Nice, Frankryk

As jy graag in ’n restaurant met ’n Michelinster wil eet, is Parys, die stad waar die Michelin-gids in die 1900’s sy oorsprong gehad het, ’n goeie plek om jou reis te begin. Maar doen die moeite en reis verder na Nice, waar die Suid-Afrikaanse Michelin-bekroonde sjef Jan (Hendrik van der Westhuizen) sy restaurant JAN se deure oopgemaak het. Bespreek vooraf aanlyn by restaurantjan.com.

Hongkong, China

As jy elke aand op ’n ander plek wil gourmet eet, is Tokio en Kioto in Japan ’n goeie kuierplek. Dis die stede met die meeste Michelinsterre ter wêreld en boonop ’n sterk kultuur van gehalte-straatkos. Hongkong kan egter spog dat hy die goedkoopste Michelinster-restaurant ter wêreld huisves, ’n 20-sitplek-restaurant waar jy veral dumplings (Chinese kluitjies) kan eet.


San Sebastián, Spanje

Jy het nooit ’n verskoning nodig om Spanje toe te gaan nie, maar San Sebastián, ’n kusdorp in die noorde van die land, het ’n sterk kostradisie en is die tuiste van 10 Michelinster-restaurante. Sit ook vir El Celler de Can Roca in Girona, sowat ’n uur buite Barcelona, op jou lys as jy ’n smulpaap is.

Berkshire, Engeland

As jy dalk in Engeland kom, reis na Bray in Berkshire. Heston Blumenthal se Fat Duck-restaurant is al ’n paar keer as die beste ter wêreld aangewys.