’n Orca (moordwalvis) in die noordwestelike waters van die Stille Oseaan het al vir 17 dae lank met haar dooie kalfie geswem en tevergeefs probeer om haar te laat dryf. Die vertoon van haar hartseer het wêreldwyd ’n emosionele snaar aangeraak, berig The Seatle Times. En die kollig op die lot van dié krities bedreigde bevolking van moordwalvisse naby San Juan Island, Washington, laat val. 

Die 20-jarige Orca, bekend as J35 of Tahlequah, het op 24 Julie geboorte aan 'n vroulike kalfie gegee. Die baba-Orca is ’n paar minute later dood. Tahlequah is gesien waar sy haar dooie baba op haar kop en neus balanseer terwyl sy deur die woelige see swem. Hulle is op 2 Augustus die laaste keer gewaar. Ander lede van die skool het beurte gemaak in wat as ’n begrafnisritueel beskou kan word, volgens Marc Bekoff, emeritus professor in ekologie en evolusionêre biologie en bekende skrywer oor onderwerpe soos diere se emosies, morele gedrag, dierebeskerming en deernisvolle bewaring, op ’n Psychology Today-blog.“Seremonies om ’n geliefde te eer en van rou, kan dae lank duur,” volgens Jenny Atkinson, direkteur van die walvis-museum op San Juan Island.  “Ek dink ons sien hoe belangrik die kalf is, die hartseer van haar ma en familie.” Dr Ken Balcomb, baanbreker walvis-navorser, Orca-deskundige, en stigter van die Sentrum vir walvisnavorsing, noem dit “'n baie tragiese vertoon van verdriet.” 

Die foto wat die wêreld saam laat huil: 'n Orca-ma probeer vergeefs haar dooie kalf laat dryf. FOTO Instagram

Tahlequah se verdriet herinner ons ook daaraan dat haar groep van 75 Orcas nie sedert 2015 ’n suksesvolle geboorte gehad het nie. Sy is nie die eerste Orca-ma wat vir haar kind treur nie en sal ook nie die laaste wees nie. Die afgelope twee dekades het sowat 75% van nuwe aankomelinge inderdaad nie oorlewe nie, volgens die sentrum vir walvis-navorsing. En terwyl dit natuurlik is om empatie met haar te hê, sê omgewingsaktiviste die beste ding wat ons kan doen, is om dié emosies te kanaliseer in pogings om die soogdiere te help. Friends of the San Juans het ’n lys saamgestel hoe dit gedoen kan word. Insluitende die behoud van die kuslyne wat hulle van kos voorsien. Soos die walvis-museum in ’n verklaring sê: “Oor ses maande, as dié voorval nie meer in die kollig is nie, onthou hoe jy nou voel.”

Sien video: