Hierdie tyd van die jaar dink ons nie aan veel meer as flieks en die rokke wat gedra word na al die prag-toekenningsgeleenthede nie. Ons voel sterk oor watter akteurs en aktrises as wenners aangewys moet word en raak kwaad as iemand van ons verskil. Ja, dit is toekenningstyd en daar is al vele flieks wat jy kan kyk om ook jou gunstelinge te kies.

Die Golden Globes is voorverlede naweek uitgedeel en die BAFTA-benoemings is bekend. Hier is die flieks wat tans in ons teaters draai asook waarvoor hulle benoem is.

Ander voorlopers, soos La La Land en Moonlight, kom later hierdie maand of vroeg in Februarie uit.

Hacksaw Ridge

Hierdie oorlogsdrama vertel die ware verhaal van Desmond Doss, ’n Amerikaanse hospitaalsoldaat tydens die Tweede Wêreldoorlog wat 75 makkers in Okinawa, Japan, gered het. Hy het die bloedige stryd sonder ’n vuurwapen trotseer.

Golden Globes:

Beste akteur in ’n drama: Andrew Garfield

Beste regisseur: Mel Gibson

Beste rolprent

BAFTA:

Beste akteur: Andrew Garfield

Beste verwerkte draaiboek

Beste grimering en hare

Beste klankbaan

Manchester by the Sea

Lee Chandler (gespeel deur Casey Affleck) werk as ’n nutsman by ’n woonstelblok in Boston, Massachusetts. Hy word na sy tuisdorp ontbied toe sy broer sterf en hy as voog van dié se seun aangewys word. Soos die verhaal ontvou raak die kyker bewus van Lee se hartseer verlede en waarom sy terugkeer na die dorp allesbehalwe maklik is.

Golden Globes:

Beste akteur in ’n drama: Casey Affleck (wen)

Beste vroulike byspeler: Michelle Williams

Beste regisseur: Kenneth Lonergan

Beste rolprent (drama)

Beste draaiboek: Kenneth Lonergan

BAFTA:

Beste rolprent

Beste regisseur: Kenneth Lonergan

Beste akteur: Casey Affleck

Beste vroulike byspeler: Michelle Williams

Beste oorspronklike draaiboek

Beste redigering: Kenneth Lonergan

The Edge of Seventeen

Tiener-wees kan goor wees. Jy weet nie wie jy is nie en nog minder wie jou ware vriende is, en boonop lyk dit of ander tieners floreer op skool terwyl jy sukkel. Dít is min of meer hoe sake aan die begin van die fliek staan vir die sewentienjarige Nadine (gespeel deur Hailee Steinfeld). Daar is egter lig aan die einde van haar donker hoërskool-tonnel wanneer sy ’n nuwe vriend maak en besluit om die raad te volg van haar gunsteling-onderwyser, Mr. Bruner (Woody Harrelson).

Golden Globes:

Beste aktrise in ’n komedie/musiekblyspel: Hailee Steinfeld

A United Kingdom

Hierdie prent vertel die ware verhaal van die Botswana-monarg Seretse Khama (David Oyelowo), wat in die laat 1940’s met sy Britse (wit) liefde Ruth Williams (Rosamund Pike) getroud is. Khama moes hierna die titel van koning en sy tuisland agterlaat omdat die huwelik deur twee lande se regerings afgekeur is. In die prent vertolk die Suid-Afrikaner Terry Pheto (wat jy sal onthou vir haar rol in Tsotsi) die rol van die koning se jonger suster.

Terry is verlede jaar by die BIFA's (Britse toekennings vir onafhanklike rolprente) in Londen as beste byspeler benoem vir haar spel in die prent.

Arrival

Die taalkundige Louise Banks (Amy Adams) se hulp word ingeroep toe 12 reusagtige ruimtetuie op die aarde neerdaal. Sy en haar span moet ’n manier vind om die wesens se boodskappe te ontsyfer voordat bloed dalk vloei.

Golden Globes:

Beste aktrise in ’n drama: Amy Adams

Beste oorspronklike liedjie

BAFTA:

Beste rolprent

Beste regisseur: Denis Villeneuve

Beste aktrise: Amy Adams

Beste verwerkte draaiboek

Beste kinematografie

Beste visuele effekte

Beste redigering

Beste oorspronklike liedjie

Beste klankbaan

Hell or High Water

Hardebaard-akteurs soos Chris Pine, Jeff Bridges en Ben Foster is te sien in hierdie spanningsprent wat filmkritici gaande het. Twee broers beplan ’n reeks rooftogte by die bank wat hul familieplaas onder hulle wil uitverkoop. Maar die Texas Rangers staan in hul pad.

Golden Globes:

Beste manlike byspeler: Jeff Bridges

Beste rolprent (drama)

Beste draaiboek

BAFTA:

Beste manlike byspeler: Jeff Bridges

Beste oorspronklike draaiboek

Beste kinematografie

Beste redigering

Moana

Moana is die dogter van ’n stamhoof wat in ’n tropiese paradys op ’n Polinesiese eiland woon. Maar wanneer die een ná die ander ramp die eiland tref, moet sy en haar wispelturige makker ’n gevaarlike reis op die Stille Oseaan aanpak om die gode te paai.

Golden Globes:

Beste animasiefilm

BAFTA:

Beste animasiefilm

Lees nou

Golden Globes: Die wenner is …

Golden Globes: Ons skoonheidsgunstelinge

Anna-Mart word ‘ma’