Die gedurige geloop verby my nessie is nou (dankie tog) iets van die verlede.

As ek moet skat en se honderd mense het vandag fotos van my SA vlag kom neem - dan oordryf ek nie.

Hier is nog Suid-Afrikaners in die Mall! So het ek vir Gustav Karels van Kakamas raakgeloop. Sy SA vlag is groter as myne!

Later lê ek op my matras en hoor die oorverdowerende gebulk van 'n vuvuzela. Ek loer oor die versperring voor my en wie sal daar staan? Gustav. Toe skreeu ek maar Vrystaat en Gustav kom. Sy foto is bietjie donker - maar ten minste gee dit julle n idee.

Vandag het gevlieg!  Soveel geselsies, onderhoude, foto's...

Dit is soveel meer as wat ek verwag het. Soos Paula op Sewende Laan sal sê: dis absoluut fantasmogories. Of steel ek nou oom Oubaas se woorde?

Toe William en Harry vanaand buite Clarence House se hekke uitstap, was die gille baie erger as wanneer tienermeisies Justin Bieber sien. Glo my, my ore het getuit! En al was dit sterkskemer kon ek prins William se lenige gestalte sien.

Snaakse storie van die dag. Ek sit op my matras (ekt mos my kampeerstoel in die woonstel vergeet) en hoor 'n beroering. Kyk non-chalant deur die versperring en se vir my vriendin Adri, "O, daar's Camilla", draai om en tik verder op my foon. Volgende oomblik se n driftige Adri, "Arlene, dit is Camilla!"
En daar loop die Hertogin van Cornwall toe deur die skare, deel drukkies uit, praat met heelwat mense!

Middernag

Die klokke het geslaan. Amptelik die dag van die troue! Ek hoop die bruidspaar slaap!