Die komediant en aktrise Amy Schumer gaan Barbie speel in ’n nuwe fliek oor dié ikoniese pop, berig die webtuiste Variety. Maar moenie die storie van ’n hulpelose prinses verwag nie …

Volgens berigte gaan dié fliek die storie vertel van ’n Barbie wat uit Barbieland geskop word omdat sy nie perfek genoeg is nie. Sy beland dan in ’n avontuur in die regte wêreld. Die fliek wil jong meisies en vroue die wêreld oor aanmoedig om hul uniekheid te vier.

Amy is bekend daarvoor dat sy vreesloos en sterk reageer op mense wat negatiewe aanmerkings oor vroue se lywe maak (body shaming). Dit maak haar ideaal vir dié Barbie-rol. Sy deel gereeld foto’s van haar kurwes op sosiale media. Sy het ook naak en sonder ’n tikkie Photoshop geposeer vir verlede jaar se Pirelli-kalender, wat deur die fotograaf Annie Leibovitz afgeneem is.

Die ikoniese Barbie-pop het oor die jare al baie verander om ’n beter boodskap van skoonheid en selfaanvaarding aan meisies oor te dra. Die speelgoedmaatskappy Mattel het aan die begin van die jaar besluit om Barbie se identiteit meer divers te maak. Sedertien is sy te kry in sewe gelaatskleure, 24 verskillende oogkleure en haarstyle en vier verskillende lyftipes: kurwes, petite, lank en oorspronklik. Deesdae kry talle celebs ook hul eie Barbie-ewebeeld, soos Beyoncé, Katy Perry en die plusgroot model Ashley Graham.

Bekendes veg teen body shaming

Die afgelope jaar veg al hoe meer bekendes teen body shaming. Dit verwys na onvanpaste, negatiewe uitlatings, kommentaar en besluite oor iemand se liggaam. Aktrise Jennifer Aniston het vroeër vanjaar in ’n ope brief op Huffington Post se webtuiste geskryf sy's keelvol vir ander mense wat dink hulle het seggenskap oor jou lyf. Haar brief het intussen viral gegaan. Die brief is weldeurdag en uitstekend geskryf – ons beveel aan dat jy die hele stuk in haar woorde lees en dit aanstuur vir jou ma, dogter en vriendinne.
“Ons is volledig met of sonder ’n maat, met of sonder ’n kind. En wat ons liggaam betref, kan ons vir onsself besluit wat is mooi.”

- Jennifer Aniston

Lees nou

Kate Middleton se stokperdjie

10 goed wat jy van Amy Schumer moet weet