Hoekom is julle in Bahrein?

Ons is oorspronklik van Welgedacht, Bellville. In Junie 2016 het my man, André, ’n finansiële bestuurder, ’n aanbod gekry om vir een van die grootste familie-ondernemings in Bahrein te kom werk. Ek het ’n jaar later met ons honde en meubels gevolg. Ek het glad nie geweet waar dié land is nie en moes google om uit te vind! Dit was maklik om aan te pas en hier is ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap. Bahrein is laas jaar vir die tweede jaar agtereenvolgens in die Expat Insider Survey as die beste expat-land ter wêreld aangewys.

Hoe groot is Bahrein?

765,3 km², maar dit verander heeltyd soos die see drooggelê word vir nuwe land. Bahrein word met ’n brug van 25 km lank oor die see met Saoedi-Arabië verbind en baie expats bly hier, maar werk daar. My man het self ook vir 18 maande in Saoedi-Arabië gewerk en tussen dié twee lande gependel.

Is dit maklik om werk te kry?

Nee, glad nie. Maak seker jy het werk voor jy hierheen kom. ’n Wanindruk bestaan dat werk maklik bekombaar is in die Midde-Ooste. Ons as Suid-Afrikaners ding mee met werksoekers van Europa, Amerika en Indië. Bahrein is ook besig met iets soortgelyks aan ons swart ekonomiese bemagtiging (of BEE) om die indiensneming van Bahreiners te bevorder. Jy kan dus net so maklik jou werk verloor as wat jy dit gekry het. Die belangrikste is om te onthou dat jy tydelik hier is. Spaar soveel jy kan en moenie skuld maak nie.

Het julle maklik vriende gemaak?

Ja, ons het. ’n Goeie Suid-Afrikaanse vriendin van my is met ’n plaaslike inwoner getroud. Die Bahreiners is baie gasvry en vriendelik, en nooi jou graag na hul huis. Ons het ook vriende van Saoedi-Arabië wat dikwels by ons braai. Verder kuier ons Suid-Afrikaners meestal oor en weer by mekaar. In die winter sal ons as die weer lekker is in die woestyn gaan kamp, of langs die see gaan braai. Of as hier ’n show is, sal ons dit gaan kyk.

Is dit duur om daar te bly?

Bahrein is ’n eilandkoninkryk in die Persiese Golf en alles word ingevoer. So jy betaal byna dubbel vir alles! Veral drank en uiteet, skoonheidsbehandelings en om ’n haarsalon te besoek is duur. Selfs blomme is nie goedkoop nie.

Het vroue regte?

Hoewel Bahrein ’n Moslem-land is, is hulle baie oop en verdraagsaam teenoor ander kulture en baie Westers. Vroue hoef glad nie enige van die tradisionele kledingstukke te dra nie, en mag stem, bestuur en werk. Party is hoogs gekwalifiseerd en het bestuursposte.

Is daar voorskrifte oor wat jy op openbare plekke mag dra?

Bahrein is die liberaalste van al die Midde-Oosterste lande, maar daar word tog van mense verwag om die nodige respek te betoon, soos om nie te kort rokkies te dra nie en te let op jou halslyn. In Ramadaan moet jou skouers en knieë bedek wees.

Is alkohol nog verbode op openbare plekke?

Bahrein het vyf drankwinkels en hulle lewer by jou huis af. Jy kan ook alkohol koop by hotelle en die meeste restaurante. Dis natuurlik net baie duur. Hoe gewild is die Grand Prix? Die heel eerste een in die Midde-Ooste is in 2004 in Bahrein gehou. Verlede jaar het byna 33 000 mense die wedren bygewoon. Reg oor Bahrein word moeite gedoen om alles vir die besoekers mooi en lekker te maak. Die palmbome word met liggies versier en vlae oral opgesit. Kersfees en Grand Prix is my gunstelingtyd van die jaar hier!

Is Bahrein regtig ’n land van suikertande?

Die Bahreiners is baie lief vir soetgoed en gooi selfs suiker in hul vrugtesap! Hulle sit graag nagereg voor, soos hul halwa, wat gemaak word van suikerstroop en eierwit. Sesamsaad word gewoonlik bygevoeg. Die taai, warm mengsel word dan in ’n groot skinkbord gegooi om koud te word, in blokke gesny en geëet. Kunafa word weer gemaak van meel, semolina, ghi, kondensmelk en rooswater. Dit is baie lekker, maar nie maklik om te maak nie. Hier is net ’n paar plekke wat dit regtig regkry. Die nagereg wat die bekendste vir ons Suid-Afrikaners is, is umm ali. Dit smaak byna nes sagopoeding, dis net ’n bietjie meer melkerig. En daar is ook die bekende baklava, wat bestaan uit lae filodeeg gevul met gekapte neute en gedoop in heuning.

Vroue bestuur glo met hul kind op hul skoot. Is dit waar?

Dit is, maar daar gebeur baie erger goed op Bahrein se paaie. Hier is geen respek vir verkeersreëls nie. Motors word op die geel streep verbygesteek, mense is heeltyd op hul selfone en stuur boodskappe, bel of speel speletjies – alles terwyl hulle bestuur, en kinders (en ouers) ry sonder valhelms motorfiets op die nasionale paaie. Die Bahreiners asook die mense van hul buurlande is werklik baie onverskillig as dit by bestuur kom.

Waaraan kan jy nog nie gewoond raak nie?

Hier is geen respek vir diere of die natuur nie. Diere, veral honde, word sleg behandel en rommel word oral gestrooi. Dit is baie hartseer en ons gee kos waar ons kan.

Smag jy na reën?

Ek smag na normale weer en na regte Kaapse winters. Ook die donderweer van Gauteng, waar ons agt jaar gebly het. Ons kry taamlik baie reën in die winter, maar omdat die grond kleierig is en hier geen dreineringspype is nie, rig die reën meer skade aan as goed. Oorstromings is dan algemeen en die waterpoele sal vir dae staan. Die gemiddelde somertemperatuur hier is 40 grade Celsius met hoë humiditeit, met die gemiddelde winter-temperatuur so 20 grade Celsius.

Is daar goed wat jy in Suid-Afrika geleer het wat jou help aanpas het?

Suid-Afrika is ’n multikulturele samelewing, dus is dit vir ons maklik om in te skakel by ander kulture.

Hoe gereeld en waar hou julle vakansie?

Ons hou gereeld vakansie in ander lande en een keer ’n jaar in Suid-Afrika. ’n Groot pluspunt is dat Bahrein baie sentraal geleë is. Die meeste maatskappye hier gee hul werknemers ook 30 dae per jaar verlof. Plus die land het tien amptelike vakansiedae.

In 2017 het ons Italië, Griekeland en Montenegro besoek, en in die laaste helfte van die jaar was ons Oman toe. In 2018 was ons in Sri Lanka, Thailand en Turkye, asook in Libanon vir ’n troue. Ek was nog altyd lief vir reis en het selfs toe ek nog in Suid-Afrika gewoon het, ’n punt daarvan gemaak om ander lande te besoek. Ek het ’n wêreldkaart waarop ek afmerk waarheen ek gaan. Vooraf doen ek ook baie navorsing. Wanneer ek nie saam met my man reis nie, gaan ek soms saam met ’n vriendin, maar reis ook op my eie.

Bahreinse pêrel versus die Suid-Afrikaanse pêrel?

Die kleure verskil van wit na donkerroom, en die pêrels hier neig om meer geel te wees. Bahrein het die beste pêrels ter wêreld, maar dis natuurlik onbekostigbaar vir die meeste Suid-Afrikaners.

Watter besienswaardighede is daar?

Indrukwekkend is die Bahrein Nasionale Museum, wat byna 5 000 jaar van die Bahreiners se geskiedenis dek. Die Bahrein-fort is ’n wêreld-natuurerfenisgebied en het ’n baie mooi uitsig. Soos in elke Arabiese land is hier ’n groot mark of souk, met die Al-Fateh-moskee wat met die grootste glasvesel-koepel ter wêreld spog.

So 40 km buite Manama is ook die Boom van Lewe. Dié boom van 9,75 m hoog is oor die 400 jaar oud en groei op sy eentjie in die woestyn. Dis nietemin heeljaar grasgroen. Niemand is seker hoe die boom oorleef nie, maar daar bestaan baie legendes. Party mense meen selfs dit staan waar die Tuin van Eden aanvanklik was en het ’n mistieke bron van water.