’n Nuwe jaar, ’n nuwe jy. So lui die geykte uitdrukking. Al wat ek egter wil hê, is meer spasie op my slimfoon. Want ná die vakansie is al wat ek op my selfoon kry die herinnering dat die spasie vol is en ek daarom inligting moet "delete". Maar waar begin mens? Ek sê apps! Skoon selfoon, rustiger jy!

’n Nuwe jaar bring nuwe apps, so dit wat jy lanklaas gebruik het, is duidelik nie meer relevant vir jou nie of kan vervang word deur iets nuuts. Apps gebruik baie spasie en as dit ’n app is wat heeltyd op die agtergrond besig is met konstante "notifications", gebruik dit nóg meer data as gewoonlik, om nie eens te praat van selfoonspeletjies wat jou battery vinniger laat pap word nie.

Kyk jou selfoon reg in die oë (ek vermoed dis die selfoon se kamera) en besluit wat jy werklik nodig het.

Ek het hierdie skoonmaak-taak in 3 fases verdeel.

Fase 1: Outomatiese apps

Dit is daardie apps wat op jou selfoon gelaai is wanneer jy dit uit die boks uithaal. Onthou jy jou ou Nokia 3310 wat ’n sakrekenaar, kalender en speletjies op gehad het? Dit was deel van jou foon en kon nie verwyder word nie. Jy kon ook nie enige plaasvervanger oplaai nie. Dit was al wat jy gehad het. Maar die kanse is vandag baie goed dat jy jou eie kalender-app afgelaai het, of glad nie gebruik maak van jou foon se nuus-app nie. Het jy geweet jou selfoon het ’n kompas? Nee? So vee dit uit!

Alhoewel hierdie apps min spasie gebruik, sal dit wel ’n verskil maak. En sou jy dit eendag weer wil gebruik, sal jy dit weer kan installeer.

Fase 2: Apps wat jy lank terug gebruik het

whatsapp FOTO Unsplash / Saulo Mohana

Toe jy gesoek het na verblyf, het jy ’n eiendomsapp op jou selfoon gelaai en toe jy aan ’n oefenklub behoort het, het jy ’n app met spesiale oefeninge afgelaai. Gebruik jy hulle nog? Miskien wil jy dit nie uitvee nie omdat jy dit dalk eendag weer wil gebruik, maar, raai-raai, jy sal dit weer kan aflaai. Of teen die tyd dat jy weer besluit om te oefen of huis wil koop, is daar ander maniere om dit te doen.

Ek kan ook verstaan dat jy wou gereed wees vir Black Friday en elke liewe winkel se app afgelaai het. Het jy ooit weer hierdie app besoek, behalwe vir ’n Kersgeskenk hier en daar?

Vee liewer uit en begin hierdie jaar van voor af. Sodoende het jy plek vir die app wat jou gaan help met joga-oefeninge - almal gaan tog deur dié fase.

Fase 3: Apps wat dieselfde ding doen

Het jy regtig Google Maps én iPhone se Maps nodig? Vee die een uit wat jy nie meer gebruik nie. Google Maps is gewoonlik die eerste keuse aangesien dit op vele toestelle kan werk.

Foto-apps is baie gewild en dis te verstane; "likes" op Facebook en Instagram is uiters belangrik, maar daar is omtrent twee apps in die mark wat eintlik alles doen. VSCO het elke filter onder die son en baie ander verstellings, terwyl Prisma die nuutste foto-app op almal se sosialemedia-profiele is.

Almal het WhatsApp. Van jou jongste sussie tot jou ouma, so wat is die rede vir ander kommunikasie-apps? Probeer ontsale raak van hierdie apps wat jou aandag gedurig aftrek en jou oorlaai met stres. Sodra jy terug is by die werk, gaan jy die geluide hoor van e-posse en meer, so maak nou al die besluit wat jy in jou lewe gaan toelaat. Miskien wil jy nie jou e-posse op jou selfoon ontvang as jy reeds by die huis is nie?

Op hierdie noot: Neem ook nou die besluit om nie op jou selfoon in die kar te wees nie. Jy kan antwoord, terugbel en boodskappe stuur wanneer jy jou eindbestemming bereik het. Onthou jy die dae wat jy en jou vriende besluit het op ’n tyd en plek en nie op die nipper die tyd verander het of moes gesels oor uitrustings nie? Ek ook nie, maar om my selfoon uit te los sodra ek in die kar klim, is een van my Nuwejaarsvoornemens.

Lees nou

Rus 15 dae met net 4 dae se verlof … dis weer vakansie!

Maak geld op dié apps … met enige talent!

Wat jy moet weet oor jou huis voor jy weggaan vir die vakansie