Of beskryf ek liewer net hoe my laaste oefensessie verloop het? Noem ek die kortisoon-inspuiting wat vanmiddag op my wag of lys ek eerder net die liedjies wat ek versamel het vir my roadtrip Natures Valley toe?

Vyf dae voor die Otter en my woordeskat het my verlaat...

Ek kan 'n paar aanhalings neerpen... Daardie moriveringswoorde wat ek hierdie week soos mantras herhaal. Of dalk moet ek 'n prentjie van die wedloop se moordende profiel aanheg om n laaste simpatieke 'siestog' uit jou te lok?

Nee wat. Om my geliefde Amanda Strydom aan te haal:

'Dan liewer niks nie. Glimlag net gedwee.'

Die tyd is verby. Daar's is niks meer om te sê of te bewys of af te bid nie. Die dag het aangebreek. Die werk is gedoen. Nou is dit net ek en daardie beeldskone enkelpaadjie wat op 15 Oktober vir my wag.

Dankie, liewe leser, dat jy saam met my gereis het. Ek het presies n jaar gelede, op my verjaarsdag, hierdie uitdaging aan myself belowe. Noudat 38 my stadig bekruip, gaan ek hom met 'n bang tegemoet. Die Otter is seker die vreemdste geskenk wat enige vrou vir haarself sal kies, maar ek kan nie vir jou beskryf hoe opgewonde ek is om Maandag hierdie verjaarsdag-pakkie tree vir tree oop te maak nie.

Ek vra vir oulaas dat jy sal oorweeg om 'n donasie te maak aan die Tygerberg Kinderhospitaal. As jy vir Malcolm kontak by mkling@sun.ac.za sal hy vir jou die besonderhede stuur. Of SMS die woord 'milan' na 38198 om R10 te skenk.

Laastens, 'n ietwat vreemde versoek: Sal jy Maandag iewers deur die loop van die dag na die Oos-Kaap se kant toe draai en 'n aanmoediging fluister? Ek spring 6h30 weg, en sal vir 11 ure aan die hardloop wees. My kinders het belowe om 12h00 buite op die stoep te gaan staan en te skree 'Go Mamma, Milan!'
"Sal jy ons hoor, Mamma?" het my blou-oog kind bekommerd gevra.
"My hart sal, Pixie-pop. My hart sal jou hoor."

Nou ja... Hier gaan ons! Een voet voor die ander..

Milan