Dis lankal slaaptyd - maar Lana Pike sit kiertsregop in haar bed met haar skootrekenaar. Sy maai buiteruimtelike wesens af. Lana is ma van vyf en het ’n konsultant-firma. Sy was tot onlangs bemarkingshoof van Ster-Kinekor Games in Johannesburg. Sulke speletjies is haar ontspanning. Goeie stresontlading, sê sy. En dis toenemend deel van grootmense se vermaak, nie net tieners s’n nie. “Ek het kleintyd met bordspeletjies begin. As die gogga jou dán byt, gaan jy altyd speel,” vertel Lana. Solank jy ’n balans hou. Dis ook wat sy haar kinders (tussen 12 en 18) leer. Daar’s reëls: Geen aktiwiteite wat ’n skerm behels voor sononder nie. En speletjies se ouderdomsperk word streng nagekom.

Speletjies as terapie

  • Roxxi, die hoofkarakter in Re-Mission, is gewapen met ’n chemoblaster. Dis ontwikkel om kinders te help om kanker beter te hanteer. Jy gaan op ’n tog deur jou liggaam en maai kankerselle af.
  • In Second Life is ’n private eiland, Brigadoon, waar net mense met Asperger-sindroom en outisme toegelaat word. Hulle kan oefen om te sosialiseer, wat vir hulle moeilik in die werklike lewe is.
  • Nintendo se Brain Training is gegrond op navorsing met Alzheimer- en demensie-pasiënte. Jy bepaal hoe oud jou brein is en kan dié ouderdom dan met maklike oefeninge verlaag.
  • Die Amerikaanse weermag gebruik speletjies wat sig, geluide en vibrasies kombineer om soldate met post-traumatiese stres te behandel (Virtual Reality Therapy).
  • Cyber Learning se Smartbrain-stelsel is gemik op mense met breinbeserings, aandagafleibaarheidsindroom en leerprobleme. Dit steun op Nasa-tegnologie waarmee vlieëniers geleer word om op lang vlugte wakker en in noodsituasies kalm te bly.

Bronne: www.ioltechnology.co.za, http://news.cnet.com, www.brainage.com, www.smartbraingames.com

Baie mense vereenselwig nog konsole- (of video-) en rekenaarspeletjies met asosiale tieners en ’n gebrek aan vars lug en oefening. Vergeet van dié stereotipe, sê die Amerikaner Mark Penn in sy boek Microtrends: The Small Forces Behind Tomorrow’s Big Changes (Twelve Publishers, 2007). Speletjies het ’n reuse-tydverdryf vir volwassenes geword. Dis groter as Hollywood-flieks wat die markwaarde en verkoop van produkte betref, beaam Raymond de Villiers, uitvoerende hoof van Wisdom Games in Kaapstad, wat speletjies vir die korporatiewe mark ontwikkel.

Dit het verlede jaar in Amerika meer geld as die musiekbedryf ingeoes, het John Schappert, ’n uitvoerende bestuurder van Microsoft, vroeër vanjaar by die opening van die Game Developers Conference in San Francisco gesê. Ook plaaslik groei die mark vir speletjies en hul konsoles (soos Xbox 360, PlayStation en Nintendo Wii), sê Roger Carbonell van GfK Marketing Services in Johannesburg, wat marknavorsing oor kleinhandelverkope doen. Dit terwyl ander luukse items (soos klanktoerusting en groot kombuisware) die ekonomiese wurggreep voel.

Die statistieke

  • Amerikaanse spelers se gemiddelde ouderdom is 33. Daar is nie SA statistieke nie. Volgens Jana Pike van Ster-Kinekor Games is hul grootste teikenmark tussen 18 en 35 jaar.
  • Die vrouemark groei wêreldwyd en is sowat 30% van die Amerikaanse mark. (Volgens Microtrends.)
  • In Amerika is ’n derde van spelers jonger as 18. Chris Gatherer van Electronic Arts in Johannesburg, wat speletjies versprei, reken plaaslik is sowat die helfte van die spelers onder 18. Volgens Roger Carbonell van GfK Marketing Services het sowat 8% (of 11,4 miljoen) van plaaslike huishoudings nie-draagbare speletjie-konsoles. (Dit sluit nie rekenaarspeletjies in nie.)
  • In Amerika het die speletjiebedryf van 2002 tot 2007 met 28,4% en rolprente met 1,8% gegroei. (www.jeffnolan.com)

Videospeletjies se pryse het boonop gestyg - die duurste kos nou sowat R700, teenoor sowat R500 verlede jaar. Mense van net oor die 30 is die eerste geslag wat met rekenaars grootgeword het, skryf Mark Penn. En dis ’n manier vir hulle om ’n nouer band met hul kinders te sluit. Die vermaak-sagtewarebedryf gee toenemend erkenning aan dié volwasse gehoor.

Mense vereenselwig sulke speletjies dikwels met geweld: “Gewere, Gote en Grand Theft Auto,” soos Mark dit stel. Maar daar is ál meer lewensgeoriënteerde speletjies soos The Sims, een van die gewildstes ter wêreld. Veral vroue hou daarvan. Die Wii-konsole is ook gewild onder vroue. Jy gebruik dit vir ’n verskeidenheid oefeninge (soos joga) en sportsoorte (soos tennis). Bejaardes speel rolbal, wat hulle dalk nie meer met gemak in die werklike lewe kan doen nie.

Vroue van 35 tot 40 wat “informele” speletjies speel, is trouens die vinnigste groeiende groep in die speletjie-gemeenskap, sê Raymond. Dis eenvoudig, goedkoop, het basiese reëls en vra nie baie tyd en toewyding nie. Voorbeelde: Buzz!, Eyetoy, Fit, Guitar Hero, Highschool Musical, Singstar en The Sims.

Rekenaar- en videospeletjies is geslag-neutraal. Vroue wat op die rugbyveld pap geloop sal word, kan mans met ’n rugby-speletjie ore aansit. Sowat 60% van manlike spelers het boonop vroulike avatars (karakters of personas van jou keuse waarmee jy in die virtuele wêreld kan rondloop). Dit gee hulle ’n strategiese voordeel: Vroue-personas met ’n bietjie klere kry meer aandag van manlike spelers en word met virtuele geskenke soos swaarde en wapenrusting oorlaai, sê hy.

Speletjies is ook nie alles net ligte vermaak nie. Dit word bv. ook gebruik om uitgerekte en dikwels angswekkende mediese behandelings draagliker vir kinders te maak. Maatskappye gebruik dit ál meer vir opleiding. In Amerika help dit brandweermanne vir biochemiese rampe en die weermag vir veldslae voorberei. Amerikaanse soldate leer met die speletjie Tactical Iraqi om in die vreemde oor die weg te kom - met ’n klompie Arabiese frases, kultureel relevante gebare en taboes.

Volgens Raymond gebruik 70% van groot Amerikaanse maatskappye speletjies vir opleiding. Hy weet nie van enige Suid-Afrikaanse maatskappy wat dit reeds doen nie, maar sy maatskappy, Wisdom Games, onderhandel met verskeie sakeondernemings wat dit waarskynlik binne die volgende agttien maande gaan inspan. Hy reken maatskappye kan só by jong werknemers aanklank vind. Dis ín om te speel!

*Kontak Raymond by 082 788 5743, of besoek sy webblad www.wisdomgames.co.za

Die toekoms

Japannese navorsers het tegnologie ontwikkel waarmee jy Second Life avatars se bewegings kan beheer sonder om ’n spier te verroer. ’n Kopstuk met elektrodes meet elektriese impulse in dié deel van jou brein wat betrokke is by die beplanning, uitvoer en beheer van beweging. Jý verbeel jou net jou avatar voer sekere bewegings uit. En siedaar!

Sulke tegnologie kan in die toekoms baie beteken vir mense wat liggaamlik gestrem is. Met die BrainGate-stelsel kan kwadrupleë bv. direk met die rekenaar kommunikeer, sonder ’n sleutelbord of muis. Jy kan e-posse stuur, surf en rekenaarspeletjies speel deur net aan die opeenvolgende handelinge te dink. (Dit word nog net vir navorsing gebruik.) Navorsers sê in die toekoms sal liggaamlik gestremdes dalk ’n rolstoel of kunsbeen kan laat beweeg deur bloot daaraan te dink.

PG

In Suid-Afrika word video- en rekenaarspeletjie deur die Wet op Rolprente en Publikasies gereguleer.

A: Vir alle ouderdomme. PG: Ouerleiding nodig. Onderskeidelik 13 M en 10 M: Vir kinders van dié ouderdom of ouer. Maar dit bevat ook opvoedkundige of vermaaklikheidswaarde vir jonger kinders, mits dit met ouerleiding gepaard gaan. Onderskeidelik 10, 13, 16, 18: Vir kinders van dié ouderdom en ouer. (Bron: Suid-Afrikaanse Rolprent- en Publikasieraad)

En nou: e-sport!

In Suid-Afrika kan jy sedert 2006 nasionale kleure in rekenaarspeletjies verwerf - die  eerste land wat dit toeken. Dit word deur die plaaslike Olimpiese komitee erken, maar is nie ’n Olimpiese sport nie. In Suid-Korea is dit só ’n groot sport dat twee TV-kanale daarvoor beskikbaar is.

Dis die domein van die “ernstige” speler wat hom toespits op ingewikkelde strategie-speletjies. (Soos Age of Empires en Heroes of Might and Magic). ’n Speler (32) wat homself “OneGamer” noem, sê sulke speletjies daag jou uit omdat jy takties moet dink. “Dis ’n stokperdjie - en ek ontmoet só baie vriende.”

Natan Olivier (16) van Roodepoort is baie sportief en sosiaal. As hy sy brein wil rek, speel hy strategie-speletjies soos Imperial Glory, Medieval Total War en Rome Total War. Dis geskiedkundig outentiek, ’n belangstelling. “Dit het my geleer om breër te dink.”

Daar is aanlyn-toernooie waar mense van oor die land aan ’n netwerk gekoppel is. Ander vind weer op een plek, soos in ’n saal, plaas.

rAge, ’n speletjie-en-tegnologie-konferensie, is vanjaar die sesde keer in Johannesburg gehou - sowat 1 800 spelers het drie dae lank aaneen ’n verskeidenheid speletjies gespeel.