Sy is Marilyn die onsterflike.

Byna ’n halfeeu ná Marilyn Monroe se dood kan die wêreld haar eenvoudig nie vergeet nie. Haar ikoniese gesig pryk op kussings op ons sitkamerbanke en op prente teen ons mure.

Baie skoonheidshuise het ook deesdae ’n tikkie Marilyn – of dit nou die Hollywood-skoonheid Scarlett Johansson is wat jou met blonde lokke en rooi lippe verlei om Dolce & Gabbana se lipstiffie te koop of “Marilyn” wat ’n gasverskyning in Dior se nuwe TV-advertensie vir hul parfuum J’Adore maak.

“Marilyn se gewildheid gaan in fases taan en herleef. Maar sy sal nooit weggaan nie,” glo dr. Marlize Terblanche-Smit, ’n dosent in bemarkingskommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch.

Ons beleef juis nou weer ’n Marilyn-oplewing omdat sy ons herinner aan ’n tyd toe dit voorspoedig gegaan het, toe dinge eenvoudig was, sê sy.

Maar hóékom vergeet ons haar nie – die vrou wat eens bruin hare gehad het en grootgeword het as Norma Jeane?

Een rede is omdat ons haar so duidelik sien wanneer ons ons oë toemaak: Haar platinablonde hare, haar rooi lippe en haar donker oogomlyner, sê Marlize. “Haar beeld is vir ewig in ons geheue vasgevang. Dit is wat haar lang-durigheid gee.”

Vergelyk Marilyn met vandag se sterre soos Lady Gaga en Madonna, sê prof. Amanda du Preez, ’n dosent in visuele kultuurstudies by die Universiteit van Pretoria. “Hulle is albei groot handelsmerke, maar as Lady Gaga vandag sou doodgaan, wat is daardie een beeld van haar wat ons sal onthou? Daar is nie een nie. Sy het soveel voorkomste.”

Die era van ikone met? ’n enkele beeld is verby omdat sterre deesdae onder druk is om interessant te bly in ’n vinnig veranderende wêreld. Marilyn is in daardie een beeld vasgevang, ’n handelsmerk waaraan mense hul eie betekenis kan heg, sê sy.

“Dis byna asof Marilyn ’n uitgeholde, eendimensionele beeld geword het. ?Sy kan met enige boodskap ‘gelaai’ word. Vir die jonger generasie beteken sy nie meer dieselfde as ’n paar dekades terug toe sy as sekssimbool gesien is nie. Jong mense is gewoond aan seks. Marilyn is eerder vir hulle ’n simbool van cool.”

En omdat haar beeld “verander saam met die tye”, is sy onsterflik.

* Lees die volle artikel in die Maart 2012-uitgawe van SARIE (vanaf Maandag 16 Feb te kry).

Nóg Marilyn-inspirasie in die Maart 2012-uitgawe:

Skoonheidsredakteur Mariska van Rooyen vertel ook stap vir stap hoe jy die ikoniese Marilyn Monroe-skoonheidsvoorkoms kan namaak. Boekredakteur Phyllis Green blaai ook deur dié maand se sterboek, Marilyn Monroe: Metamorphosis deur David Wills