Hulle is elke ma en pa se nagmerrie . . . En hulle breek ons harte, maar dit bly maar eenmaal ’n feit: ’n stoutseun het dieselfde aantrekkingskrag as ’n romerige sjokolade wanneer jy op dieet is. Jy wéét dis nie goed vir jou nie en ja, juis om dié rede kies jy hom.

Hoekom hou ons van stoutseuns? Om uit te vind klik hier.

FOTO Toa Heftiba FOTO Toa Heftiba

Het jy geweet stoutseuns het meestal sekere name? Die webwerf First To Know het ’n peiling gedoen oor die algemeenste name vir stoutseuns. Hier is die lys:

15. Matthew

14. Tommy

13. Eric

12. Ryan

11. Scott

10. Michael

9. Brandon

8. Bradley

7. Frank

6. Travis

5. Tyler

4. Adam

3. Jeff

2. Mark

1. Nick

Bog of in die kol? Hierdie name verklap dalk baie.

Hoekom hou ons so baie van stoutseuns?

“Vroue het nog altyd van stoute ouens gehou. Dis niks nuuts nie. Dink aan Marlon Brando, James Dean. Hulle is net eenvoudig fassinerend. Ten spyte daarvan dat ons dikwels nadat ons met hulle deurmekaar geraak het, spyt is. Ja, teen die tyd dat hy sy ware kleure begin wys. Dikwels is dié ouens selfgesentreerd, manipulerend, reeks-verneukers . . .’’ sê Marelize Swart, seksuoloog van Kaapstad (en ook die gesondheidswebtuiste Health 24).

Ons almal onthou nog hoe die aktrise Sandra Bullock haar gewese man, stoutseun-motorfietsryer Jesse James, in haar Oscar-toespraak (sy het dit gewen vir beste aktrise in The Blind Side, in 2010) bedank het vir sy ondersteuning. Dit was een van die grootste celeb-verneukerye nog – dié bad boy het haar toe glo met verskeie vroue verneuk en Sandra was salig onbewus daarvan.

Vroue wat vir stoutseuns val, het dikwels nie ’n goeie verhouding met hul pa gehad toe hulle klein was nie, meen Marelize. “Hulle voel gewoonlik minderwaardig en is daarvan oortuig dat hul pa nie vir hulle lief was nie. Stoutseuns, wat hulle nie goed laat voel nie, laat hulle dus voel soos in hul kinderjare – normaal. Iets waarmee hulle kan identifiseer.’’

FOTO Unsplash / Frank Marino

Larissa Ernst, ’n sielkundige van Kaapstad, reken party vroue is oordrewe kwesbaar en party mans het weer ’n oordrewe manlike gevoel en dié tipes trek mekaar soos magnete aan. “Dít veroorsaak dikwels dat vroue vir ‘baddies’ val.’’

“Vroue hou van ’n lekker uitdaging. Hulle vind die sterk, macho man met die innerlike selfvertroue onweerstaanbaar en wil hom besit – óf tem. En dit is ’n avontuur en adrenalien-sensasie om iets teen die samelewing (ouerhuis) se norme te doen. Al is dit net vir ’n wyle. Dis prettig. Dink aan Cyndi Lauper se liedjie ‘Girls Just Want to Have Fun’. Goeie meisies word dikwels geleer om te konformeer, te trou, kinders te kry – tog net ’n goeie man te kies. Daar is soveel reëls. Die bad guy se aantrekkingskrag is dus dat hy oënskynlik meer vryheid bied omdat hy hom aan niks of niemand steur nie,’’ sê Marelize.

Die uiteinde van dié verhoudings is gewoonlik tragies. Wanneer hy jou verneuk, verlaat of uiteindelik sleg behandel, is jy verlate en wanhopig. “Onthou net, hulle verander nie sommer nie – tensy hulle regtig wil. En voor jy jou oë uitvee, is jy weer die ander vrou wat vasgevang is in hul magiese aantrekkingskrag,’’ maan Marelize.