Vasbyt!

Inge Rall-Behm van Midrand het vanjaar aan die Mongoolse Derby deelgeneem: ’n Duisend kilometer met half wilde ponies oor die ongenaakbare Mongoolse steppe. Met een stel klere, geen geriewe nie, op die grond slaap, bitter min water, temperatuuruiterstes en vreemde kos. Sy het besluit om dié uitmergelende uithourit van tien dae aan te pak om haar grense te verbreed. Haar doel: Om geld vir die renoster-“weeshuis” in Limpopo in te samel. Sy is ’n narkotiseur en ma van twee.

My grootste les

“Dit was fisiek en emosioneel die moeilikste ding wat ek nog gedoen het. Fiksheid en boude wat gebrei is, is nie genoeg nie. Niks kan jou eintlik daarop voorberei nie. Daar is te veel veranderlikes. Die perdry self was die maklikste. “Ek het tussen die hulpkampe aan niks gedink nie, behalwe om die volgende veertig kilometer veilig te voltooi. Die verlede, hede en toekoms het ineengesmelt en dit het net oor oorlewing gegaan. Mense het vooraf gesê die plek bly ’n lang tyd in jou kop. Dit is só. Ek raak nog steeds emosioneel as ek oor die steppe praat.

“Een van die grootste lesse wat die steppe jou leer, is dat jy geen beheer het oor jou omstandighede nie. Jy moes op jou voete dink, planmaak. Vir my, ’n beheervraat, was dit ’n groot les. En ek moes leer – vinnig. “Die eerste dag al moes ek in ’n haelstorm ry, met weerlig wat om my slaan. Jy eet die kos wat vir jou gegee word, al smaak dit vreemd, want jy het die energie nodig om voort te gaan. Dit was baie vetterig, of gefermenteer, en almal het diarree gehad. Daar is geen toiletgeriewe nie en dit was ’n uitdaging. As jy snags ’n draai loop, moes jy boonop die kwaai waghonde probeer ontwyk.”

Jy daag nie gode uit

“Water is skaars en word soms ver aangedra. Dit word dus net gebruik vir drinkwater en om te kook. Die enigste ‘beskaafde’ ding wat ek gedoen het, was om my tande te borsel. Jy leer gou om met jou klere en al in jou slaapsak te klim, anders is dit môreoggend klam en koud. Ons was gedurig besig om Vaseline aan ons binneboude te smeer in ’n poging om nie te skaaf nie. Die mense by wie ons oornag het, het ons met groot oë aangestaar. “Van die 32 deelnemers wat weggespring het, het net agttien klaargemaak. By elke hulpkamp het jy gehoor nog iemand het uitgeval. Jy het dan besef hoe gelukkig jy is om nog in die uithourit te wees. Jy het geen idee wat vorentoe gaan gebeur nie.

“Dit was vir die meeste van ons ’n spirituele ervaring. Daar was oral gebede-hope van klippe of hout opmekaar gestapel. Jy het nie verby een gegaan sonder om drie keer kloksgewys daarom te ry nie. Noem dit gelowig, of bygelowig, jy daag nie die gode op die steppe uit nie. “Die oggend van dag vyf het ek wakker geskrik en gedink: Ek weet nie of ek vandag kans sien om weer te ry nie. Ek was die hele dag verskriklik emosioneel. Toe ek klaarmaak, het ek my man, Kurt, gebel. Dit was die eerste keer in tien dae dat ons kontak gehad het. Ek het só getjank, ek kon byna nie praat nie. Die verligting dat ek veilig die rit voltooi het, was oorweldigend. Ek het so geseënd gevoel.”

Wat ek geleer het

  • Sedert ek teruggekom het, is ek minder gedrewe om heeltyd in beheer te wees. Ek weet jy val terug in ’n groef. Maar ek gaan dit nie toelaat nie.
  • Jy kan met so min klaarkom. Die vyf kilogram wat ek met my kon saamneem, was byna te veel. So ek raak nou ontslae van alles wat ’n mens tog so graag opgaar. My man keer net vir sy ou motorfietse!
  • Waardeer die ongewaardeerde dinge in die lewe – lopende water, skoon naels, boerekos – en natuurlik die toilet!

Besoek www.ingerallbehm.co.za