net van die negatiewe goed wat kan kop uitsteek.”

Ouers moet van die eerste oomblik af besluit wat die funksie van hul kind se selfoon gaan wees, meen Daleen. “Indien jy besluit om vir jou kind ’n selfoon te kry, moet jy van die begin af weet hoekom jy dit wil gee. Is dit bloot vir kommunikasie, om sosiale redes of omdat jou kind vir een gevra het? Daar moet ook duidelike grense getrek word. Moenie ’n foon gee en dan eers later begin beheer uitoefen nie. Jou kind gaan jou daarvoor verwyt. Speel van die begin af oop kaarte, laat jou kind weet waar hy met jou staan, wat die reëls is. Soos hy ouer word, kan jy meer ‘beheer’ en verantwoordelikheid vir hulle gee.” 

FOTO Unsplash

Ouers moet egter ’n voorbeeld stel van goeie selfoongebruik, sê Nicola. “Skakel jou foon af met etenstye en bêre dit as jy met jou kinders gesels – sit by hulle sonder ’n selfoon in jou hand.”

Roetine en struktuur in vir jou kind se selfoongebruik is noodsaaklik. “As ouer is jou werk nie veronderstel om maklik te wees nie. Dit moet jou kind voorberei op die lewe en dit beteken om soms ‘nee’ te sê. Bied aan kinders plaasvervangers vir selfone. Kry ander goed om hulle besig te hou.”

Volgens Jenny da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, behoort ouers hul kinders se fone te monitor. “Kinders is maklike slagoffers, al blyk die platform hoe onskuldig. Baie kinders gee hul vriende toegang tot hul profiele en wagwoorde, wat tot kuberboeliery kan lei as die vriendskap versuur. Dis noodsaaklik dat kinders van die begin af aanlyn etiket geleer word, dit geld ook vir die gebruik van sosiale media.” 

Nicola gee drie redes waarom selfone te alle tye gemonitor moet word.

1. Kuberboeliery

Dit kan onder kinders van alle ouderdomme voorkom. As jou kind ’n slagoffer is, sal hulle jou nie daarvan vertel nie. Maak seker jou kind word nie aanlyn geteister nie. “Ek was onlangs weer geskok toe ’n tiener my vertel daar is ’n app waarmee jy anoniem vir iemand haatboodskappe kan stuur. Sy is vir lank so geboelie.” 

2. Sexting

Elke ouer dink hul kind sal dit nie doen nie, maar ongelukkig is groepsdruk ’n realiteit. “Maak seker die foto’s wat hulle op sosiale media deel, is geskik vir ’n kind van hul ouderdom. Kyk ook watter foto’s hulle van ander ontvang.” 

3. Ongure karakters

Dit is ongelukkig ’n nare realiteit. Kinders word geteiken op sosiale media, veral Instagram. “Maak seker jou kind se Facebook- en Instagram-rekening is gestel op privaat sodat vreemdelinge nie hul foto’s kan sien nie.”

 
FOTO Unsplash

Wat gebeur as my kind verkeerde blootstelling gekry het?

As jy onraad vermoed of jou kind se gedrag skielik verander, moet jy kundige hulp oorweeg, sê Daleen. “Vóór jy jou kind konfronteer, gaan sien iemand, kry kundige, objektiewe raad, hulle sal advies binne konteks kan gee. Gebruik die klankbord. Probeer om ’n eerlike gesprek met jou kind te voer, al is dit hoe moeilik. En hanteer dit ouderdomstoepaslik – ’n 10-jarige anderste as ’n 13-jarige.”

Carla raai ook ouers aan om die boek Selfies, Sexts and Smartphones: A Teenager's Online Survival Guide deur advokaat Emma Sadleir van The Digital Law Co. aan te skaf. “Lees dit en laat jou tieners dit lees.”

Bykomende bronne: The Digital Law Co., Independent, Huffington Post en Childline

LEES MEER: 

Gelukkige sekslewe? Bêre jou selfoon!

Ongelukkige tiener? Die probleem lê dalk by selfone

Baba op sosiale media? Dink voor jy deel!

Pasop! jou kind kán verslaaf raak