Bekroonde ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die topverkoper 'The Republic of Gupta: A Story of State Capture*', reken mediavryheid is nog ‘gesond’ in Suid-Afrika. Die herrie rondom die SAUK8 (wat so tragies geëindig het met die dood van joernalis Suna Venter) en nou die dreigemente teen Jacques Pauw, skrywer van The President’s Keepers, het tog vrae laat ontstaan . . .


Met SAUK-vervaardiger Suna Venter se dood nog vars in ons gemoed, is joernaliste bekommerd oor die stand van mediavryheid in Suid-Afrika?

Die SAUK8-joernaliste [van wie Suna een was] is ’n groep wat veel méér geword het as bloot joernaliste binne ’n organisasie wat die pad byster is ... Hulle was aktiviste, as’t ware die fluitjieblasers van ’n bestel waar Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, ’n skrikbewind gevoer het.

Suna was uiteindelik ’n enkeling in ’n omgewing van intimidasie, waar die bestuur nie teen die intimideerders opgetree het nie. Sy het nie geweet wie om te vertrou nie.

As joernalis wat vir ’n private media-instelling [News24] werk, voel ek veilig. Ek wéét ek sal nie my werk verloor as ek die waarheid ontbloot nie. Suid- Afrika vergelyk nog goed met die res van die wêreld as dit kom by mediavryheid. 

Volgens die 2017 World Press Freedom Index is Suid-Afrika 31ste, voor Frankryk (39), die Verenigde Koninkryk (40) en die VSA (43). Noorweë is, terloops, nommer een op die lys en Noord-Korea heel laaste. Suid-Afrika is byvoorbeeld ligjare verwyder van Mexiko (nommer 147 op die lys) waar ondersoekende joernaliste gereeld vermoor word.


En die dreigende geluide van die beweging Black First Land First (BLF) teenoor joernaliste? Is dit gevaarlik?

Ja en nee. Hul ideologie is ’n bedreiging. Hulle beskou die media as ’n vleuel van ’n wit monopolie wat die land wil oorneem en reken ons [die media] stuur gefabriseerde nuus die wêreld in om die sogenaamde agenda van witmonopoliekapitaal te bevorder. Maar die BLF is eintlik ’n fringe politieke groep met min ondersteuners. 

Hul protesoptrede by die huis van Peter Bruce, groepredakteur van die mediahuis Tiso Blackstar, nadat hy die Guptas in sy rubriek gekritiseer het, bewys dit. Regter Corrie van der Westhuizen het die interdik toegestaan wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum [Sanef] aangevra is teen die BLF en sy leier Andile Mngxitama. Dit wys dat ons nog op die regte spoor is – joernaliste word beskerm deur die reg.


Is jy grootgemaak met ’n sterk regverdigheidsin?

My pa, Pierre, is ’n argitek en my ma, Rhea [nou tuisteskepper], was ’n onderwyseres. Daar was altyd boeke in ons huis. Ek is die middelkind, en ja, alles wat hulle sê oor middelkinders, die probleemkinders, is waar [lag]. 

Ek was mal oor die skrywer Roald Dahl asook Enid Blyton se avontuurverhale van The Famous Five. My ouers was oopkop. Ons is aangemoedig om dinge te bevraagteken, nie net te aanvaar nie. 

Ek het eenkeer, op laerskool, ’n rassistiese woord tuis herhaal wat ek op die skoolgrond gehoor het en my pa het vir my gesê só word daar nie in ons huis gepraat nie. Ons het geleer jy respekteer almal. Dit het altyd by my vasgesteek. 

Aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch, waar ek gematrikuleer het, het ek vir ons skoolkoerant geskryf. Altyd lief om dinge uit te snuffel en meer uit te vind oor die wêreld.


En toe word jy ’n sportjoernalis?

Aanvanklik, ná my honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch in 2009, het ek as intern by die dagblad Beeld in Johannesburg gewerk. Daarna het ’n posisie in die sportkantoor oopgegaan, en ek het gespring. 

Sport is nie my eerste liefde nie, maar ek het baie geleer – om vinnig, akkuraat en bondig te skryf. Bokkie Gerber, die destydse sportredakteur, was ’n groot gees in die koerantbedryf. Daarna is ek na ’n nuustydskrif en toe sowat vyf jaar gelede na die Sondagkoerant Rapport, waar ek later ondersoeke begin doen het. Nou werk ek aanlyn vir News24.


Glo jy werklik joernaliste kán ’n verskil maak?

Natuurlik. En ek sal dit altyd glo. As dit nie was vir die onverskrokke verslaggewing van [wyle] Mandy Rossouw wat die Nkandla-skandaal [en pres. Jacob Zuma se vergrype] oopgevlek het nie, sou die belastingbetaler dit nooit geweet het nie.

Ek het die korrupsie by die Passasierspooragentskap van SA (Prasa) aan die kaak gestel. As gevolg daarvan het grootkoppe gewaai. Die “boewe” beland nie altyd in die tronk nie, maar as hulle in die pad gesteek word, het dit mos ’n wesenlike impak op die land. 

Suna het ons nou weer laat dink oor kwessies soos mediavryheid. Dit is joernaliste se taak om die gewone landsburgers in te lig oor kwessies wat hulle raak – dinge waartoe hulle dikwels nie toegang het nie.

Was jy ’n bietjie skrikkerig om jou boek oor die Guptas aan te pak, gegewe die magtige rolspelers?

Dit sal naïef wees om nie jou [en jou gesin se] veiligheid met dié soort verslaggewing [of skryf van dié soort boek] in ag te neem nie. Jy is besig om gevaarlike mense se wandade bloot te lê. Natuurlik is ek soms bekommerd oor my verloofde, ’n grimeerkunstenaar, maar sy verstaan wat my werk behels.

Ek bou klein, praktiese dinge in my lewe in, ter beveiliging. Wanneer ek byvoorbeeld ’n onbekende bron laataand iewers ontmoet, sal ek vir van my kollegas of my redakteur daarvan sê. Wanneer ek rondry, veral saans, kyk ek gereeld in my truspieëltjie of ek dalk agtervolg word. 

My huis is uitstekend beveilig. Ek is altyd honderd persent bewus van wat om my aangaan. Soms gebruik ek spesiale telefoontoestelle omdat ek bang is ek word afgeluister of ons benut geënkodeerde programme op ons telefone sodat van die materiaal nie onderskep word nie. 

Daar is baie maniere om jou te beveilig. Dit is my werk, dit maak my gelukkig en ek durf my nie van stryk laat bring nie. Dít is waarop die booswigte staatmaak. En dán kan ’n mens nooit by die waarheid uitkom nie.


Het jy ooit gedink jou boek oor die Guptas gaan so goed vaar?

Ek weet Suid-Afrikaners stel belang in die politiek en is passievol oor die land. Hulle wil alles oor die nitty-gritty weet. My navorsing het al einde 2015 begin. Ek het die boek toeganklik probeer skryf en kry sover baie goeie terugvoering [15 000 is reeds verkoop en die boek is in sy tweede druk].

Dit was ’n groot uitdaging om soveel feite en ingewikkelde kwessies rondom staatskaping, geldwassery en korrupsie verteerbaar te skryf. Ek is baie dankbaar mense koop dit. 


Is jy al in die verlede geïntimideer weens jou werk?

Ek dink jy moet dit altyd te wagte wees omdat jy op sensitiewe tone trap as ondersoekende joernalis. Dit het eintlik nog net een keer gebeur dat mense regtig aggressief teenoor my was. Dit was tydens die Prasa-ondersoek toe ek die voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana, se klomp luukse eiendomme ter plaatse beloer het. 

Hy het daar opgedaag terwyl ek op die perseel was en ’n baksteen na my voertuig gegooi. Ek het my maar uit die voete gemaak, vining weggery en my redakteur gebel . . .

Ek het al aan sake gewerk waar ’n bron my gewaarsku het dat “ouens my uit die weg wil ruim”. Dan het die werk private sekerheidswagte gekry om my te beveilig. Dit verg ’n spesifieke persoonlikheidstipe om ’n ondersoekende joernalis te wees. 

Jy moet senuwees van staal hê en dit werklik wíl doen. Jy moet bietjie hardkoppig wees, hoewel nie domastrant nie. En jy durf nie toelaat dat jy ge-rattle word nie, want dan verloor jy fokus.


Toekomsplanne?

Die skryfgogga het my nou gebyt. Met koerant- en aanlyn artikels word jy altyd beperk met woorde. 

My styl is narrative nonfiction – ek het ’n soort speurverhaal-aanslag, al werk ek met feite. Dis baie bevredigend om karakters volledig te beskryf, storielyne uit te bou en kwessies deeglik uit te pak.

Ek het ’n hele paar idees vir nuwe boeke waaraan ek werk en hoop om eendag voltyds boeke – fiksie en nie-fiksie – te kan skryf.


Het jy ooit met Suna kontak gehad?

Nie persoonlik nie, maar ek ken baie van haar kollegas en voel saam met hulle. Dit is baie jammer dat die publiek so lank nie geweet het wat besig is om met haar te gebeur nie, en dat haar span en haar familie haar in stilte moes dra. Dit is ’n skande dat daar nie aandag aan haar hulpkrete gegee is deur die topstrukture by die SAUK nie.


Hoe bly jy by met alles wat in die wêreld gebeur?

Ek lees so wyd as moontlik – ’n joernalis kan nie genoeg lees nie. Van Beeld, News24, Mail & Guardian, Business Day tot TIME en The Economist, asook nie-fiksie en fiksie. 

Ek is ook mal oor reis. In 2014 en 2016 was ek vir kursusse na New York, ’n ongelooflike stad – ek is mal oor die plek. Ek was ook al in Rwanda asook die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waar Suid-Afrikaanse soldate as deel van die Verenigde Nasies se vredesending gestasioneer is. 

Mooi wêreld, maar die pyn en lyding van dekades se oorlogvoering is oral duidelik. Ek sal nog baie saam met my verloofde wil reis.


Hoe ontspan jy?

My groot passie buiten werk is die see. Ek het as kind op Mosselbaai in die branders grootgeword en baie jare branderplank gery nadat ons gesin na Somerset-Wes getrek het. 

In Johannesburg draf en stap ek met ons pug, Lucy. My verloofde is lief vir kosmaak en aansienlik beter daarin as ek. Ons braai graag saam met vriende. Nou en dan gaan ons naweke weg na Clarens in die Oos-Vrystaat, en die  beeldskone Noordkus van KwaZulu-Natal. 

Ons is rock-’n-rollers en kyk graag na bands soos Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en Foo Fighters. My broer, Jansen, ook bekend as DJ Naaldekoker, was Jack Parow se DJ, so dit was lekker om hulle shows hier in Johannesburg te kyk.


Jy’t al hope toekennings ontvang – meer onlangs die Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek. Waarvan droom jy nóg?

Elke joernalis droom seker van die grote, die Pulitzer.


*Penguin Random House, R260