Dit klink soos iets uit ’n sepie: ’n Skatryk doktersvrou wat ’n affair aanknoop met haar tienerdogter se rugbyspeler-kêrel, 26 jaar jonger as sy . . . toe huur sy Nigeriërs om sy knie te beseer . . . word op aanklag van sameswering tot moord in hegtenis geneem en kry drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar.

"Ek wou nie hê hy moes weer rugby speel nie." Só vertel sy aan SARIE wat sy aan hom wou doen:

“Ek het ’n Pretoriase uitsmyter R12 000 betaal om Deon ’n kniebesering te gee en hy het twee Nigeriërs na my verwys. Ek wou hê Deon moes nie weer rugby speel nie. Hy het mý drome, om eendag saam met Dave oud te word en met ons kleinkinders te speel, verwoes. Ek wou sy drome ook verwoes.

“Nadat ek alle kontak met die Nigeriërs verbreek het, het hulle vir Deon se ouers gesê ek wil hê hulle moet hom doodmaak, maar hulle sal dit nie doen as hulle R30 000 by hulle [sy ouers] kry nie.

Uiteindelik is hulle saam met Deon se oom na die polisie. Die polisie het vir my ’n geposeerde foto van ’n bebloede Deon, met wat vir my na ’n skouerwond gelyk het, ge-SMS. Ek het nie gedink Deon is dood nie en wou weet waar die kniebesering was.

“Omdat ek bang was die Nigeriërs doen my of my gesin leed aan of pers ons af, het ek gereël om die laaste R10 000 aan hulle te gee. Toe ek in hegtenis geneem is, was dit die grootste verligting. Ek het nie meer nodig gehad om my oor die Nigeriërs te bekommer nie.

“Ek was vier dae in die tronk, en het toe eers tot stilstand gekom. Wanneer ek nou na foto’s kyk, sien ek ’n stukkende vrou wat nie kon slaap nie, wat geen toekoms gehad het nie.”

Vir Manda Reyneke (48) van ?Pretoria is hierdie die harde werklikheid, dis haar verhaal en sy vertolk die hoofrol. Sy is ook die een wat seergekry het en wie se lewe dramaties deur haar en die Suid-Afrikaanse rugbyspeler Deon Helberg se affair verander is.

* Lees die volle onderhoud met Manda in die Oktober-uitgawe van SARIE (vanaf Maandag 17 September op die rakke).

EN

* Sy gesels openlik met Janie du Plessis op Wat Mense Sê met Janie op kykNET. As jy Dinsdag se episode gemis het, moet jy vandag (Vrydag 21 September) om 4 nm of Sondag 23 September om 2 nm op kykNET inskakel vir die heruitsendings.