Die tiara

Omdat Kate nie adellik is nie, het sy nie ’n familietiara vir haar troudag soos Diana wat die Spencer-tiara gedra het nie.

Om Diana se status as die prinses van Wallis te vier het die koningin later vir haar die Cambridge Lover’s Knot, ’n diamanten- pêrel-tiara, uit die kroonjuwele gegee. Diana het dikwels gekla dié tiara is nogal swaar en dat dit haar ’n hoofpyn gee.

Die koningin het vir Sarah Ferguson ’n diamanttiara laat maak vir haar troue met prins Andrew en vir Sophie Rhys-Jones ’n tiara uit haar versameling laat verstel vir háár troue met prins Edward.

Die koningin het ’n skatkis vol juwele waaruit sy vir Kate ’n tiara kan gee, soos die Delhi Durbar tiara, wat vir koningin Mary gemaak is om die kroning van koning George V te vier, en die Strathmore Rose-tiara wat die koninginmoeder se pa vir haar op haar troudag in 1923 gegee het.

As die koningin vir Kate een van die agt tiaras gee wat sy self tydens belangrike geleenthede gedra het, sal dit ’n duidelike boodskap uitstuur dat sy vertroue het in Kate as prins William se vrou.

’n Kenner sê:

Yvonne Yorke, bekroonde Britse joernalis wat verslag doen oor die koninklike familie, het in ’n artikel op huffingtonpost.com geskryf sy vermoed Kate gaan ’n tiara dra wat nie te groot is nie en wat ons vir ’n lang tyd nie gesien het nie.

Die Blomme

Die koninginmoeder, koningin Elizabeth en Diana het die tradisie van ’n takkie mirt in hul bruidsruikers voortgesit. Dit dateer uit koningin Victoria se tyd en die mirt kom uit Victoria se tuine by Osbourne House op die Isle of Wight. Die koninginmoeder het haar ruiker op die graf van die onbekende soldaat in die Westminster-abdy neergelê as ’n eerbewys aan haar broer Fergus wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk gesneuwel het. Die koningin en Diana het dié tradisie voortgesit.

Kate sal waarskynlik ook ’n mirt-takkie in haar ruiker hê en die blomme neerlê op die graf van die onbekende soldaat – ook uit eerbetoon aan die Britse gewapende magte in Afganistan. Die kerkruikers sal onder meer bestaan uit dal-lelies, rose, katjiepierings en ridderspore.

'n Kenner sê:
Aleit Swanepoel van The Aleit Group, geleentheidskoördineerders van Stellenbosch, sê: “’n Goeie keuse vir Kate sou ’n klassieke ruiker met ’n tuimelende effek (trailing bouquet) wees.”

Die hare

Kate sal waarskynlik ’n sluier dra, maar haar hare is heelwat langer as dié van die koninklike bruide voor haar.Watter styl gaan die beste werk?

'n Kenner sê:
Die modeontwerper Gert van de Merwe meen Kate se hare moet sag en romanties opgevat word om reg te laat geskied aan haar (indrukwekkende) rok.