Dit was ’n Vrydag met weer-kaatsings van wolke, berge en kerke op water wat eindeloos ver strek, toe Silwer by die doeanehek na Macedonië vrek. Hul koppe nog in die hoë berge wat die twee Prespa-mere omring, ou woude, eilande, voetslaanpaaie, vergete dorpies, antieke kloosters . . .

In Ohrid, op die oewer van ’n tydlose meer, vra hulle rond vir ’n plaaslike mechanic. En vind Petro se werkswinkel, sommer daar in ’n stegie tussen rommel. Hy versien almal in die stad se skoeters en bootenjins. Hy lyk soos ’n Griekse filmster, met tatoeëermerke van moersleutels en vonkproppe op sy bo-arms.

Petro jaag met sy Honda-motorfiets Tessalonika toe, 350 km daarvandaan, en gaan haal die stukkende onderdeel. Sit dit in en diens Silwer en Blou sommer ook. Teen sononder is albei skoeters weer padwaardig. Hulle betaal vir die part en vra hoeveel kos die diens. Net 50 euro (sowat R810) vir sy harde werk.

Gerard Scholtz glo ’n kavalkade vrolike engele reis saam met hom en sy vrou, Anuta. Daar is elke keer ’n uitweg, dikwels sonder veel moeite.

Daai engele is besig, hoor! Oor byna drie dekades het hulle sowat 60 000 km per fiets en met hul skoeters afgelê – en dit net in Europa. Seker 70 lande besoek, lankal ophou tel. Verlede jaar het hulle so 10 000 km kafgedraf, drie maande op Frankryk, Spanje en Portugal se agterpaaie. Op ander kontinente, op ander maniere gereis. Lewensgenieters. Só sê Gerard.

In 1989 was hy “40, vet en verveeld” en wou fiks word. Dis Gerard se verduideliking op sy reisblog (https://gerardscholtz.wordpress.com). Anuta vertel hy was eintlik ’n rapsie ouer as veertig, maar dit het so mooi geallitereer. Albei is taalmense, sien, onderwysers. Hy het Afrikaans en geskiedenis gegee, sy Afrikaans en Engels. Gerard sê hy kry nou nog rillings as hy daaraan terugdink. Hy was veel langer drama-lektor en werk eerder met volwassenes. Lees jy sy blog, sien jy daar skuil ook die siel van ’n digter. Hulle het in 2000 ’n jaar lank in Korea Engels gegee, daarna drie jaar in Taiwan. Maar dit is weer ’n ander storie.

In 2008 het hulle “afgetree” en in alle erns met hul geliefde skoeters, Silwer en Blou, die langpad gevat. Dié kragtige Honda SH 125 cc-bromponies word tussen jaarlikse togte by vriende in België gestoor. Gerard – skrywer, reisiger, avonturier, vervaardiger en aanbieder vir DEKATv – is maar die entertainer en vertel stories met soveel kleur en geur, sê Anuta.

Sý vergeet dikwels belangrike detail om die verhaal in te kleur en dan moet hy oorneem. “Ons praat albei baie, maar hy méér . . .” Gerard self sê hy’t “mos nie grense nie”. In die 1980’s was hy by protes-kabaret betrokke; sy is steeds toegewy aan omgewingsbewaring.

Daar is hy op ’n foto, sy bos silwerwit hare soos ’n baken, sy hand vertroulik om haar skouers gevou. Daar is sý, hande in die lug asof sy iets seën. En dalk doen sy dit, want op die agtergrond is Silwer en Blou, medereisigers. As hulle hensop, word die reis net daar onderbreek. “Met sweet, sneeu, reën, trane en uitgebrande remskoene” het hulle al die hoogste en mooiste berg-passe in Europa kafgedraf.

Een skrikwekkende dag het die wind hulle byna van die Col du Tourmalet (2 115 m) in die Franse Pireneë gewaai. Anuta, wit van skok, snak daarna een sin uit: “Nou is ek ontsenu.” ’n Groot teleurstelling was toe hulle die hoogste geteerde pad in Europa, die Veleta-pas (3 400 m) in die Sierra Nevada naby Grenada wou uitry. Die pad was gesluit – toegesneeu. Hul rekord met skoeters is 3 422 m, die Hehuanshanpas in Taiwan. “Daardie dag toe ons byna verkluim het . . .” skryf hy op sy blog.

Dís wat uitstaan van al hul onver-geetlike ervarings: berge en bergpasse. “Die vryheid van hoogtes met hul stil suisings laat ons seker maar soos voëls of engele voel. En dan die neerdaal, die afdaal. Ons sluit die enjins af en gly van serpentina tot serpentina [haarnaalddraaie in die Balkan, soos ’n kronkelende slang] ondertoe met die wind in jou gesig. Die landskap skuif driedimensioneel verby jou soos nader berge voor verder berge inskuif. Dit is ’n onmeetlike gevoel,” vertel hy.

Motorfietsryers op hul BMW’s en Harleys en Ducati’s lag hulle gereeld slap vir die skoeters met die plastiekbokse agterop. “Hulle weet nie . . . en hulle sal nooit weet nie.” Gerard op sy blog. En Anuta vertel: “Ons sal na ’n bergkruin toe aangery kom en daar staan die Harley-manne. Hulle kyk, draai hul koppe weg, ruk dit terug en kyk wéér. So verontwaardig dat ons dieselfde passe aandurf as hul motorfietse met die kragtige enjins. In Düsseldorf wag ons om die skoeters op die trein te laai. ’n Jong ou en sy meisie kom met hul Harley daar aan, so ’n helse blink ding. Hulle staar. Wat is ons bromponies se kapasiteit? 125 cc. Hy draai na sy meisie. ‘Ons s’n is tien maal meer as dit, ons behoort dit seker te maak,’ sê hy.” Albei is aan die stertkant van sestig.

Maar ’n makliker manier van reis? Anuta frons. “Néé! In ’n boek vertel ’n Britse onderwyseres hoe sy ná haar aftrede eendag in Londen ’n toerbus sien. ‘Jy kan netsowel op ’n TV-skerm kyk,’ het sy gedink. Sedertdien het sy oral oor die wêreld met ’n fiets getoer. Ons dink gereeld aan haar woorde. ’n Bus of motor, ek voel oor albei só.”

Op daai swaar gelaaide skoeter is daar een ding wat sy vrees. Vragmotors wat teen ’n baie hoë spoed verbyskuur. “In die ou Oosblok-lande is daar dikwels nie geel strepe nie en dan kners jy op jou tande. In Roemenië was ek op my bangste. Die pad is vol slaggate en ’n dubbellengte vragmotor ry verby en swaai te gou voor my in. En ek besef ek moet die pad teen ’n baie hoë spoed verlaat . . . Ek en Blou het gelukkig regop gebly. Ons vermy grootpaaie met baie karre waar ons kan.” Op sy blog skryf Gerard oor einste Roemenië: “Ek ry al die ure agter Anuta. Sodat ek vinnig en naby kan wees as . . . En kry ek van voor af respek en bewondering vir hierdie ystervrou wat nie kla nie. Wat nie terugdeins nie. Dan sien ek sy gly in die modder. Dan sien ek sy lig haar voete op sodat die water en modder uit haar skoene kan loop. Dan sien ek haar valhelm wip as sy oor klippe gaan. Agterna sê sy: ‘Ons is miskien al oud en nie meer so fiks nie, maar wraggies, stamina, dié het ons.’”

Daguitstappies ry sy agterop Silwer. Jy sit bietjie hoër as die bestuurder en as julle ’n bergpad ry, sien jy dinge uit ’n ander hoek. Jy is egter nie in beheer van die skoeter nie, die stuurstang nie in jóú hande nie. Maar dan, soos Gerard sê, vir dié ding om te werk, moet julle in mekaar glo, die ander een vertrou. “Ons was al in helse situasies . . .”

In Slowakye is Blou se battery kapot gestamp op al die moeilike paaie. By die Honda Servis in Trencin gaan hulle uit hul pad om te help. Toe hy opkyk, sien hy Honda se engelvlerk-logo. Weer die engele. En dikwels in die gedaante van mense. Mens vergeet nie die goedheid van mense nie, skryf hy op sy blog.

In Alsace op die Duits-Franse grens is dit Blou se beurt om te knies. Die kampbestuurder, “so ’n biker, ’n loslyf-ou”, jaag met sy Harley deur die woude, Gerard agterop, om die onderdeel te gaan haal. So skuins-skuins om die draaie, 160 km/h, 80 km heen en weer.

Ná 42 jaar van getroude lewe raak jul breinritmes gesinchroniseer, werk dit sáám. Jy weet hoe die ander een gaan reageer, ken mekaar se verwagtinge, sê hy. “Sy is linkerbrein, ek regterbrein, ons vul mekaar aan. Ek is verstrooid, my kop op ’n ander plek. Sy sal my op ’n mooi-wrede manier terug aarde toe pluk.”

’n Dromer. Sý meer prakties en ’n opruimer, beaam sy. “By die Airbnb kyk ek hoe als in die kombuis werk, hy skryf sy blog. Ek sit hand by om dit te vertaal en doen die Afrikaanse taalversorging.” Haar nering is vertaalwerk.

Só ry hulle, hy voor op Silwer, sy fokus op die GPS. Sy volg, hou die padtekens dop en raak kriewelrig as sy sién hulle ry verkeerd. Wanneer hulle by ’n vulstasie uitry, kry hy maklik in die verkeerde rigting koers. Bietjie rigting-beduiweld. Dan jaag sy verby en wys. Soontoe!

Die Airbnb is ’n nuutjie, nadat hulle besef het hulle kan in die ou Oosblok- en Balkan-lande ’n woonstel huur vir dieselfde prys as kampplek. Tot so drie jaar gelede het hulle al hul kampeer-goed agterop daai skoeters gelaai: tent, opblaasmatras (swáár), slaapsak, ketel, kastrol, stoof, twee stoeltjies . . . En ’n dompelpot vir lekker koffie. Die belangrikste, maar nietemin ’n hele hoop goed. Daarsonder is die skoeters ligter en hul balans meer sekuur. Maar die vryheid, onafhanklikheid, privaatheid van kampeer, dís onvervangbaar. Dít mis hulle, nadat hulle op hul onlangse toer ’n kamer by mense aan’t huis gehuur het.

Soveel belewenisse. Hulle kies telkens ’n tema en in Roemenië was dit kloosters en ikone. ’n Ontdekking van die Ortodokse Kerk en rituele. Oeroue liturgiese ordes, wat dateer van 300-400 jaar n.C. en dieselfde gebly het. “Daar’s ’n toegewydheid, eerlikheid,” sê hy. Gisteraand weer het hulle in hul modderkleur huis op Rooiels na ’n CD van die Valaam-klooster in Rusland se dreunsang geluister.

Dis die eenvoudige, onverwagte dingetjies wat uitstaan, vertel sy. Nie die groot katedrale (“so depressing”) en museums (“ons gaan so nou en dan”) nie. “Jy kan die roete beplan, maar weet nie wat gaan opduik nie. Wonderwerke. Een of ander kunstenaar se dorpie met ’n museum waar jy kan induik.” Só was dit in 2017 ná ’n uitputtende dag – te veel mense – in Florence. Hy skryf: “Toe trek ek Silwer se petrol oop tot 80 km per uur en ons lag. Lag oor die koelte, die helder klokke wat deur die dag gelui het, die vryheid van ’n oop pad, en later oor ’n ander koelte tussen die buitewyke se olyfbome. Lag omdat dit soos ’n movie voel. “Twee oumense op ’n skoeter wat in die nag deur ’n stad jaag en lag.” * Gerard se boek, Hier gaat ons! Reise en rampe van Gerard en Anuta Scholtz, verskyn vanjaar by Hemel & See. Die keurders beskryf dit as die mees omvattende reisboek in Afrikaans nog.