Op 19 Junie is die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr en sy vrou, Janine, se babadogter, Romy-lee, gebore. In SARIE se Julie uitgawe het Steve ’n roerende brief vir haar geskryf.

FOTO Steve Hofmeyr / Facebook

Hier's sy brief:

My liefste dogter,

Ek is bang dat wat ek nou vir jou wil sê, hoegenaamd nie sin sal maak in jou lewe doer ver in die toekoms nie, Romy-lee. Dalk lees jy dié eendag in ’n kolonie op Mars. Met uncapped Wi-Fi.

Soos ek hier sit en skryf, beplan jou ma my 53ste verjaardagpartytjie. Dis hoe lank ek vir jou gewag het. Ons is van ’n nuwerige spesie. Ons lewe almal ’n bietjie langer en jou generasie sal sekerlik ook. Daarom skrik ek nie vir ’n laatlammetjie nie. Ons noem dit ’n oorstootdrie-in-beseringstyd. Daar is egter een nadeel van ’n grysbaard-pappa. Tyd.

As ek in my vaderlike onbehendigheid ’n oorlas van myself gaan maak, weet dan dit is omdat ons tydjie saam dalk ’n bietjie kort gaan wees. Ek gaan nie elke ou kan foeter wat vra of ek jou oupa is nie, maar ek gaan jou liefhê vir al die oupas wat jy nie kon geken het nie. En as ek nie meer geld het om op jou te spandeer nie, weet tog jy bly ons grootste belegging ooit. En as ek by jou matriekafskeid met ’n kierie opdaag, moet jy dankbaar wees dat dit nie met ’n haelgeweer is nie.

Jy is nou nog maar ’n bondeltjie, maar jy is reeds die vonkel in ons oog. Jou blouwit wange is soos die teëls in die Taj Mahal en jou oë dryf soos lelies in ’n groot Karoose plaasdam. Jy is vir ons die mooiste winterbaba in die wêreld. Teen dié tyd weet jy ek praat sonder ophou, al verstaan jy nie altyd alles nie.

Toemaar, vir jou ma maak ek ook nie altyd sin nie en vir die helfte van die land omtrent nooit. Maar in die klein heelal van jou pupille kan ek sien jy hoor my en jy weet dat ek dit goed bedoel. Waarvoor meer wil ’n pa onthou word as daarvoor? Vyftien jaar voordat jy gebore is, was daar ’n liedjie genaamd “Pampoen”. ’n Jongman gaan jou nog leer foxtrot daarop. En as hy ’n jintelman is, het jy reedsmy toestemming om verlief te raak. Halsoorkop. Want daar is geen ander manier nie. Maar lees darem eendag ook die woorde, want die grootste lewensles hang onsigbaar daar tussen die “af-oor-hond” en die “stukkende skoen”. Dit vertel van hoe tyd vlieg, hoe mense dit mors en hoe ons ons grootste kanse deur ons vingers laat val.

Daarom wil ek hê jy moet lewe asof elke dag jou laaste is. Wees impulsief soos jou pa en leer om te multitask soos jou ma, sodat jou arms sal oorloop van geleenthede. Jou ma dink jou eerste woord sal mamma wees. Ek dink dit sal pappa wees. Maar leer dan hierdie woorde ook: asseblief, ja dankie, nee dankie, oom, tannie, ek weet nie, en ek is lief vir jou. Veral die laaste een. Al my slim planne verdwyn in die niet as jou ma dit vir my sê. Jy sal dieselfde uitwerking op ander hê as jy dit doen. Die res is sommer net goeie boeremaniere.

Ag, ek wens jou ontmoeting met hierdie wêreld was nie die gate en hobbels in Midrand nie. Maar dan is dit my werk as pa om jou welkom te heet op ’n plek wat ten beste ’n bumpy ride kan wees. En al kan ek jou valle nie keer nie, sal ek daar wees om jou af te stof. Oorgee is nooit ’n opsie nie en vorentoe-aangee is ’n Stormers-ding. Maar aangee en uitdeel is altyd goeie praktyk.

Leef vir nou, en vir die toekoms, maar gepantser met die rykdom van lesse uit die verlede. Vertroetel jou erfenis en maak seker jou monumente kry staanplek tussen al die ander s’n. Sing en sing skaamteloos hard. Onthou, noot hou was nog nooit rêrig ’n voorwaarde vir vreugde nie. Solank jou kompasnaald van egte staal is, sal jou noord die ware een wees. Daar staan ’n Skepper wat wink aan die einde van dit alles, Romy-lee. Beweeg in daardie rigting en ons sal altyd saam wees.

Pappa

FOTO Steve Hofmeyr / Facebook