Op 20 Julie 1969 het die Amerikaner Neil Armstrong, leier van die Apollo 11-sending, die eerste mens ooit geword wat sy voete op die maan gesit het. "One small step for man ... one giant leap for mankind," het sy beroemde woorde derduisende kilometer ver oor die eter weerklink. Twintig minute lank was dit net hy daar op die stil, stowwerige maan, totdat sy mede-ruimtevaarder Buzz Aldrin by hom aangesluit het. Saam het die twee die Amerikaanse vlag gehys.

Vandag, 48 jaar later, leef net Aldrin nog. Hy is 87 jaar oud en woon in Satellite Beach in Florida, Amerika.

Hier's 5 interessante feite oor die maan:

1. Die maan is gemiddeld 384 403 km ver van die aarde.

2. Dit duur 27 dae, 7 uur, 43 minute en 11,6 sekondes vir die maan om die aarde een keer te omsirkel.

3. As jy op die aarde 3 meter hoog kan spring, sal dit op die maan 18 meter hoog wees. En as jy 45 kg op aarde weeg, weeg jy op die maan net 7,4 kg. Hoekom? Die maan se gravitasiekrag is slegs 17% van die aarde s'n.

4. Daar is elke 414 dae ’n supermaan (wanneer die maan groter en helderder vertoon as ander tye omdat hy nader aan die middel van die aarde is).

5. Die naam "Luna", wat maan beteken, is tans onder die 100 gewildste babaname in Nederland, Duitsland, Swede en Spanje.

Bronne: Space.com, Nameberry, Nasa

Apollo 17 Hassleblad image from film magazine 140/E - EVA-3

A post shared by Nasa Moon Missons (@nasamoonmissions) on

Só neem jy die maan af

SARIE se fotograaf, Phyllis Green, deel spesiaal hierdie wenke:

Almal van ons wil graag mooier foto’s neem. Sommige onderwerpe, soos die maan, vereis bietjie meer vaardigheid as ander.

1. Om die maan groter te laat vertoon op ’n foto, moet jy verkieslik ’n goeie kamera met ’n 200 mm-lens hê en ’n driepoot gebruik. Die driepoot verseker dat jy nie kamerabeweging het nie.

2. Maak seker dat jy die foto nie oorbelig nie, want dan gaan die maan net soos ’n groot wit kol lyk. Die beste ligverstelling vir so ’n maanfoto is om jou kamera op 100 ASA te stel, die lensopening op f.11 en die kameraspoed op 1/125. As die maan baie helder is, stel die lensopening op tot f.16. As die maan dof is, stel die lensopening af na f.8 of f.5.6. Dis dalk raadsaam om die skoot te “bracket”, met ander woorde, neem die foto op drie verskillende verstellings en kies die beste foto.

3. Wanneer jy iets in die voorgrond van die foto het met die maan in die agtergrond, gaan die maan altyd oorbelig wees. Neem twee foto’s waarvan die komposisie identies is, maar een net van die maan en een waarop die maan in die agtergrond is. Nou kan jy die maan agterna in Photoshop in die foto plaas sodat daar darem detail op die maan is.