Die wêreld is in rou gedompel toe Diana, liefling-prinses van die gewone mens, op 31 Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys gesterf het. Nou, 20 jaar later, onthou die wêreld daardie donker dag toe ons moes hoor die Prinses van Harte is dood.

Volgens ’n TV-dokumentêr het die koninklike familie so normaal as moontlik probeer aangaan met hul lewe, ter wille van die twee jong prinsies, William (toe 15) en Harry (12). ’n Dag ná haar dood het hulle ’n kerkdiens bygewoon waar nie ’n woord oor haar gerep is nie. “Is Mammie regtig dood,” het Harry glo aan prins Charles gevra.

Prinse William en Harry het onlangs oor hul ma se tragiese dood gepraat:

Vir die rooikop-prins sou dit byna twee dekades duur voordat hy met sy ma se dood vrede kon maak. “Ek het my gevoelens opgekrop. Net my kop in die sand gedruk en geweier om aan haar te dink, want wat sou dit tog help? Dit het ’n ernstige effek op my persoonlike lewe en werk gehad,” het hy onlangs in die media daaroor oopgemaak.

Harry, wat in sy twintigs die "partytjieprins" gedoop is, het nagte om in glansryke Londense nagklubs gekuier en was ’n gewilde teiken vir paparazzi. Die lewe in die openbare oog het hom egter telkemale laat voel hy is “baie na aan ’n totale ineenstorting”. Dat hy op die punt is om iemand te slaan, dat sy koninklike verpligtinge hom angstig maak. Hy het vir sielkundige hulp aangeklop. Ook begin boks, as uitlaatklep vir sy aggressie. Harry het dié kykie in sy hart gegee om die stigma rondom geesteskwale te help afbreek. Want as jy eers daaroor begin praat, besef jy jy is eintlik deel van ’n groot klub, sê hy.

Om daardie rede het hy, William en sy skoonsuster, Kate, ’n liefdadigheidsorganisasie, Heads Together, gestig.

Gister het die twee broers die gedenktuin vir hul ma by die Kensington-paleis besoek.

Vandag onthou ons nie net die hartseer nie. Ons vier ook die ongelooflike vrou wat die Prinses van Harte was. Geliefd omdat sy soveel vir ander omgegee het, ’n liefling omdat sy so mooi was en mooi aangetrek het. 

Haar styl het ontwerpers geïnspireer. As prinses Diana iets gedra het, wou almal dit dra. Vandag sien ons so ’n iets hiervan by die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, wat haar skoondogter sou wees.

Die geliefde Prinses van Harte het al verskeie kere op SARIE se voorblad verskyn.