Groot glasvensters kyk weerskante van die vertrek uit op lowergroen bome. Hoewel dit 'n tegnies frustrerende dag was, was dit 'n lieflike dag. Die strate is vol toeriste.

In al die parke lê kaalbors-mans en bak in die son, en ma's met stootwaentjies is die wêreld vol.

Om Buckingham-paleis was dit n miernes van bedrywighede. My foto's is vinnig so deur die swart Londense taxi geskiet. Die Union Jacks hang die Mall vol, en die kunsmatige groen van die tydelike TV-studios is 'n seer vir die oog.

Orals is kameras. Ook by Westminister-abdy, is daar omtrent elke vier meter 'n groot TV-kamera opgestel. Die tou mense wat in die abdy wou gaan inloer, het ver straat-af gekrul. Van more af is die abdy toe vir die publiek en gaan die allerpragtigste blommeversierings daar opgerig word.
Saterdag, wanneer die abdy weer oopmaak vir ons gewone siele, beplan ek om van naderby te gaan kyk hoe die rangskikkings lyk.

Vandag het die Mall met die skadu van die bome en beloftes van groen gras as ek bietjie sagter wil lê, baie belowender gelyk as die sypaadjies voor Buckingham-paleis.

Almal is benoud oor die weer. Ligte reën word Vrydag verwag, en daarvoor het ek mos my groot sambreel en reuse reënjas ingepak.

Nou moet ek my rugsak gaan pak vir more. En leer hoe om vinnig en akkuraat met my nuwe selfoon te werk (selfs in pond heelwat goedkoper as in Suid-Afrika).