Jy ken haar as die avontuurlustige medereisiger op Kampkos, een helfte van die nuutgetroude paartjie in Buurtwag, en dan het jy haar ook in flieks soos Roepman, Verraaiers en Free State gesien. Maar het jy geweet dat Beáte graag tekste skryf, foto's neem en ook ’n boekhouer is?

In Januarie vanjaar het ons 10 nuwelinge in die vermaakwêreld uitgesonder as jong SA sterre om dop te hou. Dié bekendes het jy die afgelope jaar op verskillende platforms gesien: op die verhoog, op jou slimfoon, op die kassie, op die groot skerm en soms was hulle selfs agter die skerms doenig. Ons gaan nou by hulle almal inloer en hoor hoe elkeen se 2016 was. Vandag is dit Beáte Olwagen, nou Opperman, se beurt.

Verlede week het ek geskryf oor Reine Swart en voor dit het ons by Bennie Fourie gaan inloer. Daar lê nog 7 nuwelinge voor, maar ek staan reeds verstom oor die werk wat hierdie bekendes doen. Daar word nie stilgesit nie, daar word nie geredeneer oor of iets moontlik is of nie, en of jy die vaardighede het of nie; daar word net gedóén. Halsoorkop, vol energie en inspirasie, en met sterk ondersteuningsnetwerke.

Beáte Opperman, getroud met John-Henry Opperman wat jy destyds leer ken het as lid van die musiekgroep Klopjag. Deesdae sien jy hom ook in flieks, agter die skerms en op die televisie - in kykNET se Kampkos saam met Beáte. Sy het ons vrae so eerlik en volledig beantwoord dat ek dit net so gehou het - hoor sommer in haar eie woorde hoe 2016 vir haar was.

2016

Weet jy of daar al ’n volgende seisoen van Kampkos gaan wees?

Ons het vroeg vanjaar seisoen twee van Kampkos geskiet en begin nou met die verfilming van die derde reeks wat so teen April 2017 op kykNET sal wees.

beate Beáte Olwagen en John-Henry Opperman toe hulle nog verloof was. FOTO: Phyllis Green STILERING: Fanie Cronjé

Julle is nou al ’n paar jaar getroud: lyk John-Henry steeds vir jou na John Lennon?

John-Henry se beste vriend het hom destyds aan my verkoop as ’n John Lennon-lookalike sodat ek saam met hom op ’n date sal gaan. John-Henry het ’n baie 70's-vibe aan hom gehad; so jy kan seker so sê, maar ek dink dit was merendeels die bril wat hom so laat lyk het.

Die fliek Jonathan kom 2 Desember uit. Wat het jy geleer by die bekroonde regisseur Sallas de Jager? En het jy iets van die ander groot name soos Brümilda van Rensburg, Frank Opperman en Rika Sennett geleer?

Sallas is ’n baie talentvolle storieverteller en daar is niemand wat ek ken wat meer passie vir stories en films oor alle genres het nie. Ek het so vinnig met hom as regisseur te doen gekry op Free State, waarin ek ’n klein rol gespeel het. Dit was ’n groot voorreg om onder sy leiding aan Jonathan te werk. Ek het absolute vertroue in hom. Mens voel heeltemal veilig om te doen wat jy moet doen onder sy leiding.

beate Beate se karakter in Jonathan wat 2 Desember in teaters begin draai. FOTO Instagram (@beateopp)

Wat die ander akteurs betref: almal wat my ken, weet Paul Eilers is een van my gunsteling-mense op die planeet. Ek het nog net altyd saam met hom as regisseur gewerk. Dit was so lekker om dié keer saam met hom te speel. Dit was ook great om weer saam met Jacques Bessenger te werk en ’n groot voorreg en eer om saam met Brümilda te speel. En Rikus as die karakter Jonathan het so goed gedoen - dit was lekker om deel te word van Jonathan se wêreld.

Kyk die lokprent vir Jonathan hier

Vertel ons bietjie van jou ander projekte.

2016 was goed vir my in die sin dat projekte en produksies waaraan ek voorheen gewerk het weer opgetel is en gelei het tot volgende reekse. Aan die een kant is dit vir ’n akteur gerusstellend om te weet daar is werk wat wag. Om in een jaar met twee seisoene van Kampkos te reis saam met ’n fantastiese groep mense, voel of jy vakansie hou saam met jou familie en vriende, al werk mens lang ure.

Wat is jou stokperdjies?

Ek het so ’n paar jaar gelede ’n diploma in fotografie gedoen en ek geniet kosfotografie baie. Ek het al projekte vir vriende se restaurante gedoen en neem ook van die foto's van die kos op Kampkos, maar dis definitief iets wat ek nog verder sal wil explore. Hoe meer foto's jy neem, hoe beter raak jy. In dié stadium doen ek dit nog net vir die pret.

beate FOTO Instagram(@beateopp)

Ek is verslaaf aan lees. My Amazon-rekening wys beslis dat ek binnekort gaan moet hulp kry. Verder probeer ek en John-Henry elke twee jaar oorsee reis. 2015 was Buenos Aires in Argentinië. Ons beplan nou aan ’n 2017-trip. Ek weet nie of dit Vikings is wat ons breinspoel nie, maar ons wil baie graag die noordelike lande van Europa besoek.

Het jy en jou man die afgelope jaar iets nuuts saam gedoen?

Ons is so baie op die pad. As ons al twee vir ’n slag saam by die huis is, kan ons ure lank lê en reekse kyk. Ek dink ons het letterlik vier seisoene van Vikings in twee weke gekyk. Ek weet nie of dit ’n stokperdjie is nie, maar ons is groot op season binge watching. Game of Thrones, Ray Donovan, de lot.

beate FOTO Instagram (@beateopp) Hoe sal jy 2016 onthou? 2016 was ’n jaar van groei op spirituele vlak. In die tweede helfte van die jaar het daar ewe skielik soveel tyd beskikbaar geraak met produksies wat aangeskuif of afgestel was, dat mens so half gevoel het WAT NOU?

As ek terugkyk, was dit die ideale tyd om net weer myself te anker. Ek kon nog altyd terugkyk en weet dat ek deel was van goed waarvan ek moes deel wees. So dit maak mens minder angstig en minder kompeterend.
Ek voel elkeen verdien sy plek onder die son. As dit jou seisoen is, is dit jou seisoen. En as dit nie is nie, dan deel jy in die sukses en vreugde van iemand anders en jy hou aan bou aan jou eie skills en jou eie journey.

2017

Waarna sien jy uit in 2017?
Ek sien uit na nuwe uitdagings.

Ek sien uit na Jonathan 2 en die storielyn wat daarmee saamgaan. Ek is mal oor die moontlikhede wat ’n nuwe jaar inhou. Jy's nie seker presies wat als kan of gaan gebeur nie, maar die moontlikhede is daar en dis vars en dis nuut.

Skryf jy aan enige kortfilms of flieks en is jy steeds ook ’n deeltydse boekhouer? Ek doen nog deeltyds finansies. Dis die linkerbrein-deel van my wat ’n bietjie stabiliteit bring. Die regterbrein van my werk aan ’n kortfilm wat ons vroeg volgende jaar saam met ’n groep vriende gaan maak. As daar nie werk is nie, maak jy werk. Hoe meer mens doen, hoe beter raak jy. Het jy enige nuwejaarsvoorneme?

Ek wil meer nuuskierig wees. Ek dink ’n groot deel van kreatiwiteit is net om nuuskierig te wees en om vir ’n oomblik langer stil te staan en te luister na mense se stories. Ek wil minder jaag en meer raaksien.

Lees nou

SARIE se 2016-sterre: Bennie Fourie is meer as net ’n grapjas!

SARIE se 2016-sterre: Die vele gesigte en rolle van Reine Swart