Hoe verklaar jy eerstens die leuens, en nou Armstrong se eerlikheid?
Die eenvoudige rede kan wees dat goeie mense ook verkeerde goed kan doen, trouens dit gebeur gereeld. Mense maak gruwelike foute, selfs internasionale fenomene soos Armstrong. En in die binnekringe van hoogs kompeterende sport is die verleiding van maniere om jou nóg beter te maak, konstant. 

Maar hoekom die lang ontkenning?
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat dinge baie vinnig handuit ruk, en kort voor lank kom jy in die posisie waar jy moet besluit: Is dit beter om nou eerlik te wees ter wille van my gewete, of om my familie se inkomste te verloor, of kankerpasiënte te na te kom oor borgskappe wat onttrek word?   

Of dalk was dit net eenvoudig te moeilik om afstand te doen van die beeld as superster, humanis, dapper kanker-rolmodel en algemene held. En dit is nie die eerste keer dat dié verhaal hom in die lewe van ’n groot sportheld afspeel nie. Dink byvoorbeeld aan Hansie Cronjé en Joost van der Westhuizen ...

Gaan dit dalk dieper?
Armstrong se persoonlike lewe is bekend genoeg om te weet dat hy as kind en jongmens ’n lang pad van verwerping gestap het, en dat hy alles in sy vermoë gedoen het om sy openbare beeld te beskerm. Daar is baie navorsing wat wys dat mense met ’n soortgelyke patroon dikwels diep gevoelens van skaamte en ’n lae selfbeeld het – en dan gewoonlik obsessief probeer om so goed moontlik vir ander voor te kom.

Kyk hier die begin van Lance se onderhoud met Oprah. Sy vra die moeilike vrae!

** Oprah se twee onderhoude met Lance word Donderdag en Vrydag om 04:00 op haar webtuiste Oprah.com uitgesaai. Dit word ook Vrydag en Saterdag om 19:30 op die DStv-kanaal TLC (kanaal 172) gewys.

NUWE REEKS! Verstaan jouself en ander beter.

Die bekende televisiepersoonlikheid, Lise Swart, en haar verloofde, Louis Awerbuck, ‘n kliniese sielkundige, is die aanbieders van ‘n splinternuwe radiogeselsprogram, Wie is ek? - met Louis & Lise. Die program fokus daarop om die gewone man op straat kennis en insig te gee in belangrike kwessies oor menslike gedrag. Kwellende vrae oor dié kwessies soos angstigheid en depressie word op ‘n eenvoudige en toeganklike manier aan Jan Publiek verduidelik.