Kort-kort lees ons die hartseer verhaal van ’n tiener wat besluit het die enigste uitweg is selfdood. Angs en depressie word al hoe meer onder tieners gediagnoseer. Ja, als is nie pluis met ons jeug nie. Tieners vandag het ’n reputasie dat hulle broser en minder taai is, dat hulle makliker oorweldig voel. Soms word hulle bederf genoem, of opgepiep, of dat ouers soos helikopters om hulle “hang”.

Maar kyk van naderby en die prentjie is nogal hartverskeurend. Angs en depressie by hoërskoolleerders styg sedert 2012, ná verskeie jare wat dit stabiel was. Finansiële stres in ’n gesin vererger dit. Dit raak meisies meer as seuns.

Só berig die nuustydskrif Time in ’n voorbladartikel. Hy is nie bewus van onlangse statistieke oor plaaslike tieners nie, sê Tyrone Edgar, kliniese sielkundige van Randburg. Maar subjektief reken hy tog daar is ’n toename in emosionele versteurings, soos algemene angsstoornis (general anxiety disorder), sosiale angs en depressie.

Hulle sien nie net ’n groter fokus op geestesgesondheid nie, maar ook ’n toename in tiener-depressie, beaam Tumelo Mojapelo, inhoudshoof by Flux Trends, wat nuwe tendense identifiseer. Jong glanspersoonlikhede soos Selena Gomez, Alessia Cara en Demi Lovato praat openlik daaroor, of verwys daarna in hul liedjies.

Populêre kultuur weerspieël die tydsgees met temas wat die kollig op depressie en selfdood gooi. Soos die Netflix-reeks 13 Reasons Why oor afknouery onder tieners, sê sy.

En nou ook die nuwe HBO-reeks Euphoria met die aktrise Zendaya in die hoofrol. Die reeks fokus op ’n hoërskoolleerder wat aan dwelms verslaaf raak weens die druk wat sy van haar portuurgroep en skoolwerk ervaar. 

Die sielkundige Jean M. Twenge bestudeer al 25 jaar lank die verskille tussen generasies. Dit titel van haar nuutste boek is selfverklarend: iGen: Why Today’s Super-Connected Kids Are Growing Up Less Rebellious, More Tolerant, Less Happy – and Completely Unprepared for Adulthood – and What That Means for the Rest of Us (Atria Books, 2017).

Sy sê pront dis nie ’n oordrywing om hulle te beskryf as op die randjie van die grootste geestesgesondheidkrisis in jare nie.

iGen, mense wat rofweg tussen 1995 en 2010 gebore is. Ook bekend as Generasie Z. Of Generasie K, na aanleiding van Katniss Everdeen, die heldin van The Hunger Games, ’n reeks boeke (en nou flieks) vir jong volwassenes.

Dit speel af in ’n distopiese wêreld, ’n denkbeeldige samelewing en nare plek. Noreena Hertz, Britse skrywer en akademikus en verantwoordelik vir die benaming, som hul wêreld in drie woorde op – ongelyk, gewelddadig, hard.

Uit onderhoude met 1 000 Amerikaanse en Britse tieners het sy gevind hul vrese gaan oor eksistensiële bedreigings, nie jou gewone tiener-angstighede nie. Sowat 75% van die meisies is bekommerd oor terrorisme, 66% oor klimaatsverandering.

Hulle is ook buitensporig angstig oor hul eie toekoms. Sowat 86% is bekommerd oor werkloosheid en 77% vir skuld in hul toekoms. Hulle was ooggetuies van al dié dinge op ’n ouderdom waar hulle baie vatbaar vir indrukke was.

Natuurlik word hot en haar na redes vir die groep se donker, pessimistiese lewensuitkyk gesoek. En dat selfone en sosiale media ’n rol speel, is nie te betwyfel nie. “Sommige navorsing wys dié wat meer toegang tot veelvoudige sosialemedia-platforms het, is drie keer meer geneig tot depressie en angs,” sê Tyrone. “Ook Suid-Afrikaners van alle agtergronde is nou meer aan die sosiale media gekoppel.”

Dis die eerste generasie wie se hele adolessensie in die era van die selfoon was/sal wees. Sosiale media en teksboodskappe vervang ander aktiwiteite. Hulle sien dus vriende baie minder in lewende lywe, volgens hom.

“Skermtyd” se negatiewe effekte is baie wyer as net ’n korter aandagspan, glo Jean Twenge. Selfone het alle aspekte van tieners se lewe radikaal verander. Dit raak ryk en arm, alle etniese agtergronde, in stede en op die platteland. Oral waar ’n selfoontoring is, kry jy tieners wat hul lewe op hul selfoon leef.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Tumelo stel dit só: Dis die eerste generasie wat aanlyn deur puberteit se uitdagings, egskeidings, geslagsidentiteit, terrorisme en boeliery gaan. Dit plaas meer druk (en soms onnodige blootstelling) op dié generasie.

Hulle het onbeperkte toegang tot ontstellende gebeure wêreldwyd, sê Tyrone. Só kry ’n plaaslike tiener byvoorbeeld maklik inligting oor ’n skietery in Amerika. En kan selfs gesels met ander tieners (en volwassenes) wat daaraan blootgestel was. Jy kan ook meer ondersteuning kry vir gedrag en idees gekoppel aan angs en depressie. Soos “likes” vir selfdood-gedagtes, boeliery en vergrype aan kos (binge eating).

Boonop moet hulle byhou met die sosiale media se altyd veranderende reëls en kultuur, wat ook angs kan veroorsaak. “Tieners vandag moet sosiale norme én sosialemedia-norme balanseer. Net een was reeds moeilik vir vorige generasies.” (Hy beklemtoon egter die sosiale media is maar een rede waarom angs en depressie onder jongmense toeneem.)

Jy moet inderdaad ’n gebalanseerde, aantreklike en vooruitstrewende beeld aanlyn voorhou, beaam Tumelo. Tesame met die druk om in jou skool/professionele lewe te presteer. En tussendeur jou “regte” lewe bymekaarhou.

Geen wonder nie Time beskryf dit as “’n uitputtende voltydse werk” om vandag tiener te wees. Elke geveg of geval van aanstoot wat geneem word, word boonop aanlyn gedokumenteer, ure of selfs dae ná die gebeurtenis. Jy sou verwag tieners bestee so baie tyd aanlyn omdat dit hulle gelukkig maak. Nie noodwendig so nie, wys studies. Dit vergroot jou kanse vir simptome van depressie, en omgekeerd.

Só het navorsers in ’n onlangse Britse studie bevind kinders wat meer tyd op sosiale media deurbring, is minder gelukkig oor die lewe in die algemeen: skoolwerk, die skool wat hulle bywoon, hul voorkoms, familie. Hulle voel wel gelukkiger oor hul vriendskappe. Dit het selfs ’n groter impak op lewenstevredenheid as stokkiesdraai en om in ’n enkelouer-huis groot te word.

Young ladies enjoying a fun night out together. Tr
FOTO Getty Images / Gallo Images

Miskien moet Facebook ’n gesondheidswaarskuwing hê, gooi die Britse koerant The Guardian (www.theguardian.com) sy stuiwer by. Die NSPCC, Brittanje se voorste kinder-liefdadigheidsorganisasie, noem sosiale media ’n hoofoorsaak waarom daar meer kinders in die hospitaal beland nadat hulle hulself doelbewus leed aangedoen het (self-harming).

Hulle gaan dalk minder na partytjies toe en sien mekaar minder in lewende lywe. Maar as hulle wel bymekaarkom, dokumenteer hulle dit onverbiddelik. Op Snapchat, Instagram, Facebook. En vryf dit só onder die neus van dié wat uitgesluit word. Kuber-boeliery is ook ’n faktor en meisies loop meer dikwels deur, volgens die navorsers.

Ouers ís ook skermslawe, beaam Christo van der Westhuizen, opvoedkundige sielkundige van Randburg. Gefokus op die skerm, soos die beantwoording van werk-e-posse ná ure, raak hulle geïrriteerd met kinders se vrae.

Hy noem dit “’n virus wat betekenisvolle kontak tussen mense aanval”. Ons gaan “dood” weens ’n gebrek aan sinvolle verhoudings se “suurstof”. Daar is soveel inligting, ons word verswelg. Terwyl kinders wat daarmee grootword, makliker uitsif wat relevant is, ter wille van oorlewing. “Kyk hoe vinnig werk hulle deur Instagram-voere. Hulle besluit binne ’n aks van ’n sekonde wat relevant is, wat nie.”

Soms is ouers, só ingesluk deur hul eie skerms, ongelukkig deel van daardie irrelevante inligting wat kinders “uitsny”, sê hy.

Hy wys daarop dat depressie se tentakels veel wyer strek as net jongmense. Wêreldwyd is 1 uit 5 mense depressief. Méér as wat MIV-positief is. “Izak de Villiers wat in die sewentigs depressie as die siekte van ons tyd beskryf het, was ’n profeet,” sê Christo. Die redes daarvoor is natuurlik kompleks en veelvuldig.

Dalk moet ons die ikoniese Steve Jobs, pa van die iPhone, se voorbeeld volg. Tegnologie-joernalis Nick Bilton skryf in The New York Times (www.nytimes.com) Jobs het hom vertel hy beperk sy kinders se gebruik van elektroniese toestelle. Nick het later vir Walter Isaacson, skrywer van die biografie Steve Jobs, gevra wat Steve se kinders in die plek daarvan gedoen het. Walter het Apple se stigter dikwels aan huis besoek. Volgens hom het Steve ’n punt daarvan gemaak om saam met sy gesin aandete te geniet. Hulle het dan gesels oor boeke, geskiedenis en verskeie ander dinge.

Nick weet van verskeie Silikonvallei-base wat dieselfde doen. Hy is verbaas daaroor, aangesien die meeste ouers op die oog af die teenoorgestelde benadering het. Hulle laat hul kinders “baai in die gloed van tablette, slimfone en rekenaars, dag en nag”. Volgens Tyrone is Steve Jobs se idee dalk een oplossing: Ouers moet tye en of plekke identifiseer waar niemand (nie hulle of hul kinders nie) toegang tot enige tegnologie het nie. En dan sit en gesels, selfs al is dit net 15 minute per dag.

Christo gee ’n praktiese wenk. Hy het agtergekom sy jongste seun (15) kan bedags nie sy oë oophou nie. En besef sy kind word snags wakker van sy selfoon se gegons. Christo het ingeteken op ’n app, OurPact (http://ourpact.com, R60 p.m.). Jy, saam met jou kind, kan skeduleer wanneer die foon aan is. Julle onderhandel daaroor. Die kind kry ook ’n lugtyd-begroting wat hy self moet bestuur. As dit op is, moet hy daarsonder klaarkom. Sy seun is ’n ander mens sedert hy beter slaap.

Volgens Jean Twenge slaap feitlik al haar studente by die San Diego-staatsuniversiteit in Amerika met hul selfone op die bed, onder die kussing, of ten minste binne reikafstand. As hulle snags wakker word, kyk hulle op hul foon. Die effek van min slaap op jou gesondheid (fisiek en emosioneel) is welbekend.

Christo sien tekens dat jongmense stadig maar seker moeg raak vir die gebrek aan betekenisvolle verhoudings. Soos sogenaamde “analoog-partytjies” wat posvat: Selfone word in ’n mandjie by die voordeur gelos en hulle kuier om ’n kampvuur!

Alle aanduidings is egter dat hef aan nog voorlê. Die volgende generasie, Alfa, gaan die eerste trans-mens-samesmelting met elektronika wees, volgens Dion Chang, stigter van Flux Trends. “Hulle dink nie aan tegnologie as ’n werktuig nie, maar integreer dit op ’n merkwaardige manier in hul lewe.”

Kry hulp SADAG-hulplyn: 011 234 4837, 0800 567 567 Akeso-hulplyn: 0861 HELP US (4357 87)