Het jy al gevoel jy wil iemand klap wat hoorbaar sit en springmielies kou, koeldrank sluk of hard asemhaal? Navorsing wys nou dis vanweë ’n toestand genaamd misophonia wat sy oorsprong in die brein het.

Refinery29 berig ’n nuwe studie wys dis nie jou skuld as jy kwaad of angstig raak wanneer iemand naby jou hard kou of sluk nie, dis net hoe jou brein reageer.

Hulle noem mense wat so reageer misophonics, wat letterlik klankhaters beteken. Hoewel reaksies op onaangename geluide soos die knip van naels of die gekrap van bordkryt taamlik algemeen is, ervaar klankhaters ’n intense gevoel van woede of angstigheid as hulle iemand hoor kou of sluk. In die studie, wat in die vaktydskrif Current Biology gepubliseer is, is bevind dat die toestand sy oorsprong in die brein het.

eet kouFOTO Unsplash (Toa Heftiba)

Die wetenskaplikes het MRI-skanderings gebruik om twee groepe mense se breinaktiwiteit te vergelyk: Die een groep klankhaters en die ander "normaal". Neutrale geluide soos reën en onaangename klanke soos ’n baba wat huil is afgewissel met sogenaamde snellerklanke (eet, kou, sluk, ens.).

Toe die snellerklanke vir die klankhaters gespeel is, is aktiwiteit bespeur in die voorste korteks van die brein, waar emosies geprosesseer word.

Volgens die hoofnavorser, dr. Sukhbinder Kumar, word klankhaters reeds vanaf 12-jarige ouderdom bewus van hul intense reaksie op snellerklanke. "Wanneer hulle hierdie geluide hoor, raak hulle buite hulself en kan hulle niks anders dink of doen nie," sê hy.

Die intense gevoelens kan moontlik verbind word met ’n slegte ervaring in hul verlede.

FOTO Louis Kang