Dis ’n triestige dag in Londen en ’n man met oorfone klim op ’n moltrein. Dis koud en grys. Eers begin hy neurie, dan begin hy sag sing: “Shosholoza”. Een vir een staan die pendelaars op en begin saamsing. Almal Suid-Afrikaners. Almal met dieselfde verlange in hul hart. Dié advertensie het ’n emosionele snaar geraak. Dis met dieselfde emosie dat die Homecoming Revolution, ’n organisasie sonder winsoogmerk, opgeleide Suid-Afrikaners in die buiteland probeer teruglok om hul vaardighede in hul geboorteland terug te ploeg. Want hier ís geleenthede om suksesvol te wees, sê Martine Schaffer, besturende direkteur. Maar emosie is nie genoeg nie.

“Ja, ons land is lieflik en die Londen-weer is goor. Maar dit gaan nie daaroor nie. Dis ook om in ’n land te wees wat groei. Jy kan ’n rol speel om ’n verskil hier te maak.” Oktober verlede jaar verskyn ’n berig in die dagblad Beeld, waarin John Kane-Berman, hoofamptenaar van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR), sê die land het ’n ernstige gebrek aan vaardighede en dit kan potensieel noodlottig wees vir ekonomiese groei in Suid-Afrika.

Dié organisasie het bereken sowat 841 000 wit Suid-Afrikaners het die land tussen 1995 en 2005 verlaat. En baie van hulle het vaardighede wat Suid-Afrika nodig het, sê Bärbel Haldenwang, senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsnavorsing. Die laaste amptelike emigrasie-statistieke is in 2003 aangeteken, sê sy. Ingevolge die Wet op Immigrasie van 2002 is dit nie meer nodig vir Suid-Afrikaners om vertrekvorms in te vul nie. Statistieke Suid-Afrika se syfers van 2003 wys dat 16 165 mense die land in daardie jaar verlaat het en 65% van hulle was “ekonomies aktief”, sê Bärbel. Dus werkende mense.

Ons ken die redes hoekom mense die land verlaat: Misdaad, min werkgeleenthede, regstellende aksie, ’n persepsie dat hulle of hul kinders geen toekoms in die land het nie . . .

Hoekom bly?
Die belangriker vraag is: Hoekom moet hulle bly? “’n Mens se land is deel van jou identiteit,” sê Tim du Plessis, redakteur van Rapport. “Jy kan in ’n nuwe land gaan oorleef, bes moontlik gemaklik, maar jy sal altyd identiteitsgestrem wees. As jy in jou vaderland bly en jou vaardighede inploeg, versterk jy die band met jou land. Jy verdiep ook jou reg om aanspraak te maak dat jou land jou belegging of verbintenis beloon met veiligheid, met geleenthede, met vryheid en met hoop.”

“Dit gaan nie oor wat die land jou kan bied nie,” haal dr. Basil Leonard, dosent aan die US se Bestuurskool, John F. Kennedy aan. “Jy moet besluit wat jy vir die land kan beteken. As jy jouself voortdurend in jou loopbaan ontwikkel, sal jy baie kan bied, soos die gehalte van jou diens en leierskap.”

’n Vriendin stem saam: “Ek sal nie deel kan wees van ’n ander land se probleme nie. Hier kan ek eienaarskap van SA se probleme neem en help om ’n beter toekoms te bou.”

Martine sê: “Die regering het ’n sterk en stabiele ekonomie gebou. Ons sien groei - kwartaal ná kwartaal. Die wêreld sien ons as ’n gebied waar geleenthede is en dis gunstig. Afrika is ’n onontginde vasteland.”

 

'n Mens se land is deel van jou identiteit - Tim du Plessis, redakteur van Rapport.

 

Tim meen die groeiende ekonomie is inderdaad die sterkste ligpunt. “As dit volhoubaar is, is dit onvermydelik dat dit geleenthede vir jong mense gaan skep. Dis ook hoekom ek glo aan Suid-Afrika se toekoms - ons gaan nog die Italië van Afrika word, waar die ekonomie voortstoom ondanks die politici se verspotte kaperjolle en versuime.”

Yvonne Johnston, uitvoerende hoof van die Internasionale Bemarkingsraad van Suid-Afrika, sê daar is dalk meer onsekerheid in Suid-Afrika en jy moet meer van ’n entrepreneur wees, maar sy sien elke dag hoe mense werk kry. “Suid-Afrika beleef ’n bloeitydperk. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 gaan ongeëwenaarde geleenthede bring. Jy’s nêrens in die wêreld verseker van werk nie. Met die normalisering van die Suid-Afrikaanse samelewing het die mededinging strawwer geword. Daar’s meer kandidate vir elke werk wat beskikbaar is. Jy moet meer mededingend wees.”

Tim, ’n pa van twee, meen sy kinders het beslis ’n toekoms in SA. “Maar dan sal hulle hard moet werk en presteer - harder as wat ek en die lede van my geslag moes werk. Maak jou onmisbaar, was Anton Rupert se raad. Ek leer dit vir my kinders ook.”

‘Ons is terug’

Jenny Cereseto, entrepreneur van Johannesburg, het ses jaar in Edinburgh in Skotland gewoon waar sy bemarking vir ’n finansiële maatskappy gedoen het. Sy het in 2005 teruggekom en haar baie suksesvolle speed dating-onderneming op die been gebring.
“Ek dink dis ’n gebied wat nog nuut is en baie geleenthede het.” Die lewensgehalte in SA het haar teruggelok. “Die weer is fantasties. Ek stap gereeld stap-roetes, wat ek nie in Skotland kon doen nie. Met my salaris hier kan ek sowat drie keer per week uitgaan - iets wat nie in Edinburgh moontlik was nie.”

Jenny Cereseto

Ammerancy Kidson, ’n aktrise van Johannesburg, het ná sewe jaar teruggetrek SA toe. Sy het opleiding ontvang aan die Drama Studio London, een van Londen se top-dramaskole. “Ek’t geleer jy is jou eie besigheid. Ek werk hard om werk te kry. Ek skryf gereeld briewe en stuur my CV vir regisseurs, agente, ens. Ek bou verhoudinge met mense in die bedryf. Ek oefen in die gim en doen stem- oefeninge. Jy moet altyd ’n kortkop voor ander wees. In Suid- Afrika kan ek in my moedertaal (Afrikaans) werk.”
Sy erken die bedryf hier is klein, maar jy moet bereid wees om jouself te druk en ook ander werk soos regie en skryfwerk te doen. Sy ondervind dat mense in die bedryf baie behulpsaam is, anders as in Londen.

 

Staan uit
Jy moet ’n goeie opvoeding hê en naskoolse onderrig kry, sê Martine. “Dís in die res van die wêreld ook so. Suid-Afrika is besig om in die pas te kom met wêreldneigings.”

Dawie Roodt, Johannesburgse ekonoom, sê jy moet jou geleenthede in SA opweeg. Net jy kan besluit of jy hier kan bly. “Dit gaan nie ’n maklike pad wees nie. Afrika is ’n plek vir avonturiers.”

Wees positief, sê Martine. “As jy heeltyd kla jy gaan nie werk kry nie, gaan jy nie kry nie. Baie mense kontak my en as ek na hul CV’s kyk, sien ek hoekom hulle nie werk kry nie. Hul houding op die CV-dekbrief is negatief.”

Verbreed jou horisonne, maar . . .
Yvonne beklemtoon dit beteken nie jy moenie oorsee gaan nie. “Jong mense vind baat by verskillende werk- en kultuur-ervarings in die buiteland. Jy moenie aanneem dat almal wat oorsee gaan, verlore vir die land is nie. Baie mense kom ná ’n paar jaar terug, beter toegerus vir sake hier.”

Maar baie mense gaan oorsee en leer nie nuwe vaardighede nie, sê Martine. Dis ’n fout, want jy gaan vaardighede nodig hê om ’n toekoms in SA te hê.

Ernst Roets (23), regstudent in sy vierde jaar aan die Universiteit van Pretoria, oorweeg dit geensins om die land permanent te verlaat nie. “Ek’s geweldig trots op my kultuur. Ek het ’n identiteit in Suid-Afrika.”

Ernst is die voorsitter van die jeugbeweging van die vakbond Solidariteit. Sy ervaring uit interaksie met studente is dat baie van hulle wil land uit. “Veral wit studente, want hulle voel hulle kry nie gelyke regte nie.”

Ernst meen jy kan nie die probleme - soos die regering se onvermoë om misdaad te bekamp, werkloosheid en swak salarisse in sekere sektore - miskyk nie. “Ek weet van jong mense wat baie onderskeidings in matriek kry, maar steeds nie vir medies gekeur word nie. Dít maak dit moeilik om vir iemand te sê hy moet bly.”

In ’n onlangse studie wat Solidariteit Jeug onder 165 hoofleiers van hoofsaaklik Afrikaanse skole landwyd gedoen het, het 77% aangetoon hulle oorweeg dit nie om Suid-Afrika permanent te verlaat nie, en 60% van die hoofleiers het gemeen daar is ’n sterk moontlikheid om werk in die land te kry. Dit lyk positief, maar dit hang af hoe jy daarna kyk, sê Ernst. “Want 23% wil steeds die land verlaat.”

Hy voel loopbaan-advies, reeds op skoolvlak, kan baie help om jong mense hier te hou. Hulle moet ingelig word oor watter gebiede ’n vraag na vaardige mense het. En in gebiede soos ingenieurswese, gesondheid, opvoeding en informasie-tegnologie (IT) is die vraag na opgeleide mense hoog, sê Bärbel. “Navorsing wys dat sowat 5 000 ingenieurs op energie-gebied alleen benodig word, daar gaan ’n tekort aan 70 000 opgeleide mense in die IT-bedryf in die volgende drie jaar wees en ’n tekort aan 35 000 onderwysers teen 2008. Ons lei nie genoeg onderwysers op nie en te veel onderwysers verlaat die land om oorsee te gaan skoolgee.”

Hoe vergelyk SA se opleiding met res van wêreld?

Die gehalte van tersiêre onderrig in Suid-Afrika is van die beste ter wêreld, meen dr. Basil Leonard van Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool. “Suid-Afrika se opgeleide mense is wêreldwyd in aanvraag. Daar is wel instansies in die land wat nie op peil is nie, maar dis die uitsondering.”

Prof. Eon Smit, direkteur van die US se Bestuurskool, sê SA bestuurskole bied wêreldklas-sake-opleiding, maar gewoonlik teen ’n fraksie van die prys

van soortgelyke oorsese kursusse.

Frans Cronjé van die SAIRR is bekommerd oor die opleiding in veral wiskunde en wetenskap op skoolvlak. In 2003 het die International Study Centre by Boston College in Massachusetts ’n vergelykende studie onder gr. 8-leerders wêreldwyd gedoen. “In dié studie (Trends in International Maths and Science Study) is SA leerders laaste geplaas uit sowat 50 lande, waaronder Ghana en Tunisië. Ons lewer dus beperkte vaardighede en plaas nog rassekwotas op die vaardighede wat ons wel het.”

 

Wat moet verander?
Hoewel op entrepreneurswese gehamer word, is almal nie entrepreneurs nie, sê Tim. “Wat van navorsers, akademici, joernaliste - hulle het omtrent almal ’n korporatiewe infrastruktuur nodig om hul beroepe te kan beoefen. “Ons moet fermer begin debat voer oor ’n sonsondergang-klousule oor regstellende aksie en kwotas. Almal verstaan die noodsaak vir ’n regstelling van die onreg van die verlede. Maar dit móét ’n tydelike proses bly en nie ’n ideologie word soos tans gebeur nie.”

In die openbare sektor moet na die vergoeding van dokters, verpleegsters, onderwysers en mense in die plaaslike regering gekyk word, sê Martine. Maatskappye moet gereeld hul werknemers oplei, ontwikkel en ’n manier vind om hulle terug te bring nadat hulle ’n ruk lank oorsee gestuur is.”

Frans Cronjé, ontwikkelingshoof van die SAIRR, sê misdaad moet opgelos word. “Dis die grootste rede waarom mense die land verlaat. Nasiebou en patriotisme is goeie redes vir mense om te bly, maar dit mag nooit ’n verskoning word oor hoekom Suid-Afrikaners hoë misdaadvlakke en subtiele en regstreekse vorme van diskriminasie moet aanvaar nie."

Vir Basil is daar geen twyfel nie. Jong, professionele Suid-Afrikaners moet hier bly om ’n sterk ekonomiese land te bou. Tim sê jong mense moet bereid wees om onder te begin, nie skaam wees vir harde werk nie, buigsaam wees, energie en geesdrif kantoor toe bring, soveel as moontlik vaardighede onder die knie kry en besef dit duur ’n rukkie voordat die stewige salaris en die maatskappymotor kom.”

Die siening is dikwels dat die gras groener aan die ander kant van die draad is. Werk is volop, salarisse is groter en werkomstandighede is beter. Maar is dit? vra Yvonne. “Ek het ’n 23-jarige in Londen ontmoet wat as vullisverwyderaar gewerk het. Hy sou dit nie hier gedoen het nie. Ek het al van Suid-Afrikaners gehoor wat na Nieu-Seeland en Kanada verhuis het, wat sukkel om werk te kry. Ek het ’n vriendin wat Toronto toe getrek het en 18 maande lank nie werk kon kry nie. Sy verkoop nou advertensieruimte en het haar spaargeld uitgeput.”

Martine sê: “Vir sommige mense gaan die gras groener wees. Dit bly jou besluit om te gaan of nie.”