Die artikel 'My man is ’n narsis’ – SARIE-leser vertel het onlangs soos ’n veldbrand versprei. Talle vroue van reg oor die land kon met dié leser en haar brief identifiseer.

Maar vir Merida van der Walt* het dit ou wonde oopgekrap. “Dit het gevoel of ek ’n brief van my eie ma lees. Wat van die kinders? Hulle kry ook swaar.”

Hier is haar brief:

Ek wil graag aansluit by die lesersbrief “My man is ’n narsis” op SARIE.com.

Die brief het baie emosies by my ontlok omdat ek die kind van ’n narsistiese pa is. Ek stem heelhartig saam met die skrywer se raad aan mense in haar posisie [om weg te stap van ’n verhouding met ’n narsis], omdat navorsing wys dat narsiste nie verander nie. Om te kan verander is die eerste stap om te erken dat daar ’n probleem is. Maar aangesien narsiste glo dat hulle geen tekortkominge het nie, is dit onwaarskynlik dat hulle sal aanklop om hulp. As mens in ’n verhouding is met so ’n persoon en besef daar is ’n probleem maar dit word nie aangespreek nie, dan is die skrif teen die muur. ’n Verantwoordelike ma behoort mooi na te dink oor die impak wat dit het om haar kinders in so ’n giftige omgewing groot te maak. Die skrywer kon, hetsy om finansiële of ander redes, nie haar eie raad volg nie en dit is hartseer dat haar vier kinders in so ’n omgewing moes grootword. Ek raak woedend om te hoor hoe sy praat van ’n “probleempie” en hoe die brief net oor haarself gaan en sy die vier kinders slegs in die verbygaan noem. Haar pyn is eerlik en real, maar haar trane grotendeels vir haarself. 

Ek wonder hoe die pa se “probleempie”, soos sy dit noem, haar kinders geaffekteer het ... Hulle is dan ook tydens húl persoonlikheidsvormingsjare blootgestel aan minstens een narsistiese ouer. As die ma soveel tyd en aandag daaraan moes gee om alles perfek te doen en na die pa se pype te dans, hoeveel aandag kon sy gee aan die vier kinders? Hoekom kry mens vier kinders as jy nie cope met jou eie man se demands nie?

Sy noem dat sy hom nie wil afkraak voor die kinders of enigiemand anders nie. Hoekom wil sy die realiteit dan verder “sugarcoat”? Dalk hou sy nie van wat haar keuse van ’n lewensmaat oor haarself sê nie? Sy roem haar nogals op hoe baie navorsing sy gedoen het en hoe sy boeke van oorsee af bestel het ... oorsee, nogals! Dalk omdat sy trots is dat sy ná al die jare die kompetisie gewen het. Een narsistiese ouer teen ’n ander. Wat ’n spektakel! Ek stel my voor hoe sy by haarself dink, “Wê, ek het tog eerste uitgefigure wat fout is met ons twee!” 

Ek vind dit baie eienaardig dat hulle tot vandag toe nog nie weer oor die gesprek op die stoep gepraat nie. Hoe roer mens so groot subject aan en praat nie weer daaroor nie? Tot wat het al haar kennis gelei? Tot ’n enkele brief waarin sy spog oor hoe sy haar probleempie uitgefigure het. Het sy insig in hoe hierdie saak haar vier kinders moes affekteer? Wanneer mens agterkom dat daar vir dekades ’n “probleempie” was in jou huishouding, dan sal ’n redelike persoon besef dat die prioriteit behoort te wees om hulp te kry vir die kinders wat kwesbaar was en geen stem gehad het teen ’n boelie soos hierdie man nie. Deur moeders wat hul man se optrede “sugarcoat”, gaan die siklus van boelie voort.

Narsiste is bekend vir die emosionele vorm van geweld genaamd gaslighting. Hierdie taktiek is wat die meeste skade gedoen het in my lewe, soveel so dat ek nie vertroue gehad het in my eie vermoë om besluite te neem of selfs my eie geheue van gebeure nie. Ek was op ’n hoë dosis antidepressante asook kalmeermiddels as ’n resultaat van die jare lange abuse. Hierdie probleem het ons hele gesin geraak, want dit was as ’t ware ’n narsistiese gesinsisteem wat nog meer komplekse dinamika het as net een narsistiese individu. Elkeen in ons gesin het ’n rol gehad wat hulle moes speel – ek moes die rol speel van “onsigbare” kind – ek mag gesien word maar nie gehoor word nie. My needs het bloot nie getel nie en ek moes altyd die minste wees, bv. eerste jammer sê, selfs al was ek nie die oortreder nie. 

My hart gaan uit na enige kind wat grootword in hierdie tipe huishouding waar liefde kondisioneel is, waar probleme onder die mat ingevee word en waar daar nie die nodige hulp en aandag aan kinders geskenk word nie. Dit is hartseer om weer te lees van so ’n geval waar die nagevolge van so ’n “probleempie” nie eerlik erken word nie en waar die ego van die boelie belangriker is as die waarheid en so beskerm word ten koste van almal betrokke. Hierdie probleem is baie prominent in ons Afrikaner-Christen-families en dit gaan stil-stil voort. Ek wil met hierdie skrywe ’n bewustheid skep dat kinders soos ek vir dekades gebukkend gaan onder die “ja en amen” van die Afrikaner-Christen-pa en sy enabler, die ma. My sussie, my eerste speelmaat in die lewe, het dieselfde gedoen. Ek het nou nog soveel pyn omdat sy my afgekraak en ook fisiek seergemaak het en dan dit ontken het. In my ouers se oë kon sy niks verkeerd doen nie. In so ’n gesinsisteem word daar oneindige verskonings gemaak vir die oortreders en hoef hulle nooit die nagevolge van hul aksies te face nie.

Ek het nou al vir meer as twee jaar geensins kontak met my familie nie. Dit het mettertyd gebeur en dit het gevoel soos ’n egskeiding, maar veel erger in party opsigte. Ek het baie judgement gekry vanaf die gemeenskap en kerk, bloot omdat ek teen sosiale norme opgetree het. Ek mis my ouers by tye, want nie alles was sleg van ons verhouding nie, maar ek weet dat dit nie gesond is vir my om kontak te hê met hulle nie.

Anders as die “eer jou vader en jou moeder”-gebod, glo ek dat wedersydse respek ons gemeenskap se motto behoort te wees. Daar behoort ’n mate van gee en neem te wees in enige verhouding. En wanneer daardie balans versteurd is, dan het elke individu ’n keuse of hy bly en of hy gaan. Kinders word grootmense en kan dan kies of hulle ’n verhouding wil hê met hul ouers.

* ’n Skuilnaam is gebruik.