Die vroeë uitnodiging het met net dié stukkie inligting gekom: baie ver en baie koud!

åTot nou het my werk my meestal na die groot, blink stede geneem – van New York tot doer in Beijing. By tye het ek gebibber van die koue, en van die plekke was ook maar ver genoeg om jou vlugvoos en in ’n dwaal te laat.

Hoeveel verder en kouer kon dit tog wees, het ek gewonder. Wel, Ysland was die antwoord! Só ver en só koud.

My besoek aan YslandNog nooit was hierdie vulkaan-eiland, wat raak-raak aan die Noordpoolsirkel, of Reykjavík, die mees noordelike hoofstad op aarde, op my moetdoen- of wenslys nie. Al wat ek van Ysland geweet het, was dat die SA avonturier Riaan Manser en Dan Skinstad, broer van Bob Skinstad, in 2011 om die eiland geroei het (’n skrikwekkende vaart), en dat die vulkaan met die tongknoop-naam Eyjafjallajökull daar in 2010 so verwoed ontplof het dat dit die wêreld se lugverkeer tot stilstand geruk het.

Ver ís Ysland, maar minder koud as wat ek verwag het. En mooier en “kleurryker” as wat ek ooit kon droom.

My besoek aan YslandDis ’n eiland ryk aan stories, en die Yslanders deel dit graag. Van toentertyd toe hul voorsate, die einste Wikings en Keltiese setlaars, hulle in 870 n.C. hier begin vestig het en die inham in die suidweste “baai van rook” (Reykjavík) rots en see die geiser Strokkur gedoop het. Beskrywend inderdaad, want hier vorm en plooi die planeet haar nog – met storm en drang. Oor vulkaniese uitbarstings en aardbewings en die grondoppervlak wat op plekke 100 °C is en soos ’n maanlandskap verpoeier, praat die Yslanders soos ons elke dag oor die weer praat. Met hul beeldskone land is hulle in totale harmonie.

En immer in vervoering. Oor somer se middernagson wat vir hulle 24 uur se sonlig bring ná ’n lang, koue, skemer-winter. Oor die noorderlig (aurora borealis) wat die hemelruim verlig met ’n anderwêreldse kleurespel. Hul taal, Yslands (ou Wiking-taal), word soos Afrikaans, net in hul land gepraat, en daarop is hulle trots! En vroue beklee posisies soos president, premier en speaker van die parlement.

My besoek aan YslandWater, dís vir my Ysland. ’n Kuslyn waar growwe, gitswart vulkaniese rots blou see ontmoet, reuse-gletsers wat drukpot-vulkane bedek, lae bergpieke oortrek met sneeu, ysblou mere en riviere en watervalle wat ’n pad oopkloof oseaan toe. Daar’s warmwaterbronne en geisers, waar kokende water en stoom uit die maag van die aarde gespoeg word, genoeg om Ysland van groen krag te voorsien en toeriste te lok. Maar die heel beste: jy drink water net so uit die kraan! Glase vol, bottels vol. Yskoud, soet, suiwer. Die suiwerste op ons planeet, sê die kenners.

Dis ’n wêreld van ys en vuur, so anders as Afrika met sy ryke kleure en teksture. Maar daar is ’n unieke wesentjie wat albei kies: die Arktiese sterretjie (Arctic tern). Jaarliks migreer dié elegante voëltjie van noord na ons suide, en terug – ’n afstand van 71 000 km – net om heeljaar somer te geniet.