Sondag 7 Mei het die 39-jarige Emmanuel Macron Frankryk se jongste president ooit geword. Vóór hom was dit Louis Napoleon Bonaparte (1803-1873), susterskind van Napoleon Bonaparte, wat net 40 jaar oud was. Tog het die nuwe president se huwelik van 10 jaar met Brigitte Trogneux, ’n drama-onderwyseres, meer aandag getrek. Hoekom? Sy is 24 jaar ouer as hy.

In ’n onlangse onderhoud met Le Parisien het Macron oor die internasionale obsessie oor sy vrou se ouderdom gepraat. Hy het veral gerugte dat hy nie lief is vir haar nie, nek omgedraai.

"As ek 20 jaar ouer was as my vrou, sou niemand ’n oog geknip het nie. Hulle sou nie eens getwyfel het dat ek intiem met haar kan wees nie. Maar oor sy 20 jaar ouer is as ek, dink mense die verhouding kan nie eg wees nie, dis onmoontlik," het Macron in die video-onderhoudgesê.

Sy paaie het reeds in 1992 met dié van Brigitte gekruis. Hy was net 15 jaar oud en sy sy drama-onderwyseres. Op 17 het Macron vir haar gesê hulle twee gaan trou. En 13 jaar later, in 2007, ís hulle toe getroud.

Ironies is die Amerikaanse president Donald Trump ook 24 jaar ouer as sy vrou, Melania. Hoekom die skielike bohaai noudat die rolle omgeruil is?

Izak Malan, ’n sielkundige van Centurion, meen die samelewing maak egter die gevolgtrekking dat so ’n verhouding moeilik gaan werk.

"Ek dink hulle [die Franse presidentspaar] het dit nie altyd maklik gehad in hul verhouding nie. Die twee het heel waarskynlik in die begin baie verwerping ervaar," het Malan aan SARIE.com gesê.

Volgens dr. Elena Moore, ’n sosioloog en dosent van die Universiteit Kaapstad, was vroue gesosialiseerd om te glo dat mans alleenlik die versorger moet wees.

"Maar deesdae is vroue finansieel onafhanklik, beter opgevoed en hul behoefte vir ’n "versorger" is nie meer belangrik nie. En met vroue wat al hoe later trou, mag hul al hoe meer aanklanking by jonger mans vind," het Dr. Moore aan SARIE.com gesê.

Volgens dr. Marlene Wasserman, ’n seksterapeut ook bekend as Dr Eve, word huwelike soos die Macrons s'n steeds as kontroversieel beskou.

"Dis eintlik absurd. Hierdie paartjie wys ons ’n nuwe familie-model wat juis gevier moet word. In vandag se tyd is vroue gewillig om nie net onafhanklik te wees nie, maar ook om die rol aan te neem om na iemand om te sien."

Dr. Wasserman meen dis niks vreemds vir ’n jonger man om in ’n verhouding met ’n ouer vrou te wees nie.

"Mans wil ’n vrou hê wat seksueel vol selfvertroue is, sonder dat hulle ekstra goed verwag soos ’n tradisionele gesinslewe. Hierdie huwelik gaan beslis die prentjie verander."

Die persepsie onder mans is eintlik ook besig om te verander, meen Dr. Moore.

"Onlangse navorsing toon dat mans verkies om eerder in verhoudings te wees met vroue van hul eie ouderdom. Hulle stel minder belang in verhoudings met vroue  wat 10 jaar jonger is. Mans raak ook gewoond aan die idee van ’n maat wat beter gekwalifiseerd is, meer betaal word en selfs ouer is."

Volgens Malan sê hierdie verhouding eintlik baie oor Macron se karakter.

"Die unieke mens wat hy is, het gemaak dat hy verby haar ouderdom kyk en haar as mens sien en waardeer. Hy was ook volwasse genoeg om eers ná 10 jaar op 27 te trou."

Embed from Getty Images

Die Hollywood-akteur Hugh Jackman (48) en sy aktrise-vrou, Deborra-Lee Furness (61), is al 21 jaar getroud.

"Sy is die beste ding wat met my kon gebeur het. Ek sê jou dit raak net beter en beter met die tyd," het Jackman in 2016 op die geselsprogram The Ellen DeGeneres Show gesê.

Bronne: Harper's Bazaar, Daily Mail, Netwerk24