Wonder jy wat op jou troue se spyskaart moet wees? Hier's die top-trends vir troues in 2017, volgens Vogue.

Daar is ’n skuif terug na meer formele, glansryke troues eerder as die informeler geleenthede wat die laaste jare gewild was, en hierdie tendens word natuurlik deur die spyskaart weerspieël.

1. Vingerhappies vervang die buffet

Die tradisionele groot buffetete word vervang deur kleiner kosstasies waar elegante vingerhappies voorgesit word. Bruidspare kan hulle gunsteling-geregte of -restaurante as inspirasie gebruik en ’n verskeidenheid tapas voorsit.

2. Totsiens, landelike sjarme

Hallo, gesofistikeerde styl! Spyskaarte op swartborde, kos op snyplanke, oorgroot slaaibakke en drankies in blikkies staan eers weer opsy. Paartjies wil toenemend ’n driegang-maaltyd op ’n "skoon", mooi gedekte tafel geniet.

3. Nee dankie vir pons

Jenewer met roosmaryn, asseblief! Drankies is nie meer net daar om die dors te les nie, dis deesdae ook ’n belangrike deel van die spyskaartbeplanning. Gesofistikeerde skemerkelkies word gemeng met kruie soos roosmaryn en ment, dikwels by drankstasies waar gaste hulself kan help.