Hy skrik elke keer wat hy ’n ouer man en vrou saam sien loop. Want nooit het hy kon dink die dag sou kom dat sy ma en pa nie meer saam sou wees nie. Sy prentjie van ‘huis’ is vir eers in ’n boks gepak, skryf Gielie Hoffmann.

Niks berei jou voor vir die oomblik dat jou ouers besluit hul huwelik is verby nie. Veral nie as jy ’n volwassene is nie. Maar na dese glo ek daar bestaan iets soos ’n volwasse kind. Want die een plek waar jy nog ’n kind was, was jou ouerhuis. En nou is daardie beeld, daardie idee van ’n huis, nie meer heel nie.

Ek glo verbete in albei my ouers se goedheid. Ek weet hulle was lief vir mekaar. Ek weet hulle was goed vir my en my suster. Ek weet niks gee hulle meer vreugde as hul kleinkinders nie. Vir skool en kerk en vriende en familie was hul harte en hande oop. Êrens langs die lang pad het hulle net mekaar verloor.

FOTO Unsplash FOTO Unsplash

Die eerste week ná die nuus gebreek het, kon ek vir niemand daarvan sê nie. Ek het nie oor die taal beskik om so ’n gesprek te voer nie. In hierdie tyd het ek kort-kort met hulle gesels en probeer sin maak van wat aan die gang is. Ek het in ’n stadium besef ek sal vir mense moet sê; dit is hoe ek sin maak.

Ek het eers ’n standaard-boodskap vir al my naastes getik: ‘Bietjie slegte nuus. My liewe ouers is besig om te skei. Dis beter so. Hoop dit sal skoon en vinnig afloop. Ek is hartseer en teleurgestel maar ek is ook hoopvol vir hulle albei dat dit met hulle beter sal gaan as individue. So there’s it.’

Sommige wou dadelik praat, ander het dadelik iets teruggestuur en enkeles het nie geweet hoe of wat nie. My ouerhuis was vir baie van my vriende ’n bymekaarkomplek en my ouers mense vir wie hulle ook lief geword het.

Die gesprekke wat gevolg het, het my goed gedoen. Ek weet my ma het met haar susters gesels. Ek het enkele van haar vriendinne laat weet. Maar ek was bekommerd oor my pa. Hy het nie gepraat nie, vir niemand vertel nie, en dus, volgens my, nog nie sin daarvan probeer maak nie.

Hier en daar het ek vermoed die woord het begin versprei. Ek was nie lus om vir elke mens wat ek ken dit te moet oorvertel nie. Jy kan maklik jouself as ’n slagoffer begin sien deur dieselfde storie oor en oor te vertel.

Ek het een aand laat op Facebook die volgende geskryf: ‘Ek het al gehoor van die uitdrukking – this too shall pass – het dit al self vir ander gesê. Meer as ooit hoop ek hierdie woorde is waar. My ouers is besig om te skei. Nooit, nêrens, het ek gedink ek sal hierdie woorde hoef te sê nie. My woede word net oorskry deur die deernis wat ek nou vir hulle het. My idee van heelwees moet ek nou herdefinieer. My prentjie van huis is vir eers in ’n boks gepak. Ek skrik elke keer wat ek ’n oom en tannie saam sien loop; my hart sit in my keel as ek dink my ma moet 39 jaar op die plaas oppak; ek hoop my pa sal nou Dis-Chem se rye self kan oriënteer. Ek vind my troos in humor. Liewers trane van lag. As jy my êrens sien en ek vergryp my aan koolhidrate, stop my asseblief.’

Die doel van die status was tweeledig: nou sal die meeste mense in my lewe daarvan weet, en hopelik sal baie familie en vriende my pa en ma kontak en met hulle gesels. Ek was nie voorbereid op die stortvloed boodskappe nie. Baie het net kommentaar gelewer – mooi, opreg. Ander het hul stories met my gedeel in my inboks – persoonlik, rou. En enkeles het vir my e-pos gestuur met hul weergawes van dieselfde verhaal.

FOTO Unsplash FOTO Unsplash

Iets wat vir my volksvreemd was, is toe nie so ’n vreemde verskynsel nie. Tientalle vriende en kennisse se ouers het geskei nadat hulle klaar was met skool of universiteit, of toe hulle al self getroud was. Daar het ’n definitiewe skuif plaasgevind in hoe ouer mense die huwelik beskou en hul aftrede aanpak.

Natuurlik is daar honderde lae wat nog hulself sal wys. Ek weet net dat dit baie moontlik, byna onvermydelik, is dat ouer getroudes met die tyd weg van mekaar kan dryf. Dit gebeur om verskillende redes. In my ouers se geval dink ek die laaste 20 jaar moes ons onder meer die volgende hanteer: my pa wat sy werk verloor het; toe net daarna is hy in Soweto gekaap met ’n AK-47 teen sy kop; my ma wat gevolglik voldag begin werk het; die afsterwe van drie grootouers, van wie twee grootliks op ons staatgemaak het vir versorging op hul einde; die verdere verlies van ’n broer en ’n suster vir wie almal baie lief was; my en my suster se studentejare en die finansiële druk wat daarmee saamgaan; my suster se egskeiding en die gevolglike ondersteuning wat sy en haar twee kinders nodig gehad het; en dan my pa wat skielik siek geword het en ’n leweroorplanting moes kry.

As ek dit so opnoem, lyk dit na ’n slagveld, maar as jy midde-in dit is, hanteer jy alles dag vir dag en vervaag baie van dit omdat jy ook besig is met positiewe goed en jy wonderlike mense in jou lewe het.

Maar al daardie goed stel vrae aan ’n huwelik en eis mettertyd hul tol. Dit is nou drie jaar ná my pa se oorplanting en sy gesondheid is goed. Dit gaan goed met my suster en haar kinders. Ek is gelukkig in my lewe. Êrens in ’n gesprek het ek vir my ma gesê dit voel asof hulle nou op die kruin van die berg is, hul koppe opgelig het ná die moeisame klim, gesien het wat voorlê, vir mekaar gekyk het en besef het hulle sien nie kans vir die volgende skof saam nie. Dit moes nou hul goue jare saam wees, voel ek. Sommige huwelike sneuwel aan die voet van die berg, ander terwyl jy die berg aanpak en ja, party ná die moeilikste verby is.

FOTO Unsplash FOTO Unsplash

Ek dink as jy enigsins ’n kans wil hê om weer nader aan mekaar te kom is ’n paar goed nodig: julle moet vriende wees wat nie net êrens liefde gedeel het nie maar eintlik nogal van mekaar hou ook; ek dink julle moet kan praat met mekaar; en dan help dit as daar gedeelde belangstellings is wat wyer strek as net kinders en kleinkinders.

As dit nie daar is nie, neem die frustrasie toe. Vir lank het die klein jakkalsies nie plek gehad in hul lewe nie, hulle was te besig om te versorg en te help. Maar in die laaste fase van jou lewe, of soos wat Jane Fonda dit noem, die ‘third act’, dink ek jou toleransie vir klein jakkalsies is versadig.

So waar los dit ’n mens? Ek aanvaar hul besluit. Ek mag hulle nie verwyt nie. Dit mag ook nie my idee van verhoudings of liefde kelder nie. Ek moet doelbewus nou aandag gee aan albei, afsonderlik, en hulle ondersteun. Moes my ouers vroeër geskei het? Ek weet nie. Ek is dankbaar vir die standvastigheid, leiding, geleenthede en liefde wat hulle vir my gegee het. Dit sou anders gewees het as hulle langer terug al geskei was.

Ek is nog nie reg vir die idee dat hulle dalk iemand anders in hul lewe sal kry nie; ons moet maar daai brug oorsteek as ons daar kom. Vir eers is dit nou die sagte ontbondeling van ’n lewe saam wat moet plaasvind. Verdeel, pak, trek, oorbegin, weerbegin, nuutbegin.

Stadig maar seker begin die prentjie van huis in my kop weer lyne kry. Ons eerste Kersfees, eerste verjaardae, al die eerstes sal hopelik mooi binne daardie lyne begin inkleur. Ek dink terug aan ’n grappie van Johan C. Bakkes wat ek raakgelees het. Hy sê: As ek kan kies tussen troues en begrafnisse, kies ek liewers om begrafnisse by te woon, want troues is so finaal. Nou ja. Kom ons kyk.

Lees nou

Susters of ma en dogter?

Kyk hoe lekker kry hierdie pasgebore baba!