Jy het vandag – niksvermoedend – by minstens een psigopaat verbygeloop. In ’n nuwe boek, Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, beskryf die oud-SARIE-joernalis André le Roux hoe jy hierdie ongure mense kan herken – en vermy.

Dis wat psigopate so gevaarlik maak ... Hulle maak ’n baie goeie eerste indruk. Jy sal dink: Wat ’n aangename, vriendelike en sjarmante mens wat so lekker en interessant kan gesels. Intelligent ook.

En hy laat jou lag. Die trane sal wel later kom, maar dan is dit gewoonlik te laat. Terwyl jy swig voor die psigopaat se sjarme, is daar tog ’n manier om hom uit te ken: Kyk hoe hy ander mense hanteer – van die winkelassistent tot die kelnerin, mense wat hy nie wil manipuleer om iets uit hulle te kry nie.

Terwyl hy jou op die hande dra. Hy is besig om jou in te katrol. Maar hy is nie wie hy voorgee om te wees nie.

Psigopate kruip weg agter ’n masker sodat hulle nie maklik uitgevang kan word nie, wat die psigiater en psigopaatkenner Hervey Cleckley reeds in 1941 in ’n gelyknamige boek genoem het The Mask of Sanity. Hulle lyk dan nes ons. So normaal. Hulle en ander ongure karakters ly wel aan ’n persoonlikheidsteuring (disorder), nie ’n siekte (illness) nie. Maar hulle is nie “mal” nie.

FOTO Getty Images / Gallo Images

“Hul optrede is nie die gevolg van ’n versteurde verstand nie, maar van ’n koue, berekende rasionaliteit gekombineer met ’n kil onvermoë om ander as denkende mense met gevoelens te hanteer,” sê die sielkundige en psigopaat-navorser Robert Hare.

“Na my mening weet psigopate sekerlik genoeg van wat hulle doen om vir hul dade verantwoordelik gehou te word.”

Hulle is gelukkig nie almal ewe erg nie. Party kan selfs ’n goeie vriend of vriendin wees. Want psigopatie lê op ’n glyskaal of kontinuum – van die moordenaar in die dodesel tot die gewetenlose aandelemakelaar tot die berekende ma langs die sportveld. Van aanvaarbaar (links op die skaal) tot aanstootlik (middel) tot kwaadaardig en gevaarlik (regs).

Ja, “kwaadaardig” soos ’n gewas wat nie deur jou liggaam nie, maar deur jou lewe versprei.

“Die psigopaat verskil nie net in soort nie, maar ook in die erns van sy spesifieke afwyking, wat kan wissel van ’n ligte graad tot op die grenslyn (van psigopatie), wat hom toelaat om ’n betreklik normale en aanvaarbare lewe te lei, tot erge grade van wanfunksie,” sê Cleckley.

In die 1970’s  het Hare sy Psigopaattoets van twintig items opgestel en later uitgebrei, bekend as die Hare PCL-R (“Psychopathy Checklist-Revised”).

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die psigopaat-toets

Dié toets word steeds algemeen en wêreldwyd gebruik om psigopate te klassifiseer.

’n Punt van 0 (geen psigopatie nie) tot 40 (hoogs psigopaties) word toegeken deur ’n psigiater/sielkundige wat opgelei is in die gebruik van die toets en nie deur die vermeende psigopaat self nie. Dis nie ’n vraelys nie, maar ’n aftiklys.

Die meeste mense se telling is minder as 5, meestal 2 (ons is almal ’n bietjie so), terwyl die gemiddelde telling vir manlike misdadigers 22 is en vir vroue 19.

Die psigopaat se telling is 30. Sommige sielkundiges, veral in Brittanje, diagnoseer psigopatie reeds op 25.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Psigopate se karaktertrekke

Cleckley het etlike psigopatiese karaktertrekke geïdentifiseer. Daardie sjarme, wat oppervlakkig is. Die psigopaat is onbetroubaar, oneerlik en onopreg. Hy’t nie delusies, neuroses of irrasionale denke nie. Hy’s nie senuweeagtig nie. Is onemosioneel. Het geen berou of skaamte nie. Sy gedrag is antisosiaal. Hy’s promisku met baie korttermynverhoudings.

Hare wys op nog trekke: glad met die tong, ’n grootse sin van eiewaarde, patologiese leuenaar, aanvaar nie verantwoordelikheid vir sy dade nie, het ’n behoefte aan stimulasie omdat hy geneig is om verveeld te wees, is onverantwoordelik en impulsief, het ’n parasitiese leefstyl.

Hy teer op jou, hetsy vir geld, blyplek of seks.

Die psigopaat kan ’n buurman, vriend of familielid wees wie se gedrag jy “fassinerend, verwarrend of afstootlik” vind, sê Paul Babiak en Robert Hare in Snakes in Suits.

Hulle maak meer amok, skep “meer ongelukkigheid en meer verwarring by die publiek” as mense met álle ander psigiatriese toestande saam, sê Hare.

Hulle buit die vertroue en ondersteuning van vriende en familie uit. Doelgerig, eiegeregtig, selfsugtig, gewetenloos, meedoënloos. Sonder empatie of berou.

“Psigopate,” skryf Hare in Without Conscience, “is sosiale roofdiere wat sjarme gebruik, manipuleer en meedoënloos hul weg deur die lewe ploeg, terwyl hulle ’n wye spoor van gebroke harte, verpletterde verwagtinge en leë beursies agterlaat. Met ’n totale gebrek aan gewete en gevoelens vir ander vat hulle selfsugtig wat hulle wil hê en doen soos hulle wil, verbreek sosiale norme en verwagtinge sonder die geringste gevoel van skuld of berou.”

Die Harvard-sielkundige Martha Stout sê in The Sociopath Next Door die skade wat psigopate aanrig, is diep en langdurig, dikwels tragies en “ontstellend algemeen”.

En hulle is onsigbaar, bedoelende ons herken hulle nie. Gelukkig hoef jy nie die psigopaat te kan “diagnoseer” nie. Solank jy kan agterkom: Iets is verkeerd. Hierdie ou is nie lekker nie. Pasop!

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoeveel van hulle is daar?

Omdat psigopate onder die radar wegkruip, is dit nie so maklik om te bepaal hoeveel van hulle daar is nie. Daarom verskil kenners se skattings, maar dis algemeen tussen 1 en 4% van die bevolking.

As ’n syfer van 1% aanvaar word, klink dit nie juis na iets om voor te skrik nie. Maar dis 1 uit elke 100 mense. Dan klink dit skielik meer.

Op ’n doodgewone Saterdagoggend in ’n winkelsentrum loop jy maklik verby meer as 100 mense. En as dit 4% is, is dit 1 uit elke 25 mense.

En onthou, daar werk gewoonlik heelwat meer as 25 mense in jou kantoorgebou.

Maar ook: Dis ’n persentasie van die totale bevolking, nie van die mense wat ’n winkelsentrum besoek of saam met jou in dieselfde gebou werk nie. SA se bevolking middel 2014 was sowat 54 miljoen, volgens Statistieke SA.

Dan is 1% ’nduisternis mense – 540 000, wat psigopate in wording insluit (psigopatie word nie gediagnoseer by kinders onder agtien nie).

En in die sakewêreld – bestuurders en uitvoerende hoofde – is die syfer vir psigopate “veel meer” as 1%.

Op grond van wêreldbevolkingsgetalle het die neurowetenskaplike Kent Kiehl van die Universiteit van Nieu-Mexiko die som gemaak:

In 2013 was daar 29 287 500 psigopate in die wêreld. Hervey Cleckley sê bloot:

“The prevalence of this disorder is seen to be appalling.”

Kenners stem saam: Die psigopaat is oral om ons. Nes die Amerikaanse reeksmoordenaar Ted Bundy gesê het: “Ons is jul seuns, jul mans, ons is oral.”

FOTO Getty Images / Gallo Images

Narsisis of psigopaat?

Alle psigopate is narsiste, maar gelukkig is alle narsiste nie psigopate nie. Narsisme raak 1 uit 16 mense van alle ouderdomsgroepe.

Die narsis sal jy uitken aan drie hoofkenmerke:

1. ’n patroon van grandioosheid (grootsheid of meerderwaardigheid),

2. ’n behoefte aan bewondering

3. ’n gebrek aan empatie.

Hy’s ’n patologiese leuenaar, impulsief, egosentries en manipuleer jou baie subtiel. Hy’t woedeuitbarstings met geen selfinsig nie. Niks is ooit sy skuld nie. Wat hom veral gevaarlik maak, is sy reg op aanspraak (sense of entitlement). Dis waar afspraakverkragting en molestering vandaan kom: “Nee, hou op!” beteken vir die narsis niks. En die meeste vroueslaners is narsiste. Nes die psigopaat voel die narsis vir jou vere.