Waar was jy toe jy die nuus hoor dat Osama bin Laden deur Amerikaanse soldate geskiet is?

Ek was in Kaboel, die hoofstad van Afganistan.

Hoe het die lewe in Kaboel die afgelope paar dae verander?

Sedert die gebeure is daar heelwat aanvalsdreigemente ontvang, wat veroorsaak het dat die meeste Westerse mense aangeraai word om nie rond te beweeg nie en eerder in hul huise te bly. Sekuriteit en veiligheid het skielik prioriteit geword.  

Tog was dit stil, met ’n paar betogings deur Afgane wat protesteer teen landgenote wat met lede van die Taliban sake doen.

Hoe beïnvloed die gebeure die daaglikse doen en late van jou as buitelander in Afganistan?

Die meeste van ons [Westerlinge] is taamlik ingerig om vanuit ons kamers te werk, alhoewel heelwat operasionele take opsygesit moet word omdat ons nie vrylik kan rondloop nie. Vir my gaan sake ongeveer 90% normaal aan en ek moet improviseer met wat nou beskikbaar is. Internet is natuurlik van onskatbare waarde in dié situasie.

Oorweeg jy dit om terug te kom SA toe?

Indien die situasie tot so ‘n mate vererger dat my lewe in gevaar is, sal ek beslis terug kom SA toe.

Vermoed jy die oorlog gaan nou beëindig word, of dink jy dit sal net al hoe erger word?

Ek glo nie dat Al-Kaïda enigsins gaan verander met die dood van een leier nie. Al was hy die stigter, is daar sprake dat hy nie meer betrokke was by die beheer van die daaglikse operasionele gebeure nie.  

Die Al-Kaïda-netwerke en affiliasies is so wyd verspreid en het reeds die dood van talle leiers oorleef.  
Die Islamitiese militante in Pakistan is ook steeds ‘n groot bedreiging en die wêreld kan beslis nie agteroor sit en ontspan nie.  

Dink jy Amerika het die regte ding gedoen deur Bin Laden dood te skiet?

Dit is maar ’n persoonlike mening.  Ek voel indien hulle hom lewendig gevange geneem het, sou dit meer impak gehad het op die Al-Kaïda-netwerk. Soos dit nou is, is baie mense skepties of dit wel hy was, omdat hulle ter see van die lyk ontslae geraak het en die Amerikaanse regering besluit het om nie foto’s van die lyk te publiseer nie.

Hoe voel jy oor alles?

Dit is vir my ’n groot deurbraak dat die persoon wat vir soveel moorde verantwoordelik is, tot niet is, maar dit maak my tog bekommerd oor die toekoms hier. Iewers gaan iemand wraak neem op sy dood en dan is dit weer onskuldige mense wat gaan sterf.