Vir hul sprokiestroue het prins William en Kate Middleton inspirasie geput uit koninklike troues en tradisies vóór hulle.

Alles wat jy moet weet oor Kate Middleton se rok

Die inspirasie

Die koninginmoeder is getroud in ’n 1920’s–styl flapper-rok gemaak deur haar persoonlike rokmaker, madame Handley Seymour.

Koningin Elizabeth se rok was ’n skepping deur die Britse ontwerper sir Norman Hartnell – ivoorsatyn versier met sowat 10 000 wit pêrels, silwerdraad en tulleborduurwerk. Sy moes rantsoenkoepons net ná die oorlog spaar om die materiaal te kon bekostig. Prinses Diana se rok was ’n tafsy-skepping van David en Elizabeth Emanuel met ’n sleep van byna 8 m lank!

William & Kate

Kate se rok word in die Buckingham-paleis gemaak sodat dit tot op die laaste ’n geheim kan bly. Dit gons oor moontlike ontwerpers soos Sarah Burton, kreatiewe direkteur van die Britse modehuis Alexander McQueen, en die Britte Bruce Oldfield en Alice Temperley. Ook Issa, wat in Brasilië gebore is en Kate se verlowingsrok ontwerp het, en die Kanadees Erdem wat al vir Michelle Obama ontwerp het. (Maar hulle is nie Brits nie!)

Wie ook al, die ontwerper het intellektuele eiendomsreg op die trourok vir die volgende 25 jaar.Dit beteken niemand anders mag in dié tyd ’n replika maak nie.

Kyk na William en Kate se troue op 29 April van 09:00 tot 14:40 op SABC3, en van 11:00 tot 14:30 op e.tv

’n Kenner, Gert van de Merwe, sê:

Kate sal nie ’n eenvoudige trourok kan dra nie, sê Gert van de Merwe, mode-ontwerper van Pretoria wat ook ’n ateljee in Londen het. “Sy gaan soos ’n feëprinses moet lyk, en sy trou in ’n groot en dramatise katedraal waar ’n minimalistiese rok sal wegraak.”

Gert sou vir haar ’n rok met ’n stywe, gedetailleerde bostuk met ’n hoë nek en styfpassende lang moue gemaak het. (Sien die sketse.) Dit sou haar middel beklemtoon omdat sy smal heupe het en die onderste deel sou uitklok. Hy sou ook ’n lang sleep met valletjies, strikkies en kant ontwerp het.