Die oggend voor die moord stuur hy ’n WhatsApp vir sy ouma aan moederskant: “Oumsie, ek het iets vir jou.”

Vertrouend, byna kinderlik. Sy ma vertel haar enigste kind het ’n klein hartjie. “Hy kom uit ’n liefdevolle, Christelike familie waar hy almal se hero is. Hy het goeie maniere en hanteer almal met respek,” sê sy volgens Netwerk24.

Hulle verstaan dit nie: Hoe Xander Bylsma op 26 Mei vanjaar in die Hoërskool Stella se koshuis in Noordwes na bewering twee meisies koelbloedig kon verwurg het. Sharnelle Hough, oftewel Lallie, was tot kort voor haar dood sy meisie, en haar vriendin, Marna Engelbrecht, is sy kleinniggie. Daarna het hy skynbaar berekend probeer om die toneel na selfdood te laat lyk. Ná sy inhegtenisneming het hy na bewering ’n bekentenis aan die polisie gemaak.

Soveel hartseer, soveel lewens in ’n oogwink vernietig, sy eie inkluis. Die prentjie wat nou van die 19-jarige krulkop in die media geskilder word, verskil lynreg van sy Oumsie se “engelkind” ...

Hy was besitlik oor Sharnelle, word vertel. As hulle speels gestoei het, het hy dit gereeld te ver gevoer en haar seergemaak. Sy het die verhouding verbreek en met iemand anders begin uitgaan. Dit herinner aan Oscar Pistorius, skynbaar ook patologies jaloers op Reeva Steenkamp, vir wie se moord hy tans dertien jaar tronkstraf uitdien.

“Ek gaan voluit tot die einde, tot die dood ons skei, by my kind staan,” sê Xander se ma, Mercia, volgens Netwerk24.

Dis nie tydens Henri van Breda se hofsaak genoem nie, vertel André le Roux, skrywer van Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste (Tafelberg, 2017), maar volgens ’n forensiese verslag het hy die aand voor die treurspel op ’n selfoon gesoek na besonderhede oor die Amerikaanse bylmoordenaar Christopher Porco, destyds skaars 21.

Asook hoe lank dit neem vir iemand om dood te bloei. (Henri dien tans tronkstraf uit vir die moord op sy broer, Rudi, pa, Martin, en ma, Teresa, en poging tot moord op sy suster, Marli. Hy was 18 ten tyde van die moorde.) Porco het sy ouers in 2004 in Pennsilvanië aangeval. Sy pa is dood, maar sy ma, erg vermink, het dit oorleef. Nadat Porco 50 jaar tronk toe gestuur is, het sy ma steeds in sy onskuld geglo.

Dis die aard van ma-wees, om net die beste van haar kind te wil glo. ’n Ma moet baie desperaat wees om, soos Ellen Pakkies, haar kind se lewe te neem. (Soos uitgebeeld in die fliek Ellen, die storie van Ellen Pakkies*, oor die verhouding tussen haar en haar dwelmverslaafde seun.)

“Ma’s het al talle kere vir my gesê: ‘Ek kan dit nie glo nie, dis nie my kind nie’,” sê Dap Louw, buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat met kwalifikasies in sielkunde en kriminologie. “Ouers sal dikwels daardie kind lewenslank bystaan – en tot aan die einde aan sy onskuld glo. Een van die redes is dikwels dat die ouers nooit self sy gewelddadige kant ervaar het nie.”

Tussen maats

Ja, jy ken jou kind, reken André. Maar soos hy by die huis is, nie as hy tussen sy maats is nie. Kinders tree anders op voor hul ouers as in hul portuurgroep. (Ons almal tree in ’n sosiale konteks effens anders op as by die huis.)

“Dan kan jy nie met sekerheid sê: My kind sou nooit so iets doen nie. Jy kan nie van ouers verwag om noodwendig agter te kom wanneer daar iets met hul kind verkeerd is nie. Dieremishandeling of boeliegedrag kan wel waarskuwingstekens wees. Maar ouers weet nie altyd wat hul kinders doen nie, hulle behoort ook nie alles te weet nie. Taks om taks is dit vir ouers en vriende ’n skok wanneer ’n kind byvoorbeeld moord pleeg. Jy kan ook nie van hulle verwag dat hulle dit moes voorsien nie.”

Dalk moet hulle eerder die kind se portuurgroep vra. In Judith Rich Harris se boek The Nurture Assumption: Why Children Turn Out the Way They Do (2009) vat sy bestaande navorsing oor persoonlikheidsontwikkeling saam. Volgens haar speel drie faktore ’n rol: genetika, portuurgroep en ouers.

“Mense is verbaas dat die portuurgroep so ’n belangrike rol speel, in baie gevalle selfs belangriker as ouers. Maar onthou, die kind is soms tot agt uur van die dag saam met sy vriende,” sê prof. Louw. “In talle gesinne is dit soggens ’n gejaag met min tyd vir gesonde kommunikasie. Ouers is saans moeg, die kinders moet huiswerk doen en die interaksie tussen ouer en kind daarom nie altyd positief nie. Baie kinders voel boonop hul maats verstaan hulle beter en sal makliker teenoor hulle uitpraat en raad vra.”

Kinders in moeilike gesinsomstandighede sal meer geneig wees om by ’n negatiewe portuurgroep aan te sluit, met ander woorde, verkeerde maats, skryf Andrew Solomon, Britse joernalis-sielkundige, in sy boek Far from the Tree: Parents, Children and the Search for Identity (2013). “Maar, sê Solomon, klein Jannie is dalk self die verkeerde maat wat sy portuurgroep negatief beïnvloed,” volgens André. Die vrot appel, dus.

So gebore?

Don Steenkamp was net 15 toe hy sy gesin op hul spogplaas naby Griekwastad doodskiet: Sy ma, Christel, pa, Deon, en suster, Marthella. Soos Henri het hy skynbaar geen noemens-waardige geskiedenis van gedragsprobleme voor die gebeure gehad nie. Albei kom volgens alle aanduidings uit goeie huise. Tog was die moord klaarblyklik koud en klinies, goed bedink.

As die kindertyd van ’n moordenaar met swaarkry en mishandeling gevul is, kan ons sê hy was die slagoffer van pynlike omstandighede. Maar as hy skynbaar alles gehad het en oor min kon kla? Was daardie saadjie maar altyd daar? Hoe groot is die rol van jou gene in misdaad? Dit beïnvloed jou oogkleur op ’n baie direkte manier voor jou geboorte. Maar enige gene betrokke by kriminele gedrag ontvou in ’n komplekse interaksie met jou omgewing. “’n Kind word nie stout of ’n misdadiger gebore nie,” sê dr. Pixie du Toit, kriminoloog van Pretoria, beslis.

En André sê: “Sekere karaktertrekke is inderdaad oorerflik [geneties], maar niemand is ’n gevangene van sy gene nie. Jy het keuses, jy kan nie sê my gene het my dit laat doen nie. Boonop het jy ’n bepaalde aantal gene wat in triljoene kombinasies werk. Ook nie alle gene is ‘aangeskakel’ nie. Party ‘skakel af’ en ander skakel eenvoudig nooit ‘aan’ nie. Jy’t dalk ’n genetiese geneigdheid tot, sê nou maar, psigopatie, maar daardie gene skakel nooit aan nie en jy word gelukkig nie ’n psigopaat nie.”

Prof. Louw illustreer dit graag met dié voorbeeld: ’n Verkleurmannetjie het die potensiaal om groen te word, maar net as hy in ’n groen omgewing beland. ’n Akkedis het nie so ’n potensiaal nie en sal nooit groen word nie, al sit jy hom waar. “Formules vir sekere gedrag is daar nie in die sielkunde nie. En die goue reël is dat elke mens uniek is. Daar is wel al gevalle aangeteken waar ’n misdadiger se breinfunksionering en genetika anders as die deursnee-mens s’n was. Dis egter ’n baie klein persentasie van misdadigers. Boonop is daar mense met soortgelyke genetiese eienskappe en breinfunksionering wat nie misdade pleeg nie.

“Kyk jy na hul geskiedenis, is moordenaars nie altyd die ‘slegte ou’ met ’n geskiedenis van antisosiale gedrag nie,” sê prof. Louw, wat al sowat 40 jaar met moordenaars en reeksmoordenaars werk. Dikwels het ’n moordenaar geen vorige veroordelings nie. Hy het al verskeie kere te doen gehad met moordenaars wat vertel hulle het in die verlede nuusstories oor moorde gevolg – “en ek het nooit gedink die land sal eendag mý storie volg nie”. “Dit is so dat die meeste moordenaars uit swak sosiaal-ekonomiese omstandighede kom. Maar moord is natuurlik nie slegs tot hierdie groep beperk nie.”

Die feit dat mense in ’n goeie buurt woon en volgens alle aanduidings voorbeeldig lewe, beteken ook nie alles is wel agter toe deure nie. Die waarheid is soms skrikwekkend. Hy het al met ’n paar kinders gewerk wat hul ouers geskiet het. “Ek huiwer om dit te sê, maar sommige ander kinders sou dalk dieselfde gedoen het. Party kinders word so erg emosioneel afgebreek dat dit soortgelyke sielkundige wonde skep as fisieke en seksuele mishandeling. Die wonde is egter nie altyd vir buitestanders sigbaar nie. En word ongelukkig meestal nie deur die gemeenskap en selfs howe in dieselfde ernstige lig gesien as byvoorbeeld seksuele mishandeling nie.”

Só is daar stories dat die verhouding tussen Henri en sy pa nie so goed was nie, sê dr. Du Toit. Hy het gehakkel (op sigself ’n teken van trauma) en sy pa het hom daaroor aangepraat. Hy was die swartskaap. “Dis nie noodwendig dat ouers die kind so beskou nie, hulle hang soms self daardie etiket om – om hul gedrag te regverdig.”

By Henri was daar dwelms ter sprake. Ons sal nooit weet of sy ouers in daardie laaste dae besluit het om die geldkraantjie toe te draai nie. Don weer was jaloers op sy suster. Sy was hul pa se oogappel. Don, die enigste seun, het verwerp gevoel, dat hy in haar skaduwee lewe, sê dr. Du Toit, wat by daardie moordsaak betrokke was.

Twee kinders word in dieselfde huis groot, met dieselfde uitdagings. Die een word ’n predikant, die ander ’n misdadiger. Sê nou maar Henri se pa was ’n moeilike man. Dit was die reaksie van Henri se eie, unieke self daarop om met ’n byl die saak te besleg. Die een kind wil die beste mens wees wat hy kan. Die ander een besluit as Pa gil en só sy sin kry, gaan hy dieselfde doen.

“Daar is baie redes waarom kinders so ver gaan om moord te pleeg. Dit regverdig nie hul gedrag nie. Maar dis hul logika, hulle voel te na gekom, woede neem oor en hulle tree impulsief op. En wil net die wêreld terugkry wat hulle so afknou,” sê sy. Henri het volgens Rapport aan ’n vriend gesê: “Ek het opgef*k.” Maar toe was dit te laat.

Ouers ook slagoffers

As so ’n treurspel plaasvind, is die samelewing soms geneig om die ouers ook te blameer, selfs uit te stoot, soos uitgebeeld word in Lionel Shriver se 2003-boek We Need to Talk About Kevin, oor ’n fiktiewe jong massamoordenaar. Dikwels is dit uit onkunde, sê prof. Louw.

“Jy sou verwag elke ouer sal begrip hê as ’n ander een se kind die pad byster raak. Daar is ouers wat dit verdien, maar baie verdien dit nie. Baie dikwels is die ouers van die moordenaar net so getraumatiseer. Nie net omdat die samelewing hulle blameer nie. Maar ook omdat hulle hulself blameer, wat het hulle verkeerd gedoen? Hulle kom met die mees belaglike redes vorendag waarom hulle ook skuldig is. In baie gevalle is hulle ook slagoffers.”

Daar is sekerlik ma’s wat onheil sien broei, soos Eva, Kevin se ma, in genoemde boek. Moenie dit probeer toesmeer nie, kry so gou moontlik hulp, sê André. “Ouers kan dink die kind met gedragsafwykings is maar net besig om groot te word.”

Pasop egter vir onskuldige tekens raaksien, waarsku prof. Louw. Daardie simptome kan wel ’n normale deel van grootword wees. As ’n kind skielik teëpraat, in homself gekeer raak ... wees versigtig om nie groter skade aan te rig deur hom te etiketteer nie. Gaan steek kers op by ’n kindersielkundige. Wat dalk sê: Wag ’n bietjie, dis normaal.

Soos André sê: Die oorgrote meerderheid van kinders ontgroei wel hul nukke. Is daar ’n groep wat uitstaan, meer misdaad pleeg as ander? word prof. Louw dikwels gevra. En sy antwoord: “Ja, wêreldwyd ... dis mans!”

*Die kykNET-film Ellen, die storie van Ellen Pakkies word op 7 September landwyd uitgereik.

Niemand is ’n gevangene van sy gene nie – André le Roux, skrywer