kykNET maak weereens geskiedenis - dié keer as die eerste volwaardige betaaltelevisie–opsie in die buiteland. Afrikaanssprekendes in die Verenigde Koninkryk wat smag na televisieprogramme in hul moedertaal kan nou twee kykNET-kanale geniet op die televisiediens TalkTalk.

Hierdie twee kanale – kykNET en kykNET Musiek – vorm voortaan deel van die rits taalspesifieke kanale van regoor die wêreld wat TalkTalk aanbied met die hulp van THEMA, 'n maatskappy wat daarin spesialiseer om televisievermaak saam te stel vir mense wat nie meer in hul tuisland woon nie.

Volgens Karen Meiring, M-Net se Direkteur van Afrikaanse kanale, is hierdie verwikkelinge 'n logiese volgende stap vir die gewilde kykNET. "Ons word al jare lank oorval met versoeke om kykNET uit te brei en oorsee beskikbaar te stel. Danksy THEMA en TalkTalk is dit nou moontlik. Dis groot nuus vir ons mense in die buiteland en die uitsendings in die  VK is net die begin van selfs groter dinge. Maak gereed vir kykNET, die nuwe wêreldburger. "

TalkTalk intekenaars in die VK kan nou saam gesels wanneer hul vriende en familie in Suid-Afrika liries raak oor die groot verskeidenheid  programme op kykNET, terwyl kykNET Musiek die kollig laat val op die grootste kontemporêre musieksterre in Afrikaans, soos Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Coenie de Villiers, Kurt Darren, Snotkop en vele meer.

Vroegoggend sorg kykNET se onbytprogram Dagbreek vir op-en-wakker nuus en vermaak. Dan is daar ook al die drama en intrige van die twee sepies Binneland en Villa Rosa om na uit te sien; nuus en aktualiteit met Robinson Regstreeks, Beleggingsfokus en kykNET Nuus; die nuwe Deon Opperman drama Donkerland; en talle leefstyl en kook-programme.

Het jy al die Donkerland iPad-app afgelaai?

Een van Suid-Afrika se grootste ikone, Nataniël, kook dat dit klap in Die Nataniël Tafel (klik hier vir al sy sêgoed in die nuutste episode); ons eie Nigella Ise Fourie is agter die potte in Ilse Kook! ; en in Roer! kuier die beeldskone, dog plat-op-die-aarde Tammy-Ann Fortuin saam met bekendes in die kombuis.

Maar wat is meer Suid-Afrikaans as 'n lekker braai? In Jan Braai vir Erfenis reis Jan Brand regoor die wêreld om al wat leef en beef deel van die braaikultuur te maak.

Dit kóók in die kykNET kombuis

Kykers kan ook inskakel vir ou kykNET gunstelinge, insluitende  Groen, Kwêla, Fiësta, Glam Guru, Superrugby en BVP en dramas soos Vloeksteen en Vallei van Sluiers is ook deel van die kykgenot.  En, om kykers te laat dubbelvou van die lag is die jongste reeks uit die pen van Willie Esterhuizen, Vir beter of baie beter, asook  een van sy eerste en gewildste komedies, Hester en Ester Bester, ook op die spyskaart.

Die jongspan het ook hul eie programme. Tussen 12:00 – 13:00 en 16:00 – 16:30 is karakters oos Tjiff en Tjaff en Zim Zim daar vir vet pret.

François, THEMA se Hoof Uitvoerende Beampte se THEMA is baie opgewonde oor die vennootskap tussen kykNET, Talk Talk en sy maatskappy. "Buiten die Afrikaanse kanale, spog Talk Talk boonop met 'n groot aantal ander kanale waarmee Suid-Afrikaners in die VK vertroud is en ander internetdienste.  Dis inderdaad 'n alles-en-een antwoord vir puik vermaak en ons is trots daarop om deel te wees daarvan."

Om uit te vind hoe om in te teken op Talk Talk en kykNET daarop te kry, gaan na  https://sales.talktalk.co.uk/info/tv/tv-extras/boost/world-boost