Kleurkrytterapie

Vir Tanya O’Connor van Gordonsbaai was haar tekenpen en inkleurkryt nog altyd ’n uitkoms teen die lewe se grille. Vanjaar het sy besluit om dit met ander mense te deel. In haar inkleurboek vir volwassenes, Kom, kleur in (Naledi, 2013), kry jy vroue wat dans, spykerhakke wat die hoogte in skop, ’n handsak wat sorgeloos geswaai word. En terwyl jy inkleur, verdwyn jou sorge.

Prentjies red my “Dit is nie maklik om die verledeuit te vee nie. Om weg te stap van dood, verlies, wanhoop, depressie en alleenheid nie. Jy kan nie. My eerste man, Tony [Green], is ná ’n motorfietsongeluk in my arms dood. My ma het aan depressie gely vandat ek elf was. Ek het vier geliefdes in twaalf jaar verloor. ’n Perd het my aan my voet gesleep en ek het my reuksintuig verloor. Ek het op drie maande ’n miskraam gehad. Ek het nie geweet of Rory, my seuntjie, nou drie, ná sy geboorte gaan lewe nie. Ek was twee weke lank nie seker of ek hom gaan sien kruip, loop of grootword nie. Ek het postnatale depressie gehad. “En nou is ek hier. Ek is gelukkig getroud met Paddy, Rory speel op my bed. Die lewe is goed. Ek wonder hoe het ek tot hier gekom, en hoe kom ek steeds deur elke dag? Die toekoms, Rory wat ’n ouer ma het – ek het hom op 43 gehad – my gesondheid, die wêreld wat hard en rof kan wees, die onvoorsiene … Hoe gemaak daarmee? “Ek het vanjaar ’n antwoord gekry. Ek raak met liefde aan my inkpen … Want om prentjies te teken en dit in te kleur was my behoud. Ek doen dit steeds elke dag. Ek teken vandat ek kan onthou op los blaaie. Smiddae wanneer my ma in ’n donker vertrek lê, ’n maer bondeltjie onder ’n kombers, lê ek op die sitkamervloer op my maag. Ek teken. In matriek probeer sy twee keer selfdood pleeg. Ek slaag matriek, want ek teken.”

Net voor ek begin kla ... gaan lê ek op my bed en teken ... weer en weer help dit

- Tanya O'Connor

Ek wil dit deel

“Vanjaar het ek besluit om my terapie te deel. Ek koop ’n paar eenvoudige A4-boeke met leë bladsye. Teken dit vol. Ek kry ’n sak aartappelsakkies by die naaste kettingwinkel en trek my boeke daarmee oor. Dis sterker as gewone bruinpapier en my boeke moet hou. Op elke boek teken ek met wit verf ’n roos. Elke roos, elke boek is anders, net soos elkeen se seer anders is. Ek teken sedert die begin van die jaar maklik 500 sulke boeke vol. “Ek gee sommer ’n hele paar weg. Met vriendinne wat mekaar omhels, hande wat na die toekoms uitreik en tot siens aan die verlede sê. In ’n prentjie is alles moontlik.

“En dan die wonderlike oproep van Naledi-uitgewers: ‘Tanya, ons wil jou inkleurboek uitgee – vir volwassenes.’ “My seuntjie word siek, ek slaap min. Ek lees die koerant, alles raak duurder, die petrolprys skiet die hoogte in. Dit reën hard. My lyf is verniel ná jare se perdry, my rug seer wanneer dit koud is. “Net voor ek begin kla, net voor ek myself jammer kry, gaan lê ek op my bed en begin teken. En dan kleur ek dit in. Weer en weer help dit. Vanjaar het ek heel geword. En ek weet: Ek kán heel bly.”

Wat ek geleer het

  • Ek dra altyd ’n boek en pen in my handsak. Wanneer ek voel ek verloor perspektief, geduld, geloof, hoop, of sommer net tred met die hier en nou, teken ek.
  • Ek skryf by elke prentjie. Ek laat my seerkry, frustrasie, of wat ook al, vry.
  • Daar is altyd hoop, altyd ’n uitweg. Ná ’n paar sketse los die probleme hulself op.
  • Jy kan nie altyd die lewe beheer nie, maar jou inkleurpotlode kan jy beheer.