Hey, Big Spender! sing Shirley Bassey. Shop ’til you drop, lui die uitdrukking. Koop, koop, koop.

Met die Kersgevoel so om ons gee ons meer geld uit as gewoonlik. Ons koop sommer impulsief. Want ons raak meegevoer deur die opwinding, die positiwiteit en selfs die Kersmusiek, al hou ons nie eens van Boney M. nie!

Dieselfde het met die Wêreldbeker gebeur. Toe het ons vuvuzelas, serpe, flitsende brille en pruike gekoop, goed wat ons waarskynlik nooit weer gaan gebruik nie.

Kersfees voer sommige van ons so mee, ons koop sommer ’n klomp draadswaeltjies omdat dit op uitverkoping is. Om nie eens te praat van die blink Kersversierings nie. Jy het dalk ’n hele kas vol – maar net een Kersboom.

Vroue word dikwels gespot of aangepraat oor ons so maklik oorboord gaan. Maar ons hét ’n verskoning: In SA beïnvloed vroue 85% van besluite rondom alle aankope, wys statistieke wat Standard Bank onlangs bekend gemaak het. Ons gee darem nie net uit nie, ons bring ook die helfte of meer van die huishoudelike inkomste in, volgens dié syfers.

Feit is, ons bestee sowat drie jaar van ons lewe aan inkopies doen! Navorsing deur OnePoll.com, wat wêreldwye aanlyn-marknavorsing doen, sê dis sowat 25 184 uur en 53 minute. Ons gaan jaarliks gemiddeld 84 keer kruidenierswinkel toe. En dan het ons nog nie eens ’n nuwe rok nie!

Lyk ook nie of ons binnekort gaan ophou koop nie, want só verbrand ons jaarliks 200 000 kilojoules!

Hormone speel ’n rol om vroue te laat koop, wys ’n Britse studie aan die Universiteit van Hertfordshire. Twee derdes van ons (tussen 18 en 50 jaar oud) koop op impuls wanneer ons premenstrueel is, volgens dié studie. En dít terwyl meer as die helfte van ons veel meer bestee as wat ons beplan het. Party Britse vroue óórspandeer selfs met tot 350 pond (R3 850) per keer!

Karen Pine, die studieleier, reken wisselende hormone beïnvloed dié deel van ons brein wat emosies en inhibisies beheer.

“En wanneer ons premenstrueel is, is koop een van die hanteringsmeganismes om slegte gevoelens te vermy of te temper,” sê Elmarie Claassens, kliniese sielkundige van Johannesburg. Ons koop ook so lekker rondom ovulasie, want dan is ons op ons vrugbaarste en wil ons aantrekliker voel.

Jou liggaam se goedvoel-stof, endorfien, is nog ’n faktor. Inkopies doen is lekker. Jy voel goed, ook omdat jy jouself of ander bederf.

“Jy is boonop vir ’n rukkie verlos van die ‘ekonomie’ van die alledaagse lewe waar jy so dikwels gee en nie kry nie,” sê dr. Desmond Painter, senior lektor van die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Deur te koop ‘kry’ ons. “Dit gaan dan oor wat jy wil hê, nie oor wat jy nodig het nie,” sê Desmond. “Dit op sigself is nie noodwendig sleg nie, want ons spreek ’n slag ons begeertes eerder as ons
behoeftes aan.”

Wanneer ons só koop, praat ons positief met onsself, sê Elmarie. Jy sê byvoorbeeld: “Ek verdien die rok.” Of: “Ek sal beter of mooier voel.”

Maar hoekom juis inkopies en nie iets soos draf nie? Ons leef in ’n tyd van onmiddellike behoeftebevrediging, verduidelik sy. Advertensies beloof ons lewe sal beter wees as ons byvoorbeeld
’n spesifieke parfuum koop. Jy geniet terselfdertyd die uitkomkans saam met vriende. “Wie wil in elk geval
gaan draf as jy kan shop en lunch?” vra Elmarie.

[box:full:grey:both]

OM TE WEET

Wenke

* Moenie koop wanneer jy “af” voel nie. Jy is dalk woedend, gespanne, depressief of gefrustreerd.?
* As jou hormone deurmekaar is, eien jou emosies en doen iets konstruktiefs daaraan, sê Elmarie Claassens, sielkundige. “Huil, doen matige oefening, kuier saam met vriende, en as dit móét: Koop op rekening sodat jy onnodighede kan terugneem.”?
* Beleef die euforie van koop op ander maniere “Eet brandrissies, raak verslaaf aan realistiese,?positiewe denke, doen oefening waarvan jy hou, kry gereeld orgasmes, eet sjokolade, lag baie, giggel selfs soos ’n kind,” sê sy.
* Neem jou man saam winkels toe. Die Amerikaanse navorsingsmaatskappy Envirosell het bewys dat jy baie minder tyd in die winkel deurbring as ’n man by is.?
* Pasop vir internetinkopies. Dis gerieflik en voel minder werklik as in winkels.?
* Moenie dat die items op rakke naby die kasregister jou op impuls laat koop nie.

KOOP JY TE VEEL?

Jy weet jy koop te veel as jy:

* meer uitgee as wat jy kan bekostig.

* nuwe aankope wegsteek.

* onnodige items koop.

* koop net omdat dit jou goed laat voel.

* items in jou kas het wat ná ’n ruk steeds in hul verpakking lê.

* duplikate van goed koop omdat die oorspronklike “weg” is.

* gereeld dink oor geld en wat jy nog wil koop. As jy te veel gekoop het, stres jy en koop nóg om “beter” te voel.

* sukkel om jou rekeninge te betaal en net die minimum-afbetalings maak.

* jou geld teen of vóór betaaldag op is of jy te veel skuld het. As jy baie koop, het jy nie noodwendig ’n sielkundige probleem nie, sê dr. Desmond Painter, sielkundedosent. “Dis deel van ons kultuur om min te spaar en baie te koop.”

Maar as jy jou aankope nie kan bekostig nie en nie kan ophou nie, kan jy dalk aan obsessief-kompulsiewe versteuring ly. ’n Oormatige gekopery kan ook een van die simptome van bipolêre gemoedstoornis wees.?Kry sielkundige/psigiatriese hulp.

"EK GRYP EN BETAAL!"

Petro Kleingeld (40), ’n SARIE-leser van Trompsburg in die Vrystaat, stem saam. Koop is vir haar “die beste terapie”. Al het Trompsburg ’n goeie algemene handelaar, ry sy stad (Bloemfontein) toe vir items soos klere. Omdat die tyd dan min is, “gryp en betaal” sy dikwels.

“Ek kom baie keer tuis met klere waarvan die grootte op die hanger van die werklike grootte verskil. Of die skoene pas nie, want ek was te lui om hulle aan te pas,” vertel sy. Petro is gek na uitverkopings. “Ek dink altyd ek gaan dié klere dra, maar dan hang dit maklik twee seisoene in my kas, soms nog met pryse aan. En ek het nou eers agtergekom uitverkopingklere is dít wat min mense wil hê!”
Wanneer Petro ná ’n koopsessie tuiskom, is sy gefrustreerd, “want dan besef ek die klere waarmee ek ure in my hande gestaan, maar nie gekoop het nie, is nou vir altyd nie myne nie”.
Kos word sonder lysies gekoop en só het sy al altesame 12 blikkies mielies gehad. Sy besit ook “sowat 90” resepteboeke. “Nie dat my gesin soos konings eet nie. Ek het ontdek ’n mens moet die kos self maak!”

"DIS DIE LEKKERSTE DING!"

Marika van Rooyen (26),’n onderwyser van Pretoria, sê dis vir haar “die lekkerste ding” om iets nuuts te hê, al is sy “lankal verby die punt” waar sy enigiets nodig het.

Die gedagte dat grimering, klere of skoene haar mooier gaan laat lyk en die vrees dat sy ’n item nie weer gaan kry nie, laat haar koop. Sy geniet ook die “ritueel van shopping”. Die rondloop, die koffie drink. “Baiekeer sal ek items uit verskillende winkels in my kop by mekaar sit. Só loop en dink ek heeltyd,” sê sy. Sy vergeet maklik wat sy pas bestee het. Dan troos sy haarself deur te sê sy het die duur gesigroom nodig gehad, want “my vel is belangrik en ek betaal dit mos af ”. Die rooi uitverkopingplakkers wat goedkoper juwele aandui, maak haar besonder opgewonde. “Ek oortuig myself dat ek vier paar oorbelle kan koop, want dis mos op sale.” Haar swakste kopie was ’n pienk strykystertjie vir reisdoeleindes. “Ek het dit nog nooit ingepak nie en glo ook nie ek sal stryk terwyl ek met vakansie is nie.”


Vroue bestee sowat 3 jaar van
hul lewe aan inkopies (studie het dit bewys)
"EK HET 36 PAAR JEANS BESIT"
Erika Morton (35),’n finansiële analis van Uitenhage in die Oos-Kaap, vertel koop laat haar goed voel, al neem sy soms die helfte weer terug. Sy het al 36 paar jeans besit! Haar man het net een klerekas, terwyl die res in die huis hare is. Uitverkopings is die groot probleem. Sy neem dan selfs verlof! “Wanneer ek soveel minder as die normale prys betaal, voel dit of ek iets gewen het. Ek dink aan hoeveel geld ek só spaar,” sê sy. Erika reken die beste uitverkopings is rondom Kersfees. Sy koop dan geskenke en versierings “met die idee om dit volgende Kersfees te gebruik”. Sy het al genoeg kerse vir elke aand tot haar oudag.
"DIE EUFORIE VAN DIE OOMBLIK DRA 'N MENS"
Charlene Smith (64), senior sekretaresse van Bloemfontein, sê sy het deur die jare al baie skuldig gevoel oor wat sy gekoop het.“Maar die euforie van die oomblik dra ’n mens.”
Een van haar haastige aankope was ’n duur aandrok. Eers tuis het sy agtergekom die rok sit “treurig”. Sy en haar suster het dit met baie snipperwerk in ’n nousluitende rok met splete omgetower. “Die rok was sensasioneel, maar ek het kaal gevoel. Ek het dit nooit weer gedra nie,” sê sy.
 
Charlene vertel sy koop deur die jaar Kersgeskenke, maar ontdek eers twee dae voor Kersfees wat sy alles gekoop het. Dis dikwels te veel en moet dan oorstaan tot iemand verjaar.

Jy koop ook om dié redes

Status en identiteit Jy moet tog “reg” koop om ’n bepaalde status en identiteit te kan handhaaf.
Begeerte Die verskeidenheid van produkte en hoe hulle verpak en bemark word, beloof om begeertes te vervul. “Hierdie begeertes het toenemend te make met beeld en lewenstyl, nie soseer met nut nie,” sê Desmond Painter, sielkundedosent.
Jy val vir advertensies en uitverkopings.
Kinderjare As jy altyd tweedehandse klere moes dra of net die allernodigste gekry het terwyl jou vriende meer gehad het, is jou selfbeeld moontlik aangetas. Op ’n onbewuste vlak dink jy dalk steeds dat “dinge” jou beter sal laat voel oor jouself.
’n Magsgevoel Jy is dalk bang jou ryk niggie se kersgeskenke gaan soveel beter wees as joune.
Jou selfbeeld is swak Koop kan lei tot ’n vals gevoel van “ek het dit gemaak” of “ek is goed genoeg”. Jy voel ook belangrik as jy iets eksklusiefs beloof word. Maar, “eksklusief” vir almal?
Jy dink nie aan plastiek as geld nie Jy hoef krediet- en winkelkaarte ook eers later te betaal.
Jy’s op dieet, voel daarom “af” of moeg en koop dan pleks van eet.
Jy wil jouself beloon vir harde werk of vir ander só dankie sê.
Jy wil wegbreek uit jou gewone lewe of van eensaamheid ontsnap.

 
Vir Bertha van der Merwe (43) van Pretoria wat ’n kunsskool bedryf, is koop ’n sintuiglike ervaring. “Ek wil voel, vergelyk, kyk, ruik en dit geniet. ”Om te koop laat haar ook gestimuleer, in beheer en gelukkig voel, veral wanneer sy agterna gekomplimenteer word oor haar huis en voorkoms. Sy bederf haarself graag só “en wil dit nie afjaag nie”.
Wanneer sy vir twee dae nie winkel toe was nie, voel dit vir haar sy kry onttrekkingsimptome, sê Bertha. En dan dink sy maklik ’n “kreatiewe verskoning” uit om haarself en manlief te oortuig hoekom sy nog iets moet koop. Bertha sê sy koop gereeld impulsief. Soos die sewe hout-Kersbome omdat sy ’n string pêrels gratis kon kry. “En ek hét al ’n paar stringe!”
Op dieselfde dag het sy ook nog 50 metaal-skoenlappers gekoop. “Ek weet nie wat ek daarmee gaan doen nie.”
Sy glo nie sy koop roekeloos nie, “tog kan ek nie altyd verduidelik wat ek met my geld gemaak het nie”.
"EK'S GAANDE OOR UITVERKOPINGS!"
Ilne Engelbrecht (29), SARIE-leser van Bloemfontein, sê sy koop ’n uitrusting met bykomstighede vir elke geleentheid, “selfs ’n skoolpiekniek”.
“Terwyl ek koop, dink ek aan hoe goed ek in die klere of skoene gaan lyk en voel,” sê sy. Sy het “’n hand vol toppies” steeds met prysetikette aan.
Sy is gaande oor uitverkopings. Al begin dit eers agtuur in die oggend, val sy en haar suster reeds sesuur in die ry. Eenkeer het ’n meisie by ’n uitverkoping haar eie jas op die vloer neergesit terwyl sy iets aanpas. Die jas is deur gretige kopers opgeraap.
En ’n vriendin het al haar skoen in die gemaal verloor en vir twee uur met net een skoen aan in die betaalry gaan staan. Want as die kooplus jou gepak het, gaan niks jou stuit nie!
Koop jy ook alte lekker? Vertel ons hieronder!